Die internasionale organisasie Club of Rome het op 5 en 6 November hul jaarlikse algemene vergadering en internasionale beraad by die Stellenbosse wynplaas Spier gehou. Die Club of Rome is in 1968 in Rome gestig en die 2019 beraad is die eerste een wat op die Afrika-vasteland plaasvind. Die organisasie se hoofkwartiere is in Winterthur, Switserland.
Suid-Afrikaanse politikus en akademikus Dr Mamphela Ramphele is tesame met Sandrine Dixson-Declève die organisasie se mede-presidente. Die organisasie beskryf hulself as ’n groep individue wat gemeenskaplike kommer oor die toekoms van die mensdom deel en daarna streef om ’n verskil te maak. Lede van die organisasie sluit in noemenswaardige wetenskaplikes, ekonome, staatsamptenare en voormalige staatshoofde. Die konferensie word aangebied in samewerking met die Universiteit Stellenbosch (US) se Instituut vir Toekomsnavorsing en die Volhoubaarheidsinstituut. Die Instituut vir Toekomsnavorsing is die enigste van sy soort in Afrika.
Hierdie jaar se konferensie het bestaan uit vier paneelgesprekke deur lede van die Club of Rome asook ander belanghebbendes.
Ramphele, saam met Dixson-Declève die eerste vroulike leiers van die Club of Rome, sê Afrika baie antieke wysheid het wat met die res van die wêreld gedeel kan word.
“Die kern van wat dit beteken om ’n inwoner van Afrika te wees, is om menslik te wees, in harmonie met die natuur, en om die menslikheid van ander te erken. Die potensiaal van Afrika om sy ryke erfenis en die jeugdige bevolking te benut om die uitdagings wat ons gesamentlike toekoms in die gesig staar aan te spreek, sal die kern van die gesprekke vorm. Deur lesse uit ons suksesse en mislukkings te deel, kan dit bydra tot die maak van beleide en implementering daarvan in die res van die wêreld,” sê Ramphele.
“Die beraad sal ’n unieke omgewing en geleentheid bied om oplossings vir die veelvuldige noodgevalle waarmee ons nou te kampe het, te ontwerp, op ‘n belangrike punt in die wêreldwye poging om die mensdom en planeet op ‘n ontwikkelingspad te lei wat inherent voordelig is vir alle lewendes spesies.”
Video: Dr. Mamphela Ramphele in gesprek met Dr. Morne Mostert, direkteur van die IFR.
Heilet Barnard, bemarkingsbestuurder van die Instituut vir Toekomsnavorsing sê Spier is gekies as gasheer vanweë die feit dat dit ’n ekologies-vriendelike landgoed is. Barnard sê ook dat by Spier is die praktyk van regeneratiewe landbou van besondere belang.
“Dit is ’n stelsel van boerderybeginsels en -praktyke wat biodiversiteit verhoog, grond verryk, waterskeidings verbeter en ekosisteemdienste verbeter,” sê sy.
Een van die kwessies op vanjaar se agenda is die klimaatskrisis. In die aanloop tot vanjaar se Verenigde Nasies (VN) Climate Action Summit het die Club of Rome ’n Planetary Emergency Plan uitgereik. In ’n persverklaring vir die Plan sê mede-president Sandrine Dixson-Decleve “met die 75ste herdenking van die stigting van die VN in 2020 het ons ’n unieke oomblik om ons verhouding met die planeet in oënskou te neem”.
Die Volhoubaarheidsinstituut het op 6 November gasheer gespeel vir ’n gala-dinee ter afsluiting van die beraad.
“Ons het die afgevaardigdes ingelig oor die werk wat ons by die Instituut doen om ’n regverdige toekoms te verseker en ook om positiewe sosiale impak en ekologiese herstel te skep deur transformatiewe leer vir alle ouderdomme,” het Amelia Pretorius, kommunikasiebestuurder van die Volhoubaarheidsinstituut gesê.