Stellenbosch PSO hou Aardedag op Instagram

Een van die Universiteit Stellenbosch (US) se Privaat Studente Organisasies (PSO) het vanjaar die 50ste Aardedag via ’n aanlyn-byeenkoms op Instagram gevier. 

Sasha McGhee, volhoubaarheidsaktivis en huiskomitee-lid van die PSO Venustia, het op 22 April ’n regstreekse onderhoud op Instagram gevoer met Axl Maas, volhoubaarheidsaktivis en medestigter van die plastiekvrye groente-tuisafleweringsdiens op Stellenbosch, Down to Earth.  

Volgens Earth Day Network se webtuiste is meer as 1 600 soortgelyke aanlyn-byeenkomste onder die 2020 Aardedag tema, “Climate action”, gehou.

EarthDay2020 (1) PSO

INFOGRAFIKA: Jenna Lemmer

“Die planeet kry [nóú] kans om te rus omdat die meeste industrieë en vervoerkettings tot stilstand gekom het. Die aarde kan vir die eerste keer in ’n lang tyd weer asemhaal,” het Maas aan MatieMedia gesê. 

In Simonstown, Kaapstad, floreer die pikkewynbevolking en wandel hulle in die dorp se leë strate rond, terwyl inwoners ingeperk is, het McGhee gesê. 

Volgens Gustav Visser, ’n professor van die Departement Geografie en Omgewingstudies aan die Universiteit Stellenbosch, dra die afname in lug- en padreise weens die Covid-19 pandemie by tot verlaagde koolstofvrystellings en verminderde lugbesoedeling. 

“Aan die ander kant word enkelgebruik-plastiekprodukte tydens die pandemie méér gebruik, omdat herbruikbare koffiekoppies vir higiëniese redes nie deur koffiewinkels aanvaar word nie,” het McGhee gesê. 

Die gebruik van lateks-handskoene produseer ook onnodige afval tydens die pandemie, het Maas gesê. Hy moedig mense aan om eerder hul hande te was, as om kort-kort ’n nuwe paar handskoene winkels toe te dra.

“Enkelgebruik-produkte soos maskers en lateks-handskoene is dodelik wanneer dit in die oseaan en watersisteme beland,” het Caitlin Leatherby, voorsitter van die studente-volhoubaarheidsvereniging, EcoMaties, gesê.

Die toerismebedryf, wat baie bewaringsprojekte befonds en werksgeleenthede in natuurreservate skep, word egter deur die pandemie benadeel, het Visser gesê. 

“As die plaaslike gemeenskappe hul werk verloor en nie meer kos kan koop nie, is die kanse groter dat hulle uit desperaatheid die natuurlike omgewing vir korttermyn gewin sal uitbuit – deur byvoorbeeld fauna en flora te stroop vir die gebruik van voedsel,” het Visser gesê.

 

, ,