Die Universiteit Stellenbosch (US) het vanjaar vir die tweede agtereenvolgende jaar die Première-teaterfees aangebied by die Adam Small-teater. Met meer as 60 studente wat aan vanjaar se fees deelgeneem het, was die week van 22 tot 26 Julie elke teateraanhanger se droom. Lycra en Petticoats is as die beste stuk aangewys.
Saartjie Botha, hoof van die Toyota US-Woordfees, was een van die vier beoordelaars. “Dit is vir my ongelooflik om te sien hoe studente wat verlede jaar gesukkel het gegroei en ontwikkel het in ’n jaar. Jy sien iemand wat hulle voete probeer vind en baie ooglopende foute maak en dan ’n jaar later het hulle ’n baie sterk idee wat hulle wil doen.”
“Hulle is dapper. Hulle is vreesloos. Hulle herhaal nie foute nie,” vertel Botha. “Dit is baie opwindend. Die kwaliteit het baie verbeter. Daar is nog steeds stukke wat swak is, maar dit is oukei.”
Botha het bygevoeg dat Première ’n ongelooflike belangrike geleentheid is, want dit leer studente om eienaarskap van produksies te neem. “Daar is nie ’n dosent wat ’n regisseur is of vervaardiger wat verantwoordelik is nie. Dit is regtig [net die studente] se verantwoordelikheid. Dit is ’n verskriklike goeie leerskool vir die uiteindelike bedryf. Dit is regtig ’n goeie vertoonvenster vir talent.”
Wynand Kotze wat deel was van die wenstuk verlede jaar, Kansel, het gesê dat daar vir die eerste keer in baie studente se lewens ’n geleentheid was om natuurlik te skep uit ’n baie organiese plek uit en om foute te maak sonder dat mens punte kry daarvoor. “Ek het aan drie tekste gewerk [hierdie jaar] en aan drie prosesse deelgeneem. Vir my persoonlik was dit ’n groot prestasie.”
“Daar was een teks wat ek heeltemal op my eie geskryf het, waarop ek ongelooflik trots is. Ek sien baie uit na my persoonlike ontwikkeling en dis waaroor Première gaan,” het Kotze bygesê.
Margo Kotzé wat die trofee vir beste ondersteunende aktrise gewen het, het gesê dat Première eindelose geleenthede bied. “Ek het hierdie jaar met die stuk van verlede jaar se Première, by die Woordfees opgetree en dit was fantasties.” Oor haar wen sê sy: “Ek is baie verbaas, maar dis ’n baie groot eer.”
“Ek dink Première is ’n ongelooflike geleentheid, veral vir drama-studente om nuwe werk te skep,” het Kotzé bygevoeg. “Mens kon sien hoe almal so opgewonde is daaroor. Dit is regtig ’n lekker gees van om te skep en saam te werk.”
André Gerber wat een van die feesorganiseerders is, het na Saterdagaand se finaal gesê dat dit eienaardig voel. “Jy werk so hard en nou is dit alles verby.”
“Ons het vir ’n week lank elke liewe aand een-uur, twee-uur in die bed gekom. En nou begin ons beplan vir volgende jaar. Dit beteken vir ons baie as opvoeders net om te sien hoe studente groei en ontwikkel.”
Botha het ook gesê: “Dit is regtig een van die min kanse wat mense kan doen wat hulle wil doen, want as hulle eers professioneel is, moet hulle oorleef. Daar is nie dan die ondersteuning van ’n drama departement met ’n stelstoor en props nie.”
Vyftien stukke uit dertig voorstelle is in Februarie gekies om deel te neem aan die fees. Saam met Botha was daar nog drie beoordelaars, naamlik Hugo Theart (hoof van KKNK en Kunste Onbeperk), Tara Notcutt (regisseur en teatermaker) en dr. Mareli Pretorius (hoof van die US Dramadepartement).