Eerste Nasie-kuns: Gebrek aan erkenning én eienaarskap

Die Suid-Afrikaanse kunsbedryf vorm ’n belangrike deel van die ekonomie in terme van werkskepping, en het voor die aanvang van Covid-19 jaarliks bogemiddelde groei getoon. Die land se Eerste Nasie blyk egter nie veel voordeel uit dié bedryf te put nie. 

Toe Deidré Jantjies*, ’n Eerste Nasie-kunstenaar en -aktivis, haar identiteit begin bevraagteken het, het sy baie “inheemse leidrade” gekry en besef dat sy dinge anders wou doen. 

Veral toe sy die beeld van die Khoi-ikoon Sarah Baartman in haarself begin sien het, “het die sleutels net oopgebars en die deure net ontplof”, vertel sy. 

Sy het toe Stories in die wind geskryf – ’n webfilmreeks oor ’n Nama-meisie in die Richtersveld wat met ’n sekere merk op haar lyf gebore is, verduidelik Jantjies. “En die voorouers het vir die wyse vrou ’n droom gestuur om vir haar te sê dat daar ’n kind gebore gaan wees wat haar mense gaan red in die toekoms,” vertel sy oor die storie. 

Wat sy vir haarself gesien het, het sy dus in ’n storie geskryf “om bewusmaking te bring van die feit dat ons bestaan”, sê Jantjies. “Inheemse mense bestaan.” Sy meen dit is belangrik dat Eerste Nasie-identiteite sodanige erkenning moet kry.

Die stelsels van die koloniale bestel het steeds ’n impak op Eerste Nasie-mense, meen Jantjies. Om daardie stelsels te “indigenise”, moet elke faset daarvan gereeld nagegaan word, sê sy. 

“Ek wil nie decolonise sê nie. Ek wil indiginise sê. Ek het my mindset indiginise. Ek het my liggaam indiginise. Ek het my benadering indiginise,” sê sy. “En dit is waar ek die besluit geneem het: Bitch, ek gaan ’n vervaardiger wees. Bitch, ek gaan ’n regisseur wees. En: Bitch, ek gaan ’n skrywer wees.” 

Eerste Nasie-gemeenskappe in Suid-Afrika skram egter dikwels weg van daardie tipe leiersposisies – om eienaarskap van hul kuns te neem en te verseker dat hulle behoorlik verteenwoordig word, meen Jantjies. 

Die kunste

Kuns en kultuur is die sektor wat die vinnigste groei in Suid-Afrika (SA), sê Unathi Lutshaba, uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse Kulturele Observatorium (Saco), in ’n artikel op dié organisasie se webtuiste.

Saco, die navorsingsbeen van die Departement van Kultuursake en Sport (DCAS), het die sektor se jaarlikse bydrae tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) tot R63 miljard bereken, volgens hul webtuiste. Dit verteenwoordig 1.7% van die totale BBP, volgens Lutshaba. 

“[Die kuns- en kultuurbedryf] het ’n gemiddelde groeikoers van 4.8% per jaar bereik tussen 2011 en 2016, in vergelyking met slegs 1.6% per jaar vir die hele ekonomie oor hierdie tydperk,” sê Lutshaba volgens die Saco-webtuiste

Die sektor is ook ’n beduidende werkgewer met meer as een miljoen mense. Dit is dus “verwarrend” dat die regering steeds nie daarin slaag om die kunste en kunsopvoeding behoorlik te befonds nie, volgens die Saco-webtuiste, en dit laat onafhanklike befondsingsorganisasies en hul befondsers aan hul eie genade oor om die bedryf te dra.

Khoena-stories

Die Koena Kunsinstituut is ’n voorbeeld van ’n organisasie wat die erfenis en identiteit van die Khoisan deur middel van kuns vier, volgens inligting voorsien deur Lukretia Booysen, hul besturende direkteur. Met een van hul inisiatiewe, Indigenous, inkorporeer hulle kuns, opvoeringskuns, geleenthede en handelsmerkprodukte wat fokus op die herbekendstelling van Khoisan-kultuur. Hierdie ruimte word gelei, bestuur en aangebied deur “inheemse mense wat hulle stories vertel sonder invloed”, luidens die inligting. 

