Politiek, geboue bespreek
In 2013 het wyle rektor prof. Russel Botman en prof. Albert Grundlingh begin gesels oor die moontlikheid van ’n boek om die Universiteit Stellenbosch (US) se eeufees te herdenk. Grundlingh sou daarna redakteur word van ’n boek wat van die beslissende oomblikke en historiese gebeure in die US se geskiedenis hersien, herdenk en krities beskou.
“Dit is ’n kritiese beskouing, maar ook nie ’n veroordeling nie,” sê Grundlingh oor die aard van die boek. “Mens wil nie in só boek die universiteit bewierook nie, want jy kan baie kritiek lewer op die US, maar sal jy elke keer terugkom daarna dat dit vandag een van die top universiteite in die land is.”
Grundlingh is tans die hoof van die US se Geskiedenisdepartement en spesialiseer in sosiale- en kulturele geskiedenis. Behalwe vir konseptualisering van die boek was hy ook verantwoordelik vir die hoofstukke oor apartheid en Afrikanernasionalisme.
Die gedenkboek met ’n grys en wit voorblad bestaan uit 536 volkleur-bladsye. Die eerste helfte van die gedenkboek bevat akademiese opstelle oor die ontstaan van die universiteit, die universiteit en Afrikanernasionalisme, apartheid, finansies, studentelewe, sport en akademie. Die tweede gedeelte omskryf die geskiedenis per fakulteit wat infrastruktuur en ontwikkeling betref, en is saamgestel deur Hans Oosthuisen.
“Dit dek wat ons beskou het as die belangrikste grepe in die universiteit se geskiedenis,” sê Grundlingh. “Dit is ook ’n ‘book of record’. Dit bied ’n geleentheid om jou eie geskiedenis te herbedink en dit dan aan te wend vir die toekoms en wat jy daaruit wil haal.”
Grundlingh sê dit was vir hom veral belangrik om oorspronklike navorsing te doen, “sodat jy nie net herhaal wat algemeen bekend is nie, maar ook nuwe perspektiewe bring. Ek het probeer om nie resepmatig te wees nie.”
Die aspek wat vir die eerste keer in die nuwe boek aangespreek word, is die finansies van die US. Grundlingh sê die geldsake van die instelling word nie altyd aan die orde gestel nie. “Finansies is belangrik, want dit is die grondslag vir al die ander goed wat volg. As die finansies nie goed bestuur is nie sou dit nie ’n goeie universiteit gewees het nie.”
Afrikanernasionalisme
Grundlingh sê daar kan rondom die ontstaan van die universiteit, van 1918 tot omstreeks 1930, reeds politieke en kulturele komponente in die aard van die studente-omgewing opgemerk word.
“Afrikaners het gevoel hulle wil hulleself akademies bewys, wys dat hulle kan uitstyg en dat hulle die gelyke is van die Engelse universiteite. Dit was ’n groot dryfveer, maar dit was nie net ’n politieke motivering nie. Mense het akademie ernstig opgeneem.”
“Met die oorwinning van die Nasionale Party in 1948 word dit ’n georganiseerde, elitistiese, burokratiese Afrikanerdom wat onder H.B. Thom beslag gekry het. Hy was voorsitter van die Broederbond nasionaal, en dit was ’n periode toe die broederbond hoogty gevier het op kampus,” sê Grundlingh.
Hy vertel verder die sestigerjare het ’n nuwe geslag van studente opgelewer. “Die Afrikanermiddelklas het al sterker geword – kinders het byvoorbeeld met motors hier aangekom (wat van tevore baie skaars was) en hulle het meer gemaklik gelewe. Hulle het meer vrydenkend geraak en ook begin inkoop in ’n groter Suid-Afrikanisme eerder as ’n blote afgestemde Afrikanernasionalisme.”
Van 1954 tot sy aftrede in 1969 was Thom die Rektor van die US. “Terwyl Thom nog al hierdie ander goed verkondig het, het die universiteit geleidelik onder hom uitgeglip. Dit was ’n geleidelike proses, en is verder geneem deur die volgende rektore wat ook aangepas het by omstandighede.”
Die US en rasseverhoudings
Grundlingh vertel wat vir hom besonder openbarend was tydens die skryfproses, was die tydperk net voor bruin studente vir die eerste keer toegelaat is by die US. In die boek is daar ’n afdruk van ’n brief van ’n bruin matriekleerling van Cloetesville wat in 1975 by die US wou inskryf. In reaksie op die brief is hy aangesê om Kaap toe te gaan en daar te studeer.
“Wat my daarvan opgeval het is, hier het jy ’n universiteit op jou voorstoep, en jy is Afrikaans, maar jy kan nie na dié universiteit toe gaan nie. Jy moes op die trein klim en verder aan gaan. Daai tipe ding het ’n merk gelaat op baie van die mense waarmee ek onderhoude gevoer het.
Dit is ’n groot geleentheid wat verspil is.”
Grundlingh skryf in die boek dat die US die eerste Afrikaanse universiteit was wat bruin studente aanvaar het, en die eerste sowat 30 bruin studente in 1978 toegelaat is. “Daar was ’n sekere gestolde studentekultuur op die plek wat hulle nie omhels het nie,” sê Grundlingh, “en jy kry dieselfde tipe kwessies wat deesdae in studentepolitiek na vore kom – al het die hele situasie verander.”
