Deon Meyer se pad van spoorwegjoernalis tot misdaadfiksie-reus

Met 15 romans, twee kortverhaalbundels, ’n paar draaiboeke en ’n praktiese rygids vir avontuur-motorfietse agter sy naam, is dit duidelik waarom baie Deon Meyer as een van die gewildste skrywers in Afrikaans bestempel. Hy het met MatieMedia se Karla van der Merwe gesels oor sy skrywersloopbaan.

Deon Meyer

Deon Meyer se misdaadfiksie is in 27 verskillende tale beskikbaar, onder andere in Frans, Duits en Nederlands. Van dié vertalings is op boekrakke in sy huis te siene. Foto: Karla van der Merwe

Wanneer ’n mens in ’n boekwinkel staan en na die Afrikaanse fiksie-afdeling draai, maak Deon Meyer se spanningsverhale dikwels ’n hele rak vol. Na sy onlangse boek Donkerdrif draai die Bennie Griessel-reeks by agt boeke. 

Meyer se beroep as skrywer het egter met ’n baie korter verhaal in ’n 1992-uitgawe van Huisgenoot begin. 

“Dis ook nou bitter baie jare terug, maar soos wat ek dit kan onthou, was dit ’n verskriklike lekker gevoel,” sê Meyer. Hy het in daardie stadium as joernalis by die Volksblad gewerk, en later ook by die Universiteit van die Vrystaat en die tydskrif Insig.

“So, om my byline in ’n tydskrif of ’n koerant te hê, was vir my niks nuuts nie,” sê Meyer. “Maar om ’n storie wat jy self uitgedink het, aanvaar te kry, was heeltemal ’n ander ervaring. Dit was baie meer spesiaal as enige iets voor dit. Daar was iets baie magies daarrondom, want hier was ’n storietjie wat ék uitgedink het wat Huisgenoot aanvaar het.”

Dis dalk nie meer heeltemal dieselfde nie, maar dié magiese gevoel is steeds by hom wanneer een van sy boeke uitgegee word, meen Meyer. Die gevoel volg hom veral as hy internasionaal op reis is en sy boeke op die rak sien.

“As ek in die buiteland kom en ek loop in ’n boekwinkel in Duitsland of in Frankryk of in Engeland in en daar is van my boeke, dan is ek steeds in verwondering. Dit is nog steeds so half onwerklik – asof ek dit nie heeltemal glo nie,” sê Meyer. 

Deon Meyer

Sy tyd as joernalis het hom voorberei om misdaadfiksie te skryf, meen Deon Meyer. Foto: Karla van der Merwe

Om ’n beat te vang

Meyer se huis is ’n vreedsame tuiste in die hartjie van Stellenbosch. Sy vrou, Marianne Vorster-Meyer, sit by hulle eetkamertafel en skets terwyl hy gesels oor sy dae as joernalis by Volksblad

“Ek het eers baie algemeen begin soos enige appy nou maar doen. En toe het die redakteur, Hennie van Deventer, besluit hy wil vir iemand op die spoorweg-beat sit,” vertel Meyer. “Bloemfontein het baie spoorwegwerkwinkels gehad – hulle het baie van die lokomotiewe en die trokke daar herstel – so daar was ’n groot komponent van die Bloemfonteinse inwoners wat vir die spoorweg gewerk het.”

Ná ’n jaar is hy na ’n buitekantoor van die koerant in Kroonstad oorgeplaas. In retrospek noem hy dat dit vir hom ’n waardevolle ervaring en leerskool was. Daar het hy verskillende fasette van joernalistiek leer ken aangesien hy skielik alles moes dek; van politiek tot sosiaal, asook, in sy eie woorde, “liegstories”. Dit het hom ook wysgemaak oor hoe om met taal te werk.

“Dit is waar my kennis van hoe die polisie werk, begin het, want ek het elke liewe oggend by die kolonel, Koos Calitz, gaan koffie drink en die dag se misdaadnuus gekry,” onthou Meyer. “Hy het vir my stories vertel – hy was ’n groot storieverteller – van sy polisieloopbaan en dit het vir my later jare baie waarde gehad om kennis te hê van hoe polisiemanne se koppe werk. Hoe hulle dink en daardie geweldige geslote broederskap, waarin ek later so bietjie ingelaat is omdat hulle gesien het hulle kan my vertrou.” 