Die Koena Kunsinstituut bied uitstallings van kunstenaars wat spreek tot verskillende inheemse temas, en gooi ’n diepte-blik op tradisies en antieke leringe asook stories deur kuns. Kunstenaars (In volgorde van foto’s): Anthony Roach, Bryne Newveldt en Marlene Liebenberg. FOTO’S: Amy Pienaar. Verskaf/Lukretia Booysen

In ’n poging om al die verskillende Khoena-tale aan die samelewing bekend te stel, bied die Koena Kunsinstituut klasse en sessies met sprekers van die onderskeie tale aan. Hulle het onlangs vir Ouma Katriena Esau, die laaste vlot spreker van die /nuu-taal, gehuisves. FOTO: Amy Pienaar. Verskaf/Lukretia Booysen

“Kuns en kultuur is ’n uiters belangrike deel van die ekonomie, veral in terme van toerisme en werkskepping. Ons departement voorsien elke jaar befondsingsgeleenthede aan kuns- en kultuurorganisasies,” sê Tania Colyn, hoof van kommunikasie by die Wes-Kaapse DCAS, aan MatieMedia

Die regering kan egter nie alleen die sektor ondersteun nie, meen Colyn. 

“Ons moedig alle private en openbare vennote aan om die bedryf te ondersteun,” sê sy. 

Die DCAS het vanjaar hul beleid vir die befondsing van nie-regeringsorganisasies (NRO’s) hersien om die “volledige waardeketting” in die kunste te akkommodeer, volgens Anroux Marais, minister van die DCAS in haar begrotingsrede vir 2020/2021. Hiervoor is ’n bedrag van R20.4 miljoen begroot om organisasies in die bedryf te ondersteun, sê Marais in haar rede. 

“Die nuwe beleid is meer inklusief en verteenwoordigend van die magdom kunsvorme en individue betrokke by die kunsdissipline,” voer sy aan. 

Die land se Eerste Nasie-kunstenaars word egter grootliks uitgesluit van die ekonomiese geleenthede in die sektor. Dít, volgens ’n aantal kunstenaars wat as Eerste Nasie-mense identifiseer, kan grootliks toegeskryf word aan die regering se gebrek aan erkenning aan, en bewusmaking van, hierdie groep. 

Eerste Nasie: Oeroue bewoning

“Eerste Nasie” is nie ’n maklike terminologie nie, en moet onderskei word van die woord “inheemse”, volgens Prof. Lize van Robbroeck aan die Universiteit Stellenbosch se Departement Visuele Kunste. In die Wes-Kaap sou Xhosa-mense byvoorbeeld nie as Eerste Nasie beskou word nie. Xhosa-groepe is inheems aan die Oos-Kaap, maar is ook produkte van migrasiepatrone wat in die pre-koloniale tye plaasgevind het. Dit kan dus problematies wees om hulle as Eerste Nasie te beskryf – selfs daar, verduidelik sy. 

“As jy ‘inheems’ losweg gebruik, moet alle swart kunstenaars van SA-afkoms so beskryf word,” sê Van Robbroeck. 

Die Khoisan word oor die algemeen as die Eerste Nasie van Suider-Afrika beskryf, in die sin dat hulle “oorspronklik” hier was, verduidelik sy. 

Hoewel die kunstenaars agter die Eerste Nasie-rotskuns lank reeds oorlede is, geniet hulle werk steeds aansienlik baie akademiese aandag in die antropologie, argeologie en geskiedenis. Maar die Eerste Nasie-kuns van vandag word nie naastenby so breedvoerig in Suid-Afrika nagevors nie, meen Van Robbroeck. 

Verder meen sy dat die afstammelinge van dié kunstenaars seggenskap moet kry oor die uitstalling van hul kuns. 

“Dit moet verkieslik gerepatrieer word en daardie gemeenskappe moet direk voordeel trek uit enige ekonomiese voordele wat uit daai eienaarskap mag vloei,” sê sy. 

