Dié koshuise kraai koning by propvol Accapella-finaal

Weke se toewyding en oefening het onlangs tot sukses gelei vir drie koshuise van Universiteit Stellenbosch (US) wat by vanjaar se Accapella-kompetisie as kampioene in hul onderskeie kategorieë gekroon is. 

Agt spanne het in dié finale rondte, op Woensdag 28 Augustus, meegeding in die Konservatorium se Endler-saal. 

Dagbreek het die mansafdeling gewen, Nemesia die vroue-afdeling, en Hippoyini die gemengde kategorie. Hippoyini is ’n gemengde groep van Hippokrates- en eNkanyini-koshuise op US se Tygerberg-kampus. Dit is die tweede jaar in ry dat dié groep die gemengde kategorie wen.

In plaas daarvan om tussen optredes hande te klap en die sangers te steur is die Accapella-gehoor gevra om eerder jazz-hands te gebruik, het Lona Billy, lidmaat van die Sentrale Geleenthede en Konferensiekantoor (CECO) wat op deurdiens was, aan SMF News gesê. FOTO: Duné van Jaarsveld

Eiffelkoor bekroon as wenners

“In die laaste ses weke het ons meer as ’n honderd ure se werk ingesit. Ons het op Sondae 12 ure geoefen…in die oggende sesuur wakker geword om vir twee ure lank te oefen voordat klasse begin,” het Cole Baker, Dagbreek se kuns-en kultuurportefeulje-bestuurder, na afloop van die geleentheid, gesê.

Naas hul trofee, het die Eiffelkoor drie sertifikate vir beste kleredrag, beste choreografie en beste mans-solo ontvang, het Jenlena Jerling, voorsitter van US se Studenteraad se kuns- en kultuurkomitee (Kuko), tydens die geleentheid aangekondig.

Vir Baker was die wen nie die hoogtepunt van hul Accapella-ervaring nie. “[Die wen is] baie min in vergelyking met die verhoudinge wat hierdie 21 mense met mekaar gevorm het,” het Baker gesê.

“Dit is vir ons koshuis baie belangrik dat [Dagbreek se Eifelkoor] binne-in die koshuis gevier word. Hierdie oorwinning toon ons waardes,” het Cole Baker, Dagbreek se kuns-en kultuurportefeulje bestuurder, gesê. FOTO: Duné van Jaarsveld

Nemesia se melodiese triomf 

In die vroue-afdeling het Nemesia die kroon gedra. “Ons het al in die eerste semester vir hierdie kompetisie begin voorberei,” het Anrika Engelbrecht, kajon-speler van Nemesia se Accapella-groep, gesê. 

“Ons het regtig ons bes probeer en ek dink dit is al wat saak maak,” het Engelbrecht gesê.

Benewens hul trofee, het Nemesia ook twee sertifikate ingepalm vir beste musieksamestelling en beste oorspronklike musieksamestelling.

“Ek is baie dankbaar. Dit is regtig ’n eer om weer hier te kon wees. Dit was net so lekker,” het Mieke Laubscher, Nemesia se Accapella-leier, gesê.

Agter die skerms

Volgens Michaela Eichel, ondervoorsitter van Kuko, was hierdie jaar se kompetisie ’n oorwinning vir die herstel van kulturele byeenkomste ná die Covid-pandemie. 

“Ons berei al die heel jaar lank voor,” het Eichel gesê. “Die kaartjieverkope vir die halfeindrondte was nie so goed soos wat [Kuko] gehoop het nie, maar vir die finale rondte het hulle vinnig uitverkoop.”

“Die finale rondte verkoop altyd baie baie vinnig uit,” het Michaela Eichel, ondervoorsitter van die Studenteraad se kuns- en kultuurkomitee (Kuko) gesê met verwysing na die onlangse kaartjieverkope vir die finaal van vanjaar se Accapella. Kuko het die kaartjieverkope se geld gebruik om die Endler-saal te huur vir Universiteit Stellenbosch se Accapella-kompetisie. FOTO: Duné van Jaarsveld