Deon Meyer

Deon Meyer vertel dat hy daarvan hou om elke jaar op 1 Januarie aan ’n nuwe boek te begin skryf. Foto Karla van der Merwe

Skryfkoors  

Die Bennie Griessel-reeks het volgens Meyer heeltemal spontaan ontstaan; díe karakter was nooit veronderstel om so groot te word nie.

“Die ding van om dieselfde omgewing en konstellasie van karakters te gebruik beteken dat ’n mens, wanneer die boek begin, baie vinnig van die merk af is omdat jy die wêreld en die karakters ken,” sê hy. “Jy hoef nie lank te gaan nadink oor wie en wat die karakter is en wat hulle gevorm het tot waar hulle nou hier is nie.” 

Hy voel self ook meer positief oor ’n karakter as lesers positief op hulle reageer. Meyer is van mening dat ’n mens ’n skrywer is omdat jy gelees wil word en mense wil vermaak. As kind het hy tot die besef gekom dat iemand die boeke wat hy gelees het, geskep het vir sy genot. Dit was iets wat hy toe self ook wou doen – om stories te skryf wat vir ander mense die genot gee wat hy self uit stories put en om vir hulle die vreugde van ’n lekker storie te kan bied.

Meyer geniet dit egter ook om splinternuwe karakters uit te dink, soos met sy roman, Koors. “Dit was seker die lekkerste skryfproses van my lewe omdat ek iets kon doen wat heeltemal weg is van die konvensie van misdaadfiksie,” sê Meyer. Hy glimlag. “Dis tog deel van die vreugde van skepping om iets uit niets uit te maak, om met nuwe goeters vorendag te kom. Dit hou ’n mens aan die gang as skrywer.”

Deon Meyer

Kokkerotjie, die Meyers se ringnekpapegaai, geniet dit om luidkeels saam te gesels. Foto: Karla van der Merwe

“Kokkerooi-kie”

Die rustigheid van die geselsies om die eetkamertafel word deur die gebabbel van die Meyer-egpaar se geliefkoosde ringnekpapegaaitjie, Kokkerotjie, gebreek. Meyer sê skertsend dat dié papegaaitjie ’n storie het wat nog geskryf moet word. Volgens Vorster-Meyer kom sy naam van haar tannie se papegaai af wat dié woord sou uitbasuin as “kokkerooi-kie”.   

Die punt van Meyer se hart word egter deur sy kleinkind, Matteo, gereserveer. Die trotse oupa gesels oor sy kleinseun terwyl hy video’s wys van hoe Matteo land en sand in babataal klets. Hy en Vorster-Meyer wil graag eendag saam vir Matteo ’n kinderboek skryf om sodoende vir hom ook stories te kan vertel soos Meyer eens vir sy eie kinders het. 

“Ek het vir [Meyer] gesê dat as hy die storie vertel en ek die illustrasie bysit om dit lekker fun vir kinders [te maak], en ons dra dit op aan ons eerste kleinkind, dan dink ek dit sal baie spesiaal wees,” sê sy.

Deon Meyer en sy vrou, Marianne Vorster-Meyer, wil graag eendag vir hulle kleinkind, Matteo, ’n kinderboek skryf. Foto: Karla van der Merwe

Bennie Griessel keer binnekort terug

Sarah Emery, ’n bestuurder by Stellenbosch Books waar getekende kopieë van Meyer se boeke aangevra kan word, sien uit na die volgende boek deur Meyer. Dié boekwinkel hou die Afrikaanse en Engelse weergawes van Meyer se misdaadfiksieromans aan.

“Ons Afrikaanse voorraad word natuurlik vinnig uitverkoop, maar verkoop ook regdeur die jaar,” beduie sy. “Wanneer die toeriste wat baie van [Meyer] se werk hou en dus weet wie hy is, hiernatoe kom, vlieg die Engelse kopieë weer van die rak af.” 

Meyer noem dat die Nederlandse vertalings die heel beste verkoop, en volgens Emery is Meyer veral ook gewild in Frankryk en Skandinawië.

Buiten twee TV-reekse en ’n film waarvan hy nog nie veel mag vertel nie, werk Meyer tans aan ’n nuwe Bennie Griessel-verhaal. 

“Bennie-hulle is nog hier in Stellenbosch, maar hulle gaan nie hier bly nie,” sê Meyer sonder om te veel weg te gee. “Daar is ook ’n prominente politieke figuur wat vermoor word en wanneer hulle die moord begin ondersoek, kom hulle agter daar is iets heeltemal anders aan die gang.”

, , ,