Die blonde bob-hare en rooi lippe maak haar een van die mees kenmerkende Maties op kampus. Dit, plus haar gesogte posisie as Voorsitter van die Universiteit Stellenbosch se Studenteraad (SR). Carli van Wyk (22) gesels oor die veeleisende rol as voorsitter, haar gunsteling koffie, kosbare lewenslesse en teetyd saam met Rektor en Visekanselier Professor Wim de Villiers.
Grootgeword op ’n plaas naby Rawsonville wat “eintlik net hier aan die anderkant van die berg lê”, het Van Wyk van jongs af al floreer as ’n leier. Sy het matrikuleer nie net as ‘n leerder van Hoër Meisieskool Paarl nie, maar as hoofmeisie ook.
Sy roer die Chai Lattévoor haar op die tafel in ’n bekende Ryneveldstraat-koffiewinkel en vertel glimlaggend: “Iemand het my eenkeer gevra, ‘jy hou nogal van die leierskap posisies, né?’ Dit het my geraak. Dis nie die leierskap wat my aantrek nie, dis die geleentheid om ’n verskil te maak daar waar ek is.”
Van Wyk se voete is plat op die aarde, gevestig deur haar plattelandse grootword jare. Dis duidelik in die manier hoe sy haar moedertaal praat. Met selfvertroue en trots, met ’n gemaklike rustigheid.
Die eens plaasmeisie en haar musiekjuffrou ma, ouer broer en suster moes egter van die plaas af dorp toe trek nadat Van Wyk se pa aan kanker oorlede is in haar matriekjaar.
Regte het toe haar naam geroep en haar navorsing oor goeie regsfakulteite in die land het haar gelei na Universiteit Stellenbosch (US).
“Die regsfakulteit was die hoof faktor gewees. En natuurlik ook die studente gemeenskap van die dorp. Ek dink dis iets wat Stellenbosch baie uniek maak,” vertel die vriendelike Van Wyk.
Van Wyk was vir drie jaar, van 2016 tot die einde van 2018, in Irene Dameskoshuis. Na twee jaar was sy verkies as Primaria.
“Dit was beslis ’n uitdagende termyn gewees. Ek was uitgeput teen die einde van die eerste semester,” vertel Van Wyk, “maar ek het besef dat ek nog nie klaar is om ’n verskil op kampus te maak nie.”
In die derde kwartaal van haar derde jaar het sy besluit om te staan vir SR 2018/19.
“Om doodeerlik te wees, dit was ’n rówwe tyd gewees. Ek was oorweldig met prim-verantwoordelikhede, die fasilitering van die Huiskomitee-verkiesing en die SR-verkiesing wat alles in daardie tyd gebeur het,” vertel sy.
“Maar ek het lank daaroor gedink en ek was seker dat dit die platform is waar ek wil dien, al is dit ’n uiterse uitdagende omgewing. Dit was nie ’n random besluit gewees nie.”
Die SR-verkiesingsproses is intens – dit verg baie tyd, uithouvermoë en ’n passie vir studentepolitiek. Na twee weke van daaglikse koukusse (“dit het gevoel soos ’n maraton!”) is Van Wyk verkies as lid van die SR.
“Ek het nie van die begin af gedink dat ek sal wil staan vir voorsitter nie,” vertel die 22-jarige. “Teen die einde van die verkiesing moes ek begin nadink oor waar ek myself sien in die SR en waar ek die beste bydrae kan maak. Eers tóé het ek gevoel dat ek die regte vaardighede het om as voorsitter te kan dien.”
Sy het gedurig die gesprek in ’n ander rigting probeer stuur om nie oor haarself te praat nie. Na ’n paar probeerslae vertel sy uiteindelik meer oor haar leierseienskappe en mensevaardighede.
“Ek het gedink ek sal die span kan en wil lei, nie omdat ek die meeste kennis of ervaring het nie. Intééndeel, ek het gedink ek beskik oor die regte skillsetom mense bymekaar te bring,” vertel sy uiteindelik.
Wanneer Van Wyk egter ’n geleentheid kry om oor die SR-span as ’n geheel te praat, gryp sy dit aan. “Ons is sulke diverse groep mense met verskillende vaardighede wat verskillende idees na die tafel toe bring. Dit klink dalk airy-fairy, maar dis die rede hoekom ek gestaan het vir voorsitter.”
Sy het verder uitgebrei oor die span-dinamika, hoe dit die mees onwaarskynlikste groep mense is wat nou vriende geword het deur saam te werk en soveel tyd saam te spandeer.
“Ek dink die huidige SR is ’n bevestiging dat dit nie saak maak wie jy is of waar jy vandaan kom nie, solank mense saamwerk vir die common gooddan kan ons saam regtig iets groot verrig,” vertel sy. “Op die ou einde is ons almal net mens en ons wil net ’n beter samelewing op kampus hê.”
Haar termyn as voorsitter sover was egter nie net maanskyn en rose nie. Drie lede van die SR het onverwags bedank en daar was vroeër in die jaar groot protes oor nagbusgelde wat toeneem.
“Soms is SR ’n baie ondankbare posisie, want mense verstaan nie altyd wat jy probeer doen nie. Maar dis juis wat my laat besef het wat dit eintlik beteken om ’n leier te wees,” vertel sy terwyl sy kort-kort ’n slukkie vat van haar Latté.
“Dit gaan nie oor dat dit lekker is nie, maar om te kan opstaan in die moeilike tye. Dit gaan oor die wil om ’n verskil te wil maak en só groei ’n mens as ’n leier.”
Van Wyk is ’n self-erkende koffiekenner en op kampus is sy ’n lojale MyBrew-ondersteuner.
“Ek is ook mal oor ’n lekker Deluxe koffie by De Warenmarkt. Die koffie en die atmosfeer maak dit een van my gunsteling plekke,” vertel sy.
Soms moet sy haar koffie op sy sit en tee drink – saam met die bekende US rektor en visekanselier, prof. Wim de Villiers.
“Ons het vanoggend ’n teetjie in sy kantoor gedrink,” vertel sy laggend. “In die begin was dit nogal vreemd, maar nou het ons ’n baie goeie verhouding. Hy gee regtig om oor studente en is eintlik ’n liewe mens agter die formele uiterlike.”
Van Wyk balanseer haar besige skedule met dinge wat haar gelukkig maak en nuwe energie gee.
“Ek kry my energie van mense af, so al is ek baie moeg sal ek eerder tyd maak vir vriende as om te rus. Baie van my vriende het niks te doen met studente politiek nie en ek dink dis goed. Dis nodig vir my om uit te my SR-bubblete klim na ure.”
Sy hou ook van draf en boeklees, én sy kan viool en klavier speel. “Ongelukkig het ek nie meer so baie tyd om al hierdie stokperdjies te beoefen nie, maar ek dink dis baie belangrik om na jouself te kyk en dit ook in my daaglikse beplanning in te sluit,” vertel sy.
“Ek kan nie verander hoe besig ek is nie, maar ek kan besluit waarvoor en vir wie ek tyd maak.”
Haar passie vir regte het ontwikkel in ’n passie vir politiek. “Ek sal graag my BA Regte wil voltooi en dan volgende jaar my honneurs doen in politiek,” vertel sy opgewonde.
“Ek is nog nie seker wat ek wil doen in die toekoms nie, maar ek weet dinge sal uitwerk soos dit moet. So, ek is rustig daaroor. Ek hoop om myself in die langtermyn in die politiek te bevind, spesifiek civil society en NGO’s.”