Die US herwin dalk eersdaags ál sy rommel

As deel van die Universiteit Stellenbosch (US) se volhoubaarheidsplan, sal hulle eersdaag aan ’n toetsprojek begin deelneem waarby hul nie-herwinbare afval in die vervaardiging van bakstene gebruik sal word. 

Dit is volgens John de Wet, bestuurder van omgewingsvolhoubaarheid aan die US se Fasiliteitsbestuur. 

Indien die projek suksesvol is, sal die universiteit geen afval stortingsterrein toe stuur nie, het De Wet gesê. 

“Die hele toets gaan daaroor om die hoeveelheid afval wat ons genereer en wat stortingsterrein toe gaan, te verminder of ’n ander stroom vir dit te vind,” het hy verduidelik. 

Die toetslopie sal in September posvat en waarskynlik oor ’n tydperk van drie maande strek, volgens De Wet. 

John de Wet, bestuurder van omgewingsvolhoubaarheid aan die Universiteit Stellenbosch se Fasiliteitsbestuur, verduidelik dat September uiteengesit is vir die toetsprojek om nie-herwinbare materiaal as rou-materiaal in bakstene te gebruik. VIDEO: Inge du Plessis

Rommelstelsel

Die nie-herwinbare afval sal na die US se rommelsorteringsaanleg (MRF) op Welgevallen vervoer word, waar dit drooggemaak en gebaal sal word. Daarvandaan sal dit in ’n vragmotor na Gqeberha vervoer word waar dit as rou-materiaal in die vervaardiging van bakstene vir plaveisel gebruik sal word, het De Wet verduidelik. Die universiteit gebruik vir WastePlan om hul rommel te bestuur, het hy gesê. WastePlan is ’n maatskappy wat spesialiseer in kommersiële en industriële afvalbestuur en herwinningsdienste, volgens hul webtuiste.

Dit is belangrik dat studente hul rommel reg sorteer. Kos wat in asblikke vir nie-herwinbare afval gegooi word, maak die afval swaar. Dit maak dit moeilik om ’n groter volume afval na Gqeberha te vervoer om hergebruik te word, volgens John de Wet, bestuurder van omgewingsvolhoubaarheid aan die Universiteit Stellenbosch se Fasiliteitsbestuur. VIDEO: Inge du Plessis

Indien die projek suksesvol is, sal die universiteit nie meer bydra tot die probleem van stortingsterreine wat vol raak nie, volgens Jayde Bromwich, voorsitter van EcoMaties, die US se studentevereniging vir volhoubaarheid. 

“Ons weet dat die Wes-Kaap alreeds sukkel met plek vir stortingsterreine én om plek daarvoor te vind,” het Bromwich gesê.

Jayde Bromwich, voorsitter van EcoMaties, bied wenke om meer volhoubaar te lewe. STEMOPNAME: Verskaf/Jayde Bromwich

Stellenbosch se plaaslike stortingsterrein het reeds sy kapasiteit bereik, volgens Clayton Hendricks, hoof van afvalbestuur by Stellenbosch Munisipaliteit. 

Al Stellenbosch se afval word nou na ’n private stortingsterrein, Vissershok, vervoer, het Hendricks gesê. 

Beperkte lugruim 

Lugruim vir stortingsterreine is regoor die Wes-Kaap beperk, volgens Saliem Haider, bestuurder van die Sirkulêre Ekonomieprogram by GreenCape, ’n nie-winsgewende organisasie in die Wes-Kaap wat volgens hul webtuiste die skakel na omgewingsvolhoubare ekonomiese oplossings bevorder. 

“Die meeste munisipale stortingsterreine het minder as vyf jaar se lugruim oor, en dit is kommerwekkend. Dit is ideaal as munisipaliteite 15 jaar se lugruim op stortingsterreine het om op te steun,” het Haider gesê.

“Enige afval wat op stortingsterreine beland, neem waardevolle lugruim op wat leegloop,” het hy bygevoeg. 

Dit is duur om afval by stortingsterreine te verberg, volgens Haider.
“Elke ton afval wat gestort word, het ’n direkte koste van sowat R600 per ton (dit verskil van munisipaliteit tot munisipaliteit). Maar die ware koste van storting is seker dubbel soveel waar dit infrastruktuur en versagtingsmaatreëls betref – wat benodig word om negatiewe omgewingsgevolge te  voorkom,” het hy per e-pos aan MatieMedia gesê.

, , ,