Quinton Adams is welbekend in die informele nedersetting, Freedom Farm, as die “Shackbuilder”. Hy het met MatieMedia gesels oor sy visie vir sy projek in dié gemeenskap.
*As Quinton Adams soggens op die stoep sit, sê sy dogters, Cyndi-Laine en Amy, altyd dat as hy so sit, kyk hy hoe hy die wêreld se probleme kan oplos. As hy dit nie meer kan doen nie, dan bestaan hy nie meer nie, sê Quinton Adams.*
Die opvoedkundige sielkundige se missie is om menslikheid te herstel, en hy kry dit op ʼn praktiese manier reg. Sy passie vir die projek waarmee hy tans besig is, is byna aansteeklik.
Quinton is op die plattelandse dorpie, Heidelberg, in die Wes-Kaap gebore en het daar sy primêre skoolloopbaan voltooi. Van kleins af het hy al geweet dat hy met mense wil werk.
Aan die begin van sy hoërskoolloopbaan het sy gesin Kaap toe getrek. Daar het politiek ʼn baie groot invloed op hom gehad. Die opofferings wat ander gewillig was om te maak, het vir hom uitgestaan en vandag gebruik hy dit as inspirasie. “Ek was nog altyd iemand wat van ʼn uitdaging gehou het, en altyd gereed en voorbereid was vir die onbekende.”
Quinton glo sterk in die bou en die herbou van mense se lewens. Hy het altyd geweet dat hy dit op een of ander manier wil uitleef.
Dit het hom altyd gefassineer om te sien in watter omstandighede mense in plakkerskampe ʼn bestaan maak, en het gevoel dat dit is waar hy ʼn verskil wil maak. Quinton het dikwels boumateriaal geneem vir mense wat in bouvallige plakkershutte woon, sodat hulle dié plakkershutte meer stabiel kon maak.
Die groot waardering wat die inwoners vir plate, planke en ʼn paar spykers gehad het, het hom laat voel dat hy nóg meer wil doen.
Die dryfkrag agter sy projek
Quinton se ma is oorlede toe hy baie jonk was. Hy raak steeds hartseer as hy daaroor praat. “Ek was ses jaar oud toe sterf my ma. Dit het ʼn baie groot impak op my lewe gehad,” sê hy. Die trauma het hy egter omgeswaai in iets positiefs. Op die ouderdom van tien het hy al gehelp om sop en koekies uit te deel vir mense in plakkerskampe.
Quinton sê sy frustrasie met mense wat kritiek lewer, maar niks doen nie, het as dryfkrag vir die projek gedien. Dit het hom kwaad gemaak dat daar so min aksie is om hierdie mense te help.
Hy vertel van ’n enorme storm wat die Kaap ongeveer 30 jaar terug getref het en hoe dit talle plakkershutte verwoes het.
“Die dag na die storm het ek die plakkerskamp gaan besoek en wat ek daar gesien het, het my onmiddellik emosioneel gelaat.”
Vir Quinton was dit die keerpunt. Kort daarna het hy sy projek van stapel gestuur. Vandag is hy al 18 jaar in beheer van die Shackbuilding-projek, wat aan mense wat in bouvallige plakkershutte bly, nuwe wonings verskaf. Vir Quinton is die hoofdoel van die projek om mense se lewensomstandighede te verander en te verbeter.
Binne dié projek werk Quinton en sy span met die mees bouvallige plakkershutte om sodoende die mense wat die meeste in die nood is, eerste te help.
Die projek is nou al vir ʼn hele paar jaar gefokus op Freedom Farm en die mense daar het al gewoond geraak aan die Shackbuilder se teenwoordigheid, sê Quinton. Hy voel dat Freedom Farm ʼn toonbeeld geraak het van hoe die projek kan uitbrei.
ʼn Inwoner het op ʼn keer vir hom gesê dat hy haar weer soos ʼn mens laat voel het. Net daar het Quinton besef watter groot impak die projek op mense se lewens het.
