Bekostigbare, gedehidreerde maaltye kan studente help met voedselsekerheid

Om studente te help met die uitdagings van stygende voedselpryse en tydsbeperkings, word gedehidreerde maaltye nou by die Maties Coffee Hub in die Universiteit Stellenbosch (US) se Neelsie Studentesentrum, verkoop. 

Dit is volgens Gary Muizenheimer, direkteur van SunCom Operations, die US se kommersiële afdeling wat saam met Food Sock gewerk het om die gedehidreerde maaltye vir studente in Stellenbosch bekend te stel. 

Food Sock teiken die tersiêre mark, met die Universiteit Stellenbosch (US) as ʼn sleutelfokus, het Carl van Blerk, die stigter en direkteur van Food Sock gesê. Food Sock, in samewerking met die US, fokus daarop om bekostigbare en voedsame etes aan studente te bied, het Van Blerk gesê. FOTO: Anja van Zyl

Food Sock, in samewerking met die US, fokus daarop om bekostigbare en voedsame etes aan studente te bied, het Carl van Blerk, die stigter en direkteur van Food Sock gesê. 

“Hierdie vennootskap behels samewerking met universiteitsfasiliteite en studente-ondersteuningstrukture om maklike toegang vir studente te verseker,” het Van Blerk gesê.

“Dit stem ooreen met die universiteit se pogings om diegene te ondersteun wat kostedoeltreffende, mikro-nutriëntryke maaltye benodig terwyl hulle studeer,” het hy gesê. 

Weens die hoë lewenskoste, is dit vir baie studente ʼn uitdaging om toegang tot behoorlike, voedsame maaltye te kry, het Muizenheimer gesê.

“Die Food Sock gedehidreerde maaltye is ʼn manier om te help met die dringende uitdagings van voedselonsekerheid – en ons glo dat toegang tot voedsame maaltye ʼn fundamentele reg is,” volgens Muizenheimer. 

Een pakkie is genoeg om vier mense, of ses tot agt kinders, te voer, volgens die aanwysings op die pakkie.

A Food Sock meal after it has been cooked.

Een van die Food Sock gedehidreerde maaltye nadat dit gekook is. Een pakkie is genoeg om vier mense, of ses tot agt kinders te voer, volgens die aanwysings op die pakkie. Die bekende sjefs Francois Ferreira en Nataniël het gehelp met die ontwikkeling van die maaltye, het Carl van Blerk, die stigter en direkteur van Food Sock gesê. FOTO: Anja van Zyl

Bekende sjefs help met die ontwikkeling 

Tydens Van Blerk se ondervinding in die voedselsekerheidsbedryf, het hy opgemerk dat die meerderheid voedingsinisiatiewe op skenkings staatmaak. Dit is waar hy die idee van gedehidreerde maaltye gekry het, het Van Blerk gesê. 

“Hierdie afhanklikheid het dikwels gelei tot inkonsekwente voedingswaarde, wat hul doeltreffendheid in die bekamping van wanvoeding beperk,” het Van Blerk gesê. 

Food Sock is vir die eerste keer in George vervaardig, tydens die Covid-19 grendeltydperk, om te help met voedselsekerheid, volgens ʼn Kwêla episode wat in April 2023 verfilm is en op die Food Sock-webblad geplaas is. 

Die gedehidreerde maaltye is met behulp van oorlede sjef Francois Ferreira – wat in Mei 2023 oorlede is – en gevierde komediant, musikant en kos-entoesias, Nataniël, ontwikkel, het van Blerk gesê. 

“Sjef Francois Ferreira het ʼn deurslaggewende rol gespeel in die ontwikkeling van Food Sock Meals,” het Van Blerk gesê. “Met sy professionele kundigheid en uitgebreide netwerk van sjefs het hy verseker dat die produk smaaklik en voedsaam is, en voldoen aan hoë kulinêre standaarde wat vir almal toeganklik is.” 

“Nataniël het bygedra deur die produkte te proe en smaakverbeteringsvoorstelle te bied,” het hy gesê. 

Pieter Koen and Chef Francois Ferreira, while he is busy plating three cooked Food Sock meals.

Sjef Francois Ferreira (regs) het gehelp met die ontwikkeling van die Food Sock gedehidreerde maaltye. Hier is hy saam met Pieter Koen (links), aanbieder van die KykNET program, Kwêla, tydens die verfilming van die program in April 2023 – met die Food Sock-maaltye voor hulle. FOTO: Verskaf/Carl van Blerk

Die Food Sock maaltye is ’n week of twee voor die SU se opedag vir die eerste keer by die Matie Coffee Hub te koop, het Austain Zhanota, barista by die Maties Coffee Hub, gesê. 

“Ons wag nog vir mense om terug te kom en weer te koop, maar sover doen dit goed,” het hy gesê. 

Hy is self ʼn aanhanger van die maaltye, en het gesê dat die biryani-gereg sy gunsteling is. 

The Food Sock meals on display at the Maties Coffee Hub.

Nege verskillende soorte Food Sock-maaltye word by die Maties Coffee Hub in die Neelsie Studentesentrum verkoop, het Carl van Blerk, die stigter en direkteur van Food Sock gesê. FOTO: Anja van Zyl

Read the English version of this article here.

, , , ,