Bas-rowers slaan weer toe op kanferbome

Die identiteit van drie mans wat onlangs ’n klomp kanferbome in Schroderstraat in Stellenbosch gevandaliseer het, is aan Stellenbosch Munisipaliteit bekend. Dit is volgens Stuart Grobbelaar, die woordvoerder van die munisipaliteit. 

“’n Saak sal eersdaags by die Stellenbosch polisiestasie geopen word,” het Grobbelaar gesê.

Dit is die tweede keer sedert Februarie dat die kanferbome in dié straat onder vandale deurloop en die bas van die bome gestroop word. 

Dit is volgens Torrin Theron, ’n ooggetuie van die insident. Die bome is glo op 28 Februarie die eerste keer gestroop. Die tweede insident was op 1 April, het Theron aan MatieMedia gesê.

“Hierdie probleme het in die verlede voorgekom, maar baie weinig,” het Grobbelaar per e-pos aan MatieMedia gesê.

Theron, wat die onlangse voorval in Schroderstraat gesien het, het aan MatieMedia gesê sy was op pad uit toe sy op die verdagte optrede in die straat gewaar.

kanferbome

Drie van die kanferbome in Schroderstraat is vir ’n tweede keer sedert Februarie van hul bas gestroop. FOTO: Nazley Wilschutt

“Omdat ons ook baie motorinbrake het, is ons baie oplettend van dit wat in ons buurt gebeur,” het Theron in ’n e-pos aan MatieMedia gesê.

Volgens Theron het sy ondersoek gaan instel en die twee verdagtes op heterdaad betrap. “Daar was twee mans. Een van hulle was besig om die bas van die boom af te kerf terwyl die ander een tussen die geparkeerde motors gestaan en waghou het. Toe hulle my sien het hulle hul sakke gegryp en laat spaander,” het sy gesê. 

kanferbome

Só lyk Schroderstraat waar ’n groep mans op heterdaad betrap is besig met die kerf van ’n kanferboom. FOTO: Nazley Wilschutt

Theron het hulle in die motor agternagesit, maar was te laat om hulle vas te trek. Sy het wel drie mans met twee vol goiingsakke in die rigting van die R44 sien hardloop.

Gestroop vir medisinale doeleindes

Kanferbome se bas word volgens Tristan Kruger, ’n intern in hortologie by die Universiteit Stellenbosch se botaniese tuine, vir medisinale doeleindes gestroop. “Dit word vir simptome gebruik wat soortgelyk is aan dié van ’n verkoue, soos ’n hoes en ook vir die verwydering van vismotte uit klere,” het Kruger aan MatieMedia gesê.

Natuurbewaarders definieer basstropery as die “onwettige oes van boombas vir private gebruik deur individue”, het Patricia van der Ross, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste van die Kaapstad-metro, gesê.

kanferbome

’n Inwoner van Stellenbosh was onlangs op pad uit toe sy ’n groep mans betrap waar  hulle besig was om die bas van ’n kanferboom in Schroderstraat te kerf. FOTO: Nazley Wilschutt

Volgens Van der Ross is dit nie net kanferbome wat gestroop word nie. “Bome wat meestal geraak word, is kanferbome (Cinnamomum camphora), koorsbome (Vachellia xanthophloea) en norfolkdenne (Araucaria columnaris). Norfolkdenne is ’n gewilde boom vir tuinmaak,” het sy gesê.

Kruger het gesê die stropers weet nie hoe om die bas behoorlik te oes nie. Hulle gebruik dus enige skerp voorwerp “van ’n mes tot ’n byl” om die bas te stroop. “Hulle plaas ’n ring rondom die boom en begin dan die boom so te stroop, maar die laag wat hulle verwyder ondersteun die vloei van voedingstowwe deur die boom. Die oomblik wat daardie vloei verbreek is, vrek die boom stadig,” het hy gesê.

Volgens Grobbelaar het die munisipaliteit voorsorgmaatreëls ingestel om die vandalisering van die bome te voorkom. “Ons het omheinings rondom sommige van die kleiner kanferbome opgerig en het ook in die verlede die bas van die bome geverf, wat uiteindelik nie effektief was nie,” het hy gesê.

Die stroop van die bas

Van der Ross sê munisipaliteite word aangemoedig om inisiatiewe soos die boomverfinisiatief as ’n voorsorgmaatreël aan te neem.

“Die funksie van boombas is om die interne energievervoerstelsels van die boom te beskerm. Sodra die bas verwyder is, droog hierdie stelsels uit en kan die boom nie meer homself voed nie,” het Van der Ross gesê.

Van der Ross het inwoners aangemoedig om enige voorvalle van boombasdiefstal aan te meld.

, , ,