Quinton vertel van die slegste omstandighede wat hy al in die plakkerskamp beleef het.
“Die plakkershut het geen balke gehad nie en daar het net plate gelê en soos ek verder gekyk het, kon ek sien dat die man onder sakke bly. Soos ek nader gestap het, het ek die man se stem gehoor en hom gevra om sy storie vir my te vertel.”
Die man het vertel dat sy kinders van hom weggevat is en dat sy vrou oorlede is.
Quinton het hom op ’n keer binne-in ʼn plakkershut bevind wat nie ʼn dak gehad het nie en waar die mense letterlik verpletterd was. Net daar en dan het hy die besluit geneem om vir die mense wat in dié plakkershut woon, ʼn nuwe woning te bou.
Visie en harde werk
Die koste van die bou van die nuwe plakkershutte wissel afhangende van die hoeveelheid kamers wat gebou moet word. Dan is daar die brandstof en die boumateriaal wat aangery moet word. Die totale koste vir die struktuur is ongeveer R17 000.
Een van die struikelblokke wat Quinton moes oorkom, is befondsing. Baie mense voel dat dit die regering se verantwoordelikheid is om huise te bou, en wil dus nie bydra tot so ’n projek nie. Die funksionering van sy projek is hoofsaaklik gebaseer op donasies wat baie stadig inkom. Die rede daarvoor is die stereotipiese aannames oor mense wat in armoede woon.
Quinton se gevoel is dat die bouvallige plakkershutte aangespreek moet word as Suid-Afrika nie meer ʼn rustelose nasie wil wees nie.
Oor die laaste 18 jaar het Quinton en sy span al meer as 30 plakkershutte gebou en vir ongeveer 200 mense nuwe wonings verskaf. Dit is omtrent twee nuwe plakkershutte per jaar.
Sy span bouers sluit tans drie mans in wat bou en drie vroue wat by die onderhandelings met die gemeenskap betrokke is. Onderhandeling is noodsaaklik om te verhoed dat daar konflik ontstaan oor wie nuwe huise kry.
Quinton dra ook by tot werkskepping binne die gemeenskap van Freedom Farm en die inwoners kry dan die geleentheid om geld te verdien vir die werk wat hulle doen. Boonop leer die bouers nuwe vaardighede aan.
Die sielkundige agter die shackbuilder
Quinton sê sy gunsteling deel van die hele proses is wanneer hulle aankondig dat hulle ’n plakkershut gaan afbreek, want dan weet die inwoners dat hy dit daarna sal herbou. Dis waar die hele proses ʼn realiteit raak. Dis ook tydens hierdie proses waar hy kennis maak met die inwoners se werklike omstandighede.
As opvoedkundige sielkundige wat vir homself werk, het Quinton baie tyd om in sy projek as die shackbuilder te bestee. Die sielkundige agter die shackbuilder lewer graag praatjies aan jongmense en kinders oor hoe belangrik dit is om ʼn toekoms vir jouself te bou, terwyl die shackbuilder agter die sielkundige altyd meer as gewillig is om ander in nood te help.
Quinton staan omtrent tien weke van die jaar aan sy shackbuilding-projek af, met die ondersteuning van sy vrou en sy twee dogters.
Sy gesin is sy grootste motivering. Hy wil graag vir sy dogters wys dat geen mens te goed is om ander te help nie. Vir sy vrou is dit altyd kosbaar om te sien hoe opgewonde hy raak wanneer hy ʼn nuwe plakkershut vir ʼn gesin gebou het. Sy twee dogters geniet dit weer om inspirasie uit hul pa se barmhartige dade te put, en woon graag al sy praatjies by.
Die sielkundige sal altyd in die shackbuilder bly. Quinton het ʼn motto waarvolgens hy sy projek bestuur: Small things bring about great change. “Ek wil nie die hele nedersetting verander nie, maar ek wil net een stukkie daarvan aanraak om te inspireer, motiveer en aktiveer.”
*Let wel: Hierdie onderhoud is gevoer voordat die nasionale inperkingsregulasies in werking gestel is.