Die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Afrikaans en Nederlands bied weer binnekort hulle Fritz Ponelis-gedenkgeleentheid aan. Vanjaar se geleentheid vorm ook deel van die verskeie geleenthede en middaguur-gesprekke ter viering van die departement se 100ste bestaansjaar, volgens prof Harold Lesch, die departement se voorsitter.
“Die tweejaarlikse Fritz Ponelis-gedenkgeleentheid is in 2010 ingestel ter nagedagtenis aan prof Fritz Ponelis,” het Lesch per e-pos gesê. “Prof Ponelis was ’n leidende taalwetenskaplike en voormalige professor in en voorsitter van ons [departement].”
“[Die gedenkgeleentheid] is ’n geleentheid wat die departement geskep het ter erkenning van die reusebydrae van prof Fritz Ponelis tot die Afrikaanse taalwetenskap en om sy werk te herdenk,” het prof Rufus Gouws, ’n taalkundedosent by die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands, gesê. “Hy was ’n uiters veelsydige taalkundige wat as navorser, dosent en studieleier ’n naas onmeetbare bydrae tot sowel ons vakgebied as die departement gelewer het.” Foto: Karla van der Merwe
Volgens Lenelle Foster, ’n vertaling- en letterkundedosent by die departement, vind die geleentheid op Ponelis se verjaarsdag, 28 Julie, plaas en sou hy vanjaar 80 jaar oud wees. Ponelis is volgens Lesch in 2009 oorlede.
Dié geleentheid pas vanjaar goed by die departement se eeujaarvieringe in, het prof Rufus Gouws, ’n taalkundedosent by die departement, in sy betrokkenheid by die organisering van die geleentheid verduidelik. Gewoonlik wissel dit jaarliks met die departement se D.J. Opperman-geleentheid, het Gouws gesê.
Gouws het verder per e-pos gesê dat die geleentheid in vroeër jare slegs ’n gedenklesing was, maar is van vanjaar af “’n gedenkgeleentheid wat ook vir ander moontlikhede as ’n formele lesing die ruimte skep”.
Die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands vier vanjaar sy 100ste bestaansjaar. Volgens Lenelle Foster, ’n vertaling- en letterkunde dosent by die departement, word daar ter viering van die eeufees ’n reeks eeufeeslesings en -gesprekke gereël en sal die departement se Kollowium ook vanjaar daarmee verband hou.
“Die formaat sal telkens wissel. Wat dieselfde sal bly, is dat kollegas en oudkollegas, oudstudente en ons vriende by ander instansies oor onderwerpe sal praat wat met die departement verband hou,” het Foster gesê. “Dit kan hulle huidige werksaamhede wees, ’n blik op ’n deel van die departement se geskiedenis, die rol wat hul studies by die departement in hul professionele ontwikkeling gespeel het, of ’n onderwerp wat vir die vakgebied belangrik is, maar waaroor daar ook openbare gesprek moet wees.” Foto: Verskaf / Lenelle Foster
Die belangrikheid van taalvariasie
Volgens Lesch sal vanjaar se paneel, wat uit dr Donovan Lawrence, dr Gerda Odendaal en Marius Swart bestaan, “taalvariasie, Afrikaans en Fritz Ponelis se bydraes” bespreek.
“Ponelis se werk word steeds wyd voorgeskryf, gelees, benut en uitgebrei,” het Marius Swart, ’n vertaling- en taalkundedosent by die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands, gesê. “Hy het ’n bykans ongelooflike wye verskeidenheid werk binne die breë taalkundeomgewing gedoen en daar is baie om op te bou.” Foto: Karla van der Merwe
Die gesprek sal handel oor “hoe lank daar reeds in die Afrikaanse taalkunde ’n tradisie van die erkenning en bestudering van taalvariasie in Afrikaans is, en hoe Ponelis ’n voorloper op hierdie gebied was,” het Swart, vertaling- en taalkundedosent by die departement, per e-pos gesê.
“Taalvariasie is ’n gegewe en ’n gawe, maar iets wat soms as strydig met ‘korrekte’ taalgebruik gesien word. Die erkenning van die diversiteit van die mense wat die Afrikaanse taalgemeenskap uitmaak, gaan hand aan hand met die erkenning van die taalvariasie binne die taal,” het hy gesê. “As taalvariasie nie erken, bestudeer en gevier word nie, is ons per definisie eksklusief.”
Woordeboeke se verantwoordelikheid
Op navrae oor hoe die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) te werk gaan om taalvariasie uit te beeld, verduidelik Odendaal, mederedakteur van die WAT, dat die WAT die enigste Afrikaanse omvattende woordeboek is en dus die taal in sy wydste omvang dokumenteer.
Die geleentheid se onderwerp, “Ponelis, taalvariasie en Afrikaans”, sluit aan by die hedendaagse diskoers om Afrikaans aangesien daar “maklike en goedkoop politiek te maak [is] deur Afrikaans as ’n eksklusiewe taal te beskryf, of deur vas te klou aan ander negatiewe stereotipes daarrondom soos die nosie van die ‘onderdrukkerstaal’”. So meen Marius Swart, ’n vertaling- en taalkundedosent by die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands.
“Die realiteit op grondvlak is dat dit ’n taal met ’n uitsonderlik diverse gemeenskap is wat bestaan uit mense van allerlei kleure, kulture, gelowe en dies meer,” het Swart gesê. “Hierdie werklikheid kan nog veel sterker op die voorgrond gebring word.” Foto: Karla van der Merwe
Odendaal het verduidelik dat Ponelis “in baie opsigte ʼn baanbrekende navorser in en oor Afrikaans” was. “In teenstelling met baie van sy tydgenote, was dit vir Ponelis belangrik om Afrikaans – soos die WAT – in sy geheel, met ander woorde alle variëteite van Afrikaans, te bestudeer,” het sy gesê.