Die stompneuskewer, wat bome op groot skaal kan laat vrek, is in die Kaap ontdek. Die kewer, afkomstig uit Suidoos-Asië, het die afgelope jare reeds groot skade oor die land heen aangerig.
MatieMedia het al in Maart oor die stompneuskewer berig voordat dit in die Kaap ontdek is. Lees meer hier.
Die kewer is op Somerset-Wes aangetref in amber- en plataanbome. Elmar van Rooyen, MSc-student in bewaringsekologie aan die Universiteit Stellenbosch, wat by die ontdekking betrokke is, beweer dat uitheemse bome, soos eike, platane en ambers – wat volop in Stellenbosch is – die swaarste getref kan word.
Die stompneuskewer of polifaag-skietgatboorder, in Engels die polyphagous shot hole borer (PSHB), boor gate in ’n boom se binnekant en versprei dan ’n swam, Fusarium euwallaceae, wat die boom kan laat vrek. Riaan van Zyl, ’n boomkundige en bewaringsbosbouer, verduidelik dat die swam ’n boom se vaskulêre sisteem besmet waarna die boom die besmette gedeelte “afsny” deur dit te kompartementaliseer. Soos die boom die infeksie afsny, sny hy sy eie toevoer tot so ’n mate af, dat hy “versmoor”.
“Dis soos ’n duikboot wat ’n gat inkry. Hy maak die kompartemente wat na die gat toe lei, toe. As die gat te groot raak en te veel kompartemente word toegemaak, is hy al daardie hulpbronne kwyt,” sê Van Zyl.
Besmette bome gaan waarskynlik afgesaag moet word sê Van Rooyen. Al blyk dit ’n aardige idee te wees om mooi en ou bome af te saag, raai Van Rooyen mense aan om nie daaroor gespanne te wees nie.
“Dit is op pad. Ons moet maar gereed maak daarvoor. Hoe vinniger jy dit rapporteer, hoe vinniger kan jy dit kry om minder te versprei,” sê Van Rooyen.
Van Zyl is bang vir ’n paniekreaksie “wat eintlik nie nodig is nie”.
“Hoe groter die paniek is, hoe groter gaan die simptoom van afkophoender wees en mense wat nie weet wat om te doen nie. Hulle gaan gryp na elke strooihalm wat daar is en hulle gaan onnodig geld spandeer,” waarsku hy.
Dit is hoekom hy dink daar moet ’n standaard gevestig word vir die reaksie op en behandeling van die infestasie. “Een van die belangrikste dinge is om ’n rekord te hê van die boom se status by die punt van infestasie waar ’n geval ontdek word. Die algemene status van die boom moet beskryf word. Dan moet ons rekord kan hou van hoe die boom vorder – of nie – wat betref die behandeling sodat ons by ’n sekere punt kom waar ons sê ‘dis waar ons die boom sal moet afsny’,” sê Van Zyl.
Paul Barker, hortoloog en tuinier by die Arderne-tuin in Claremont, sê dat niemand werklik die omvang van die infestasie verstaan nie en dat verspreidingsdigtheid-opnames dringend benodig word. Volgens Barker kan mense help deur die iNaturalist-app af te laai en aktief deel te neem aan die waarneming en optekening van bome in hul buurte.
“Hierdie data is broodnodig. Die iNaturalist-platform is die enigste gedeelde oopbron-platform vir ons almal, so dit is ’n goeie manier vir burgerwetenskaplikes om betrokke te raak,” sê hy.
Volgens Albert van der Merwe, senior bestuurder van gemeenskapsdienste van Stellenbosch-munisipaliteit, is daar steeds geen amptelike gevalle van die stompneuskewer by die munisipaliteit aangemeld nie. “[Stellenbosch-munisipaliteit] is gereed, maar die feit dat daar steeds nie ’n middel op die mark is om dit te bekamp nie, kan ons nie eintlik gereed wees nie. Maar ons het ’n plan van aksie,” sê hy. Die Stellenbosch-munisipaliteit gaan onder meer in die komende weke ’n bewusmakingsveldtog loods om die publiek in te lig oor die kewer en hoe om besmette bome aan te meld.
Indien die kewer se teenwoordigheid vermoed of ontdek word, moet dit so vinnig as moontlik aangemeld word. Raadpleeg ’n relevante kundige indien nodig of meld dit aan by die Stellenbosch-munisipaliteit se noodnommer (021 808 8890) of by die Universiteit Stellenbosch se departemente bosbou en houtkunde (021 808 3323) of bewaringsekologie en entomologie (021 808 3304).