Woordfees: ‘Albatros’ breek stiltes en laat pyn praat

Teater: Albatros 

5 Oktober 12:00

Adam Small Laboratorium

Daar is min dinge so onheilspellend soos die stiltes tussen mense wat móét praat, maar nie kan nie. 
Albatros, geskryf en vervaardig deur Louw Venter, ontbloot hierdie stiltes in hul ruuste vorm− ʼn pa en sy seun wat by mekaar verby leef, vasgevang in jare se trauma wat soos ’n donker wolk oor hul verhouding hang.

Onder Tara Notcutt se regie word die verhouding tussen pa en seun op die verhoog tot lewe gebring in Albatros. FOTO: Verskaf/Gys Loubser

Stiltes spreek boekdele

Venter, bekend vir sy TV-rolle in Die Byl en Hotel, betree in Albatros ’n ander emosionele landskap. Hy verskyn as Benjamin, ’n pa wat eenvoudig nie weet hoe om met sy seun, Abel, te praat nie. Benjamin is ’n karakter vasgevang in sy eie tekortkominge, gevorm deur die stilswye van die Afrikaner-kultuur. 

Ben Albertyn se vertolking van Abel steel egter die kollig. Albertyn gee aan sy karakter ’n kwesbaarheid wat sterk kontrasteer met sy pa se stoïese geaardheid. Dit is veral wanneer Abel uiteindelik sy pa konfronteer oor die spoke uit hul gedeelde verlede dat Albertyn se talent werklik skitter. 

Tara Notcutt se regie verdien besondere lof. Bekend vir haar werk in produksies soos The Three Little Pigs en …miskien, toon sy weer haar vernuf in Albatros. In die stuk vertel Notcutt komplekse stories met ’n minimalistiese stel en teks. Haar slim gebruik van ruimte skep in Albatros ’n tasbare emosionele spanning tussen Benjamin en Abel.

Benjamin (Louw Venter) is lief vir houtwerk en probeer sy seun betrek by sy nuutste projek – die bou van ’n skip genaamd Albatros. FOTO: Verskaf/Gys Loubser

Trauma se erflating

Wat hierdie produksie besonders maak, is die beligting en stelontwerp. Albatros se beligting, deur Wolf Britz, versterk die onoorbrugbare leemtes in Benjamin en Abel se verhouding. Benjamin se warm houtwerkkamer van die hede kontrasteer met die kil, kliniese lig van ’n hospitaal uit die karakters se verlede. 

Die saagsels wat stadig maar seker vanaf die houtwerkkamer die hospitaal binnegaan, is ’n visuele simbool van trauma wat oor tyd heen insypel − ’n briljante beeld van hoe die hede by die verlede aanklank vind.

Abel (Ben Albertyn) se emosionele konfrontasie met sy pa bring jare se ongeuiterde trauma na die oppervlak in Albatros. FOTO: Verskaf/Gys Loubser

Hoewel Albatros temas soos depressie en alkoholisme aanraak, voel die ondersoek na die gevolge van hierdie kwessies oppervlakkig. Venter se spel is soms eentonig, maar dra by tot die rigiede steriotipe van die Afrikaanse pa. 

Albatros daag die gehoor uit om self gapings te interpreteer en die seer in die stiltes te hoor. Hierdie toneelstuk bly jou lank by nadat jy die teater verlaat en dwing ’n mens om na te dink oor die manier waarop mans, vaders en seuns kies om te kommunikeer − of om kommunikasie uit te stel. 

, ,