Die Bloemhof Accelerando Koor wen Europese trofee

Die Hoër Meisieskool Bloemhof (HMBS) se Accelerando Koor het gedurende die pas afgelope skoolvakansie aan die Musica Orbis Koorfees in Praag deelgeneem, waar dié koor ’n trofee in die kategorie “Onbeperkte Repertorium: Jeugkore” gewen het. Die koor is ook vereer as die koor met die beste stemtegniek. Dit is volgens Dinie Basson, HMBS se kultuurbestuurder.

Die Hoër Meisieskool Bloemhof (HMBS) se Accelerando Koor, tydens kultuur-uur op ‘n Donderdag. Marijke Roos, begeleier van HMBS se Accelerando Koor, vertel dat sy geïnteresseerd is in klank en daarom baie fokus op klank en stukke musiek wat by haar koor se stemme pas. FOTO: Mandisa Maphisa 

Die koor het ook Duitsland, Switzerland, Oostenryk en die Tjeggiese Republiek besoek en in verskeie katedrale opgetree, het Basson gesê. 

“Die toekenning vir ‘beste stemtegniek’ het my stom geslaan want dit was nie verwag nie,” het Marijke Roos, begeleier van die Accelerando Koor, gesê. 

Roos het gesê dat sy, as begeleier, baie geïnteresseerd is in klank en daarom baie fokus op stukke musiek wat by haar koor stemme pas. 

Koor sing in katedrale 

Dié Accelerando Koor het in die kategorie “Onbeperkte Repertorium: Jeugkore” met drie Belgiese kore meegeding, het Roos gesê. 

Björn Rothman, ’n Gr12 leerling aan HMBS en die Accelerando Koor se leier, het gesê dat hierdie koorkompetisie baie anders was as die plaaslike kompetisies waaraan die Koor gewoond is. 

Rothman vertel dat die sing-ervaring oorsee was baie anders was omdat ons hul in katedrale gesing het. 

“Die koor het nie regtig geweet wat om te verwag by die kompetisie nie en die feit dat kore van regoor die wêreld teenwoordig was, maak my sommer trots op die koor,” het Rothman gesê.

Die Bloemhof Meisieskool Accelerando Koor se Music Orbis-trofee wat hulle gewen het tydens die afgelope skoolvakansie. Die koor het in die “Onbeperkte Repertorium: Jeugkore” kategorie deelgeneem waar hul ook vereer is as die koor met die beste stemtegniek tussen al die deelnemende kore. FOTO: Mandisa Maphisa

Europa besienswaardighede 

Ander hoogtepunte van die toer was die Sound of Music fietstoer in Salzburg en om met ander jeugkore in Switzerland te skakel, het Roos vertel. 

“Ons het ’n koorwerkswinkel saam met twee ander kore in Switzerland bygewoon. Baie is geleer van stemme, repertorium en ander lande se musiek. Die HMBS-koor was deur die ander kore vir twee dae gehuisves en van die land se tradisies geleer,” het Roos gesê.

Die koor was ook op verskeie bootritte en het natuurtonele op die Königssee in Duitsland, die Vltavarivier in die Tjeggiese Republiek en die bekende Zürichmeer geniet, het Basson gesê. 

“Die toer na Europa was ’n belewenis gewees. Aan die einde het [die koorlede] baie geheg geraak aan mekaar,” het Rothman gesê.

Die Hoër Meisieskool Bloemhof se Accelerando Koor, besig om die lied, Moenie Slaap nie, te oefen tydens hul weeklikse kultuuruur. Tans is die koor besig om voor te berei vir die ATKV-Applous finale wat op 27 Julie in Kaapstad gaan plaasvind. FOTO: Mandisa Maphisa

, , ,