Danie: die buitestander in Reza de Wet se binnekring

Met ’n koue glasie wit wyn sit Danie Stander op sy 29ste verjaarsdag by Katjiepiering met die wêreld se kennis oor een van Suid-Afrika se mees bekroonde en gerespekteerde vroueskrywers, Reza de Wet, oor wie se werk hy vanaf 11-jarige ouderdom gaande is.

Dit blyk of die kennis wat hy van dié skrywer, wat die gesogte Hertzog-prys twee maal in ’n ry vir dieselfde medium verwerf het, glad oor sy tong rol asof hy ’n nabye vriend van De Wet was.

DSC_0527

Danie Stander gesels op sy 29ste verjaarsdag by Katjiepiering oor sy kennis van Reza de Wet se werk en haar lewe. FOTO: SZ Minnaar

Hy het haar egter nooit ontmoet nie, ten spyte van twee geleenthede, een in 2009 en die ander in 2011, waar dit vir hom moontlik sou wees. Sy klasloopverantwoordelikhede het egter beide kere in die pad hiervan gestaan.

“Ek het twee keer haar nie ontmoet nie vanweë my studies en nou maak ek my studies oor haar,” sê Stander. Hy voeg egter later by dat dit moontlik in sy voordeel tel dat hy haar nooit ontmoet het nie, aangesien dit ’n sekere afstand in sy navorsing oor haar skep.

Stander het in 2009 aan die Universiteit Stellenbosch drama begin studeer, te danke aan die Funza Lushaka-beurs. Hy meen dat De Wet se werke ’n groot indruk op sy belangstelling in drama gespeel het en grootliks daartoe bygedra het in sy keuse om drama te studeer.

Gedurende sy voorgraadse studie, was Engels een van sy gunsteling vakke. Dit het dus sy keuse vir nagraadse studie vergemaklik. Nadat hy sy honneursgraad afgehandel het, het hy dadelik oorgegaan in ’n magistergraad in Engels oor die lewe en werke van De Wet. Hy het egter sy magisterstudie ná een jaar onderbreek om sy nagraadse onderwyssertifikaat te verwerf, wat ook ’n voorvereiste van sy beurs was. Daarna het hy vir ’n jaar lank by Bloemhof as onderwyser gewerk, waartydens hy weer sy magisterstudie voortgesit het en sy magistergraad verwerf het.

In sy tweede jaar as onderwyser by Hoërskool Strand, is Stander deur een van sy dosente gekontak oor ’n befondsing-geleentheid vir sy PhD-studie. Hierdie geleentheid was deur middel van die Andre W. Mellon-stigting moontlik gemaak en die studie moes fokus op lewensskrywe en spesifiek literêre biografie. Dit is waar Stander sy navorsing oor De Wet verder geneem het.

Stander hoop om ’n boek oor die lewe en werke van De Wet te laat publiseer na afloop van sy PhD-studie.

“Die boek sal fokus op haar lewe en werke maar met klem op haar werke. Dit sal haar lewe insluit sover dit verband hou met die werke,” verduidelik hy oor die invalshoek van die boek.

Hy meen egter dat omdat dit ’n droom van hom is om ’n boek oor hierdie onderwerp te skryf, raak hy al meer gespanne daaroor, omdat sy tesis vanjaar in Augustus ingehandig moet word en die datum kom al nader.

Hy het op hierdie onderwerp besluit nadat hy soveel van De Wet se kollegas teëgekom het wat staaltjies van haar gehad het om te deel. Hy sê dat hy al met meer as 100 mense onderhoude oor De Wet gevoer het. Die Woordfees maak dit vir hom maklik om akteurs op te spoor wat saam met haar gewerk het.

DSC_0520

Stander het al sy kennis oor De Wet deur navorsing en onderhoude opgedoen omdat hy haar nooit self ontmoet het nie. FOTO: SZ Minnaar

Hy het aanvanklik nie gedink dat hierdie akteurs met hom sou wou gesels nie, aangesien hulle akteurs van statuur is en hy net ’n tesis daaroor wou skryf.

