Die Suid-Afrikaanse alkoholbedryf maan dat die huidige verbod op die verkoop van alkohol die hele waardeketting knou.
Die Suid-Afrikaanse alkoholbedryf, en die menige besighede in die waardeketting wat met die bedryf gepaardgaan, is besig om ernstige verliese te ly wat groot nagevolge vir die land kan beteken, het Jolene Henn, bestuurder van korporatiewe sake van Distell SA, gesê.
Die wynbedryf ervaar tans op uitvoervlak, verliese van ongeveer R175 miljoen per week en meer as R250 miljoen per week aan plaaslike verkope, het Maryna Callow, kommunikasiebestuurder by Wines of Suid-Afrika (WOSA) – ʼn wynbedryfsliggam – gesê.
Hierdie verliese kom na ʼn 21 dae lange grendelstaat wat deur President Cyril Ramaphosa op 26 Maart om middernag ingestel is in die stryd teen Covid-19 én die onlangse aankondiging dat die grendelstaat vir ʼn verdere twee weke verleng is (tot einde April). Slegs noodsaaklike besighede word toegelaat om tydens hierdie tydperk handel te dryf en alkohol val nie onder hierdie kategorie nie. Alle nie-noodsaaklike besighede moes hul deure sluit.
Die wynbedryfsliggaam, Vinpro, het gesê dat die bedryf daartoe verbind is om die regering se besluit te ondersteun. “Die kwessie om egter nie onder die grendelstaat handel te kan dryf nie, is ʼn wesenlike risiko vir die bedryf,” het Wanda Augustyn, media- en kommunikasiebestuurder van Vinpro, gesê. Sy het gemaan dat die finansiële impak en die impak op mense se lewens, groot kan wees.
Volgens Callow kan die grendelstaat uiteindelik daartoe lei dat baie produsente hulle deure permanent sal moet sluit, omdat hulle bloot nie kan voortgaan met hul besighede sonder om produkte te kan verkoop nie.
“Sowat ʼn derde van hulle [wynprodusente] werk tans teen ʼn verlies,” het Callow gesê.
Nagevolge vir ganse waardeketting
Die alkoholverbod het ook op menige individue en besighede in die waardeketting ʼn effek, het Henn gesê. “Die boere wat druiwe en appels (vir ciders) pluk se besigheid word ook beïnvloed, want alkoholmaatskappye gaan nie hierdie bestanddele aankoop as hulle nie mag produseer nie,” het Henn gesê.
Volgens Henn, word besighede wat etikette druk en bottels en blikkies vervaardig ook geraak. “Die grootste koper van blikkies in Suid-Afrika, is byvoorbeeld bier. So as jy dit nie kan vervaardig nie, gaan jy nie blikkies aankoop nie,” het Henn gesê.
Die glasvervaardigingsondernemings word eweneens geraak. Besighede soos Consol en Nampak, wat groot glasvervaardigers is, word ook in hierdie tydperk geknou, omdat die alkoholbedryf ook een van die grootste aankopers van glasbottels is, het Henn gesê.
Volgens Sam Lambson, ’n student en die stigter en eienaar van die wynonderneming Minimalist Wines, word die gasvryheidsektor in Suid-Afrika die swaarste getref deur die grendelstaat. Dit sluit in diegene wat kroeë, klubs of restaurante besit of in hierdie bedryf werk en dus tans werkloos is.
“Drankwinkels, en gelisensieërde tavernes, waarvan daar ongeveer 50 000 in Suid-Afrika is, en waarvan die meeste vanuit die eienaar se huis bedryf word, maak nou geen geld nie en meeste taverne–eienaars maak staat op daardie bron van inkomste,” het Henn gesê.
Gevolge vir drankwinkels en wynplase
Die besturende direkteur van Distell SA, Wim Buhrmann, het aan MatieMedia gesê dat hulle hul verantwoordelikheid om alkoholskade te verminder baie ernstig opneem. Distell het ʼn gebalanseerde en objektiewe benadering ingeneem om die regering se pogings te ondersteun en sodoende die verspreiding van Covid-19 te bekamp, selfs al kom dit met ʼn groot koste vir hulself, het Buhrmann gesê.
Volgens Elsabie Bezuidenhout, eienaar van Vredenheim – ʼn wynplaas in Stellenbosch – kan hulle nie hul 18 werknemers betaal vir hierdie tydperk nie. “Ons het hulle almal op onbetaalde verlof gesit, en hoop om van die staatsubsidies gebruik te kan maak om geld by hulle uit te kry,” het Bezuidenhout gesê.
Lambson, van Minimalist Wines, het vertel dat sy besigheid nie so erg geraak word nie, omdat dit nog in die beginfase is en meer staatmaak op uitvoere. “Ek het egter al baie negatiewe stories gehoor van ander besighede wat nie kan bekostig om hul verskaffers (van druiwe) te betaal nie. Baie mense word selfs afgedank, omdat wynbesighede eenvoudig net nie kan funksioneer sonder om produkte te kan verkoop nie,” het Lambson gesê.
Die eienaar van Paul Roos Tops, Danie Strydom, het aan MatieMedia gesê die groot hoeveelhede drankverkope in die laaste week voordat die grendelstaat ingestel is, het die verliese gedurende die grendelstaat ’n bietjie geneutraliseer. “Dit kom nou egter nader aan die tyd wat ons ons verskaffers moet betaal, en die kontantvloei kom nou geweldig onder druk, want ons moet salarisse en huur ook betaal,” het Strydom gesê.
Volgens Buhrmann, het Distell gehoop dat alkoholgebruik toegelaat sou word in beheerde omgewings. Selfs indien so ʼn bestel nie sonder risiko sou wees nie, sou dit meer doeltreffend as ʼn verbodstaat wees. “Laasgenoemde lei gewoonlike daartoe dat kriminele elemente die drankbedryf oorneem met rampspoedige nagevolge vir gesondheid, die ekonomie, asook wet en orde,” het Buhrmann gesê.
Navorsing deur Research and Markets dui aan dat die Suid-Afrikaanse alkoholbedryf in 2018 ongeveer R129 miljard werd was. “In ʼn ideale wêreld, sal die regering dit as ʼn noodsaaklike produk beskou. SA is een van die enigste lande in ʼn grendelstaat waar die algemene publiek nie toegelaat word om alkohol in die drankwinkels aan te koop nie,” het Callow gesê.