Eendrag help mede-studente om voedselonsekerheid te bestry

Eendrag Manskoshuis aan die Universiteit Stellenbosch (US), het Saterdag sy jaarlikse Damestouch-toernooi gehou. Dié koshuis het vanjaar besluit om hul deel te doen om voedselonsekerheid op kampus te bestry deur die #Move4Food-veldtog te ondersteun.

Dameskoshuise en PSO’s aan die US skryf in om op dié dag “touch”-rugby wedstryde teen mekaar te speel terwyl verskeie kunstenaars soos Ben Dey and The Concrete Lions, Strange Loving en My Brother Einstein toeskouers vermaak het.

FOTO 1

Erica en Irene in aksie. FOTO: Jody-Lynn Taylor

Die #Move4Food-veldtog is ’n studente-inisiatief in samewerking met personeel, alumni en skenkers wat poog om R10 miljoen in kontant en goedere binne 100 dae in te samel om volhoubare voedselbanke op te rig.

Dit is om te verseker dat studente aan die Stellenbosch- en Tygerberg-kampus vir die volgende drie jaar in hul basiese behoeftes kan voorsien.

“Ons het verlede jaar sanitêre doekies ingesamel in samewerking met die nie-winsgewende organisasie Periods for Hope, maar het vanjaar besluit om die universiteit te help,” sê Ockert Goosen (21), organiseerder van Damestouch.

FOTO 2

Ockert Goosen is al vir 2 jaar betrokke by die organisering van die Damestouch-toernooi.              FOTO: Jody-Lynn Taylor

Volgens Goosen kwalifiseer die twaalf dameskoshuise en PSO’s wat die meeste blikkieskos ingesamel het om aan die wedstryde deel te neem. Al die twaalf seksies in Eendrag kry dan ’n span om af te rig vir die toernooi.

“Ons skenk ook 10% van ons wins wat op die dag by die kroeg gemaak is aan die #Move4Food-veldtog. Ons help dus nie net mede-studente nie, maar wil ook ’n goeie verhouding met die Alumni-kantoor bou,” voeg Goosen by.

FOTO 3

Die dames van Sonop het hul span kom ondersteun wat deurgedring het tot die semi-finaal.      FOTO: Jody-Lynn Taylor

Daniël Hugo (19), ’n Aktuariële Wetenskappe-student wat vanjaar vir die eerste keer die geleentheid bywoon, sê hy sien al heeljaar uit daarna.

“Ek dink Damestouch is ook ’n goeie manier om die jaar mee af te sluit omdat die eksamen nou nader kom,” sê Hugo.

René Wentzel (20), ’n BSc Voedselwetenskappe-student, voeg by dat dit nie net ’n samekoms van koshuise is nie, maar ook lekker is om die gees van die dameskoshuise en PSO’s te sien.

“Juis omdat daar op kampus nie baie aandag gegee word aan die sportsoorte wat vroue beoefen nie, is dit lekker om vir ’n slag te sien hoe vroue op die veld teen mekaar kompeteer,” sê Wentzel.

FOTO 4

Marileen van der Westhuizen en René Wentzel het hulself geniet by Damestouch.  FOTO: Jody-Lynn Taylor

Al het Nerina die meeste blikkieskos (342) ingesamel, was dit Nemesia wat Irene in die finaal geklop het en met die trofee weggestap het.

Natalie Murape (22), ’n BCom Finansiële Rekeningkunde-student wat haar koshuis op die dag kom ondersteun het, sê sy sal Damestouch vir niks in die wêreld misloop nie en sal definitief volgende jaar weer daar wees.

FOTO 5

Harry Slachmuylders, ’n uitruilstudent, en Natalie Murape was verseker dat Nemesia met die trofee sal wegstap.  FOTO: Jody-Lynn Taylor

Eendrag Damestouch Infographic