Volgens Grundlingh is daar in vandag se tyd ’n ander dinamika onder studente, wat volgens hom ’n klassedimensie het. “Die term ‘diversiteit’ is ’n brose konsep. Wat jy hier het is studente wat nie finansiële middele het nie, wat sien hulle wit medestudente leef op ’n ander vlak.
Stellenbosch en politiek
Grundlingh sê daar is vandag ’n totale wanopvatting dat apartheid op Stellenbosch uitgedink is. “Dit is omdat Stellenbosch politiek is, en was, as gevolg van die feit dat die eerste vyf ministers verbintenis met die plek gehad het, en ook omdat die Teologiefakulteit en ander dissiplines destyds apartheidsidees verkondig het.”
“Mens kan verstaan hoekom mense dit dink, maar apartheid was ’n baie meer ingrypende en breër fenomeen as bloot net Stellenbosch. Dis nie Stellenbosch wat so self-ingenome is dat hulle dink hulle het alles uitgedink nie,” lag Grundlingh.
Voëlvry in Stellenbosch
Polititiese elemente kon ook in die die tagtigerjare op kampus opgemerk word. Toe het die Voëlvry-beweging aktiewe verset teen die apartheidstelsel geloods, skryf Pat Hopkins, medeskrywer van Voëlvry: The Movement that Rocked South Africa, in ’n 2007 LitNet artikel oor Voëlvry. “Dié groep musikante se lirieke het gerebelleer teen politieke ideologie en die heersende middel- en heersersklaswaardes.”
Grundlingh vertel dat hy as ’n jonger persoon die Voëlvry-beweging op kampus meegemaak het. “Kyk, they challenged society, maar hulle was meestal daarop uit om nonsens aan te jaag.”
“Voëlvry kan maklik oordryf word” sê Grundlingh. “Dit was ’n paar ou disheveled outjies wat boom gerook het en baie gedrink het. Hulle het eintlik nie self geweet waarmee hulle besig was nie. Mense wat by Voëlvry was, was in elk geval klaar oortuig. Hulle was reeds bekeer toe Voëlvry gekom het.”
Grundlingh sê ook van dié goed wat Voëlvry bekendgestel het was “natuurlik baie slim”, soos die liedjie “sit dit af” wat oor PW Botha gegaan het.
Die boek kos R750 in hardebandvorm. Daar sal ook presies 100 kopieë in Engels en Afrikaans beskikbaar wees wat in leer gebind is, onderteken is deur die US rektor en met die ontvanger se naam in sierskrif voorin. Dié versamelaarsitem met leeromslag is in Admin B beskikbaar en sal jou R2 500 uit die sak jaag.
“Ek wil baie graag die boek koop,” sê finalejaar-BA-student in geesteswetenskappe, SZ Minnaar. “Ek hoop daar is ’n spesiale tarief vir studente.”
Mohammed Parker, tweedejaar ingenieurswese-student, sê hy ken studente wat minder sakgeld kry as wat die boek kos. “Die boek is ’n goeie idee, veral deel twee. Maar ek sal nie R750 betaal nie.”
Carin Erasmus, projekkoördineerder, sê dit is goed om te hoor dat die studente opgewonde is oor die boek. “Ons sal die boek teen ‘n spesiale prys aan studente beskikbaar stel. Die boek sal ook deur die verloop van die tyd in die biblioteek beskikbaar wees, maar op hierdie stadium slegs een kopie van elk,” sê sy.
Wat sê prof Wim?
By die bekendstelling van die eeufeesboek het prof Wim de Villiers, US rektor en Visekanselier, gepraat oor diegene wat die materiaal vir die inhoud van die boek verskaf en versamel het. “Ons is dankbaar vir die harde werk en opofferings van soveel mense oor die dekades heen. Die eeufeesuitstalling en ons eeufeesboek getuig van die toewyding van 100 jaar.”
Saam met die boekbekendstelling is ’n uitstalling oor die universiteit se geskiedenis by die US Argief onthul. Die uitstalling word aangebied as ’n collage op die mure en bestaan uit foto’s wat dateer vanaf 1918 tot 2018.
Meer as 60 jaar gelede
Die Rooiplein was nie altyd bo-op ’n biblioteek gebou nie. Hierbo ’n kleurfoto van die Rooiplein voor die J.S. Gericke Biblioteek in 1981 gebou is.
Dié groot projek is geïnisieer toe die universiteit se ander twee biblioteke, die CL Marais Biblioteek en die Carnegie Biblioteek, te klein geword het. Die enigste plek waar die nuwe biblioteek sentraal gebou kon word was onder die grond.
Die biblioteek is vernoem na Eerwaarde J.S. (Kosie) Gericke wat vanaf 1952 tot 1981 Visekanselier van die US was. Die konstruksie van die biblioteek is in 1983 voltooi en die skuif na die nuwe gebou het plaasgevind. Die J.S. Gericke Biblioteek is laasjaar herbenoem na die Universiteit Stellenbosch Biblioteek.
Op die 1966-foto is daar ’n lang prieël aan die een kant van die plein. “Ek hou nogal van die 1966 foto” merk Grundlingh op. “Dit reflekteer ’n sekere rustigheid wat bevorderlik vir leer is.”