“My vermoede is dat die teater baie verganklik is en nie alle tekste word gepubliseer nie. Baie akteurs is baie gretig om te praat oor hierdie wonderlike ervarings wat hulle gehad het en as iemand dit op watter vorm ook al vaslê is dit vir hulle wonderlik.”

Nog een van Stander se gunsteling skrywers is Emily Dickinson. Hy beskryf haar versamelde werke as sy gunsteling boek en noem dat die parallelle tussen Dickenson en De Wet sterk is.

“Wat heerlik was is toe ek die kontakbesonderhede van [De Wet se] dogter opgespoor het, het ek vir haar ’n heel diplomatiese e-pos gestuur en die e-pos afgesluit met ‘ek weet hierdie hou verband met niks nie, maar ek is gaande oor Emily Dickinson en ek wonder maar net was Reza de Wet dalk ook’ en toe sê sy ‘inderdaad sy was gek oor Emily Dickinson’.”

Stander verduidelik ook dat hy verheug was om die versamelde werke van Dickinson op De Wet se boekrak te sien toe hy haar huis besoek het op een van sy menigte “navorsingsekspedisies”.

Hy noem ook dat een van sy informante gesê het dat sekere mense na De Wet as die Dickinson van Grahamstad beskryf het. Dit is hier waar De Wet haar studies afgelê het nadat sy in Bloemfontein grootgeword het.

Stander meen dat ’n vraag wat hy dikwels graag aanhoor, veral by etes wat hy bywoon en oor sy tesis gesels, is hoe dit werk dat hy sy tesis in Engels skryf oor ’n Afrikaanse skrywer.

“Dit som vir my tot ’n groot mate vir Reza op, want sy het eintlik ten volle tweetalig grootgeword alhoewel albei haar ouers Afrikaans was,” verduidelik Stander. “Haar ma en veral haar ma se familie het amper meer Engels in hul huis gepraat as Afrikaans en haar literêre-dieet was baie meer Victoriaans.”

Hy meen ook dat De Wet geen klagtes hieroor sou hê nie, maar dit eerder sou goedkeur. Hy verduidelik dat die hoofsaaklik Engels-Xhosa-milieu van Grahamstad vir De Wet bevrydend was as Afrikanerminderheid en dit is hier waar sy begin het om in Afrikaans toneelstukke te skryf.

Stander liefde vir sy studie en die akademie is duidelik wanneer hy gemaklik die verlede en hede in een sin verweef. Hy haal geskiedkundige figure op en beskryf hulle asof hulle aan tafel saam met hom sit.

Hy verduidelik dat hy nog altyd meer geïnteresseerd in die verlede as in die hede is, omdat hy “sukkel om by te hou”. (Alhoewel dit nie so blyk in gesprekvoering met hom nie.)

“Ek het gister nogal voor ’n afrolmasjien gestaan en dink ‘wat is dit van die verlede wat my so entise?’” sê Stander en verduidelik dat hy tot die gevolg gekom het dat die verlede “anders, maar dieselfde is”.

Hy meen dat daar ’n opwinding daarin lê as jy jouself in iets herken en terselfdertyd moet kopkrap en twee keer daaroor dink.

Dit sluit aan by een van die groot lesse wat hy uit sy studie van letterkunde geleer het: “Dat jy nooit seker kan wees dat jou verstaan van ’n teks of enigiets absoluut is nie en dat baie keer vervaardig of sê mense dinge waarvan hulle dink hulle in beheer is, maar hulle besef nie altyd hoe briljant of power hulle is nie.”

Stander se liefde vir die akademie dryf hom daartoe om sy droom loopbaan te beskryf as ’n dosent wat sy eie kurrikulum kan saamstel en skrywe daaroor publiseer. Hy is nou reeds ’n tutor vir eerstejaarstudente in Engels en doseer in die tweede semester twee keuse komponente aan tweedejaarstudente in Engels.

,