In ’n verslag oor die waarde van die repatriasie van Suid-Afrikaanse museumartefakte, lys Saco ’n aantal argumente en opsies vir waarom en hoe kuns gerepatrieer kan word in Suid-Afrika:

Argumente vir repatriasieHoofwaarde versoekMoontlike repatriasie-opsies
Geregtigheid en morele regte van eienaarskapErkenning van eienaarskap en regstelling vir onregte in die verlede.Onvoorwaardelike of wettiglike terugbesorging.
Sosiale en kulturele betekenis en waardeIntrinsieke en sosiale waarde deur toegang te bied tot waardering, opvoeding en navorsing.Onvoorwaardelike terugbesorging, permanente lenings, digitale repatriasie en toere. 
Ekonomiese waardeFinansiële waarde deur toerismeOnvoorwaardelike, asook wettiglike terugbesorging, permanente lenings en toere. 

Eerste Nasie-kuns is belangrik tot die ekonomie en skep baie werksgeleenthede – veral ten tyde van die Covid-19-pandemie waar baie mense hul werk verloor. 

Dit is volgens Denver Toroga Breda, ’n Eerste Nasie-kunstenaar en -aktivis. 

“Daar is tog min goed so amazing om te weet dat jy gebruik ’n ancestral skill – iets wat natuurlik aan jou is. En jy maak iets daarvan om dan ’n brood op jou tafel te sit,” sê Breda. 

Kuns en kultuur is krities vir werkskepping vir mense in landelike gebiede wat ’n gebrek aan toegang tot formele werksgeleenthede ervaar, volgens Denver Breda, ’n Eerste Nasie-kunstenaar en -aktivis. OPNAME: Verskaf/Denver Breda

Daar is baie wat die regering kan doen om in die kunste te belê. Dit begin by bewusmaking – “om te belê in die consciousness”, meen hy. 

“Die belangrikste is om ons taal en kulture te bewaar en te beskerm. Maar ook dan die ekonomiese geleenthede wat daar kan wees vir ons mense wat dit nou benodig – meer as ooit. Hulle lê nie genoeg klem daarop nie,” sê Breda.  

Eerste Nasie-gemeenskappe vind glad nie ekonomies baat by die Eerste Nasie-kuns van vorige generasies nie, meen Breda en voeg by dat hierdie kuns meestal deur “buitelanders met geld” en “koloniale” instansies soos universiteite beheer word. 

“As ’n mens so dink aan die cradle of humankind […] Dis almal Khoi-rotskunsruimtes wat geld gee vir die regering en ander mense. Maar wat kry ons?” vra hy. 

Vir Jeffrey Oarasip, ’n Eerste Nasie-kunstenaar wat sy digkuns inkleur met ’n kombinasie van Khoi-tale en Kaapse Afrikaans, lê die wending van Eerste Nasie-kuns se lot eerstens in erkenning. 

“Meer erkenning – om te sê: Dit is wie hierdie mense is. Vir die volgende generasie probeer hulle wys: Kyk, dit is wie ons voorouers was. Ons is nie net een of ander opgemaakte identiteit wat impliseer dat ons gemors en nikswerd individue of ’n groep mense is nie,” verduidelik hy. 

Outentieke Eerste Nasie-kuns kan nie nagemaak word nie, meen Jeffrey Oarasip, ’n Eerste Nasie-kunstenaar. OPNAME: Candice Jantjies

Oarasip lê ook klem op die noodsaaklikheid van ekonomiese geleenthede, asook meer aandag aan Khoi-tale in skole. 

“As ’n kind op ’n jong ouderdom blootgestel word aan die taal van sy of haar voorouers, sal hulle gouer moed kry om te sê: ‘Ek is waardig.’ ” 

Jeffrey Oarasip meng in sy werk Khoi-tale met Kaapse Afrikaans. OPNAME: Verskaf/Jeffrey Oarasip

*Daar is geen familieverwantskap tussen Deidré Jantjies en die skrywer nie. 

, , , , , , ,