Die jongste Woordfees vier sy twintigste verjaarsdag

Twintig jaar gelede het die Woordfees begin as ʼn “nag van passie”. Vandag strek die fees oor verskeie kunsgenres met “ ʼn spesifieke fokus op taal.”

Saartjie Botha, feesdirekteur vir die afgelope vyf jaar, sê die fokus is steeds op kwaliteit werk met taal. “Ons wou hierdie jaar jonk en dinamies wees. So ons is nie 20 jaar oud nie, ons is 20 jaar jonk.”

DSC_0040_edited-1

‘n Plakaat in Stellenbosch oor die twintigste Woordfees, vanjaar se tema is “jonk”.  FOTO: Elri Voigt

Die fees het in 2000 begin as ʼn projek van die Afrikaans en Nederlands-departement van die Universiteit van Stellenbosch (US). Volgens prof. Dorothea van Zyl, een van die fees se medestigters en die vorige feesdirekteur, het die idee vir die fees egter al ʼn paar jaar voor die tyd ontstaan.

ʼn Gesprek met Greetje van den Bergh, wat in daardie stadium die sekretaris van die Nederlandse Taalunie was, het die bal aan die rol gesit.

Volgens van Zyl was die idee dat daar ʼn fees moes wees waar Nederlandse en Afrikaanse skrywers met mekaar kontak kon maak.

In 1999, nádat ʼn paar toetslopies bevestig het dat daar belangstelling in so ʼn fees is, het van Zyl en haar kollegas aan die werk gespring.

Ronel Foster, Naomi Bruwer, Retha Schoeman en Hegla Buys was deel van die digtespan. Die US Drama-departement was ook betrokke en het bestaan uit Johan Esterhuizen, Marie Kruger en Francois Rossouw. Die plan was om die eerste fees in 2000 te hou.

Van Zyl en haar span het gestreef om ʼn “dinamiek rondom skrywers en die letterkunde tot stand te bring, wat nie in ons land bestaan het in daardie stadium nie”.

Van Zyl sê dat Stellenbosch die ideale plek is vir so ʼn fees: Stellenbosch is ʼn goeie plek omdat daar baie mense is met ʼn akademiese en bietjie ernstige belangstelling in dinge.”

Op 17 Maart 2000, om 19:00, het die heel eerste Woordfees met ʼn vertoning deur ʼn jong imbongi begin. Hy het ʼn pryslied gesing oor hoe waardevol geleerdheid is. Van Zyl verduidelik die keuse: “Dit was vir ons ʼn belangrike simboliese ding.”  

Die organiseerders wou hê dat die feesprogram ander tale en kulture ook insluit: “Die ander tale en kulture was vir ons van die begin af belangrik.”

Die tema was ʼn “Nag van Passie”, en die program is reg deur die nag by die HB Thom-teater aangebied. Dit het bestaan uit voorlesings deur meer as 60 skrywers, ʼn paar drama vertonings, ʼn gratis buiteverhoog en ander vermaak, onthou van Zyl.

 “Dit was ʼn vreeslike vrolike fees.” 

DSC_0093.jpg

Een van die mure by die Woordfees se kantoor in Ryneveldstraat is vol van vorige feeste se plakkate. FOTO: Elri Voigt

Die sukses van die fees het almal verbaas. Ongeveer 300 mense is verwag, maar op die ou ent was daar omtrent ʼn duisend mense, vertel van Zyl.

Toe die fees die volgende aand om 19:00 klaarmaak en die span die verhoog betree, was dit vir haar ʼn nuwe gevoel.

“Ek kan nie vir jou beskryf die onbeskryflike hoogtepunt wat dit vir my was nie. Dit was ʼn gevoel wat ek in my lewe nog nie gekry het nie.”

Daardie gevoel was een van die redes hoekom van Zyl vir die volgende 14 jaar gewerk het as direkteur. Sy het vir altesaam 15 jaar die pos beklee. Volgens haar het die fees eers teen die vierde jaar sy voete behoorlik gevind. “Dit het al hoe beter begin raak.”

woordfees

ʼn Samestelling van plakkate vir die Woordfees van 2000-2011. Verskaf: deur Professor Dorothea van Zyl

Die Woordfees het aanhou groei, tot op die punt waar dit glad nie meer soos die eerste een lyk nie. Volgens Botha verander die fees elke jaar.

“Die fees is nie vanjaar dieselfde as wat dit verlede jaar was nie en dis beslis nie dieselfde as wat dit 20 jaar gelede was nie.”

Na twee dekades speel die Woordfees verskeie rolle in die kuns- en letterkunde-gemeenskap. Botha beskryf die fees as ʼn “verkleurmannetjie”.

Maar daar is sekere dinge wat ook nie verander het nie. “Die kern van die fees is nog steeds die skrywers- en boekeprogram, maar ons het redelik omvangryk uitgebrei,” sê Botha.

Die Woordfees vind vanjaar tussen 1 en 10 Maart plaas.