Die Universiteit Stellenbosch (US) se RW Wilcocks-gebou is onlangs tot die Krotoa-gebou hernoem.
Dit vorm deel van die US se “verbintenis tot transformasie en regstelling” by die universiteit, volgens Dr Ronel Retief, registrateur en voorsitter van die Naamgewingskomitee aan die US.
Een van die doelwitte met dié naamsverandering is om erkenning te gee aan die erfenis van die “onderverteenwoordigde” Eerste Nasie van Suider-Afrika en die gebied wat vandag bekend staan as die Wes-Kaap, het Retief gesê.
Die Universiteit Stellenbosch (US) se Krotoa-gebou is na dié Khoi-ikoon hernoem as deel van die universiteit se “verbintenis tot transformasie en regstelling”, volgens Dr Ronel Retief, registrateur en voorsitter van die Naamgewingskomitee aan die US. FOTO: Candice Jantjies
“Om ’n rol te speel in die versoening van mense en om erkenning te gee aan iets van ons gedeelde en komplekse geskiedenis, dra by tot nasiebou en uiteindelik tot maatskaplike vooruitgang,” het sy bygevoeg.
Die Khoi-San word algemeen as die Eerste Nasie beskryf, volgens Prof. Lize van Robbroeck aan die US se Departement Visuele Kunste.
’n Khoi-ikoon
Krotoa was ’n Khoi-vrou van die !Uriǁ’aeǀona-stam. Sy het onder meer as tolk opgetree tussen haar mense en die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC).
Die uitspraak van !Uriǁ’aeǀona – die Khoi-ikoon Krotoa se stam.
Sy was “’n indrukwekkende mens” wat kon onderhandel en “letterlik en intellektueel” tussen kulture beweeg. Dit is volgens Prof. Sandra Swart aan die US se Departement Geskiedenis wat in die Krotoa-gebou geleë is.
“Haar naam is dus ’n gepaste en trotse een vir ons gebou – veral een wat die tuiste van die geskiedenisdepartement is,” het Swart oor die hernoeming van die gebou gesê.
Krotoa se rol as tolk tussen verskillende kulture is veral relevant vir die gesprekke oor taal, inklusiwiteit en om uiteindelik onderlinge begrip tussen verskillende groepe te bewerkstellig, volgens Retief.
Krotoa se verhaal is egter ook ’n pynlike een, meen Swart.
“Sy is moontlik seksueel uitgebuit (ons weet nie), beslis vir arbeid uitgebuit in haar jeug, sy is verban, stief behandel en haar oorskot is ontheilig deur verwydering,” het Swart per e-pos aan MatieMedia gesê.
“Haar verhaal is nie ’n maklike een nie. Nie een om oor goed te voel nie. Maar dan is ons geskiedenis ook nie. So, sy is ’n goeie ikoon,” het sy bygevoeg.
Simbolies en seremonieel
Hoewel die hernoeming van die gebou wel “simbolies en seremonieel” is, hou dit onder meer verband met voortdurende gesprekke oor die ondersteuning en formalisering van Khoikhoi-taalverwante kursusse aan die US. Dit is volgens Dr Leslie van Rooi, senior direkteur van Sosiale Impak en Transformasie, en lid van sowel die Visuele Regstelling- as Naamgewingskomitee aan die US.
“Die US sal die plek van die Eerste Nasie-geskiedenis erken as deel van die breër storie van ons universiteits-gemeenskap,” het Van Rooi gesê.
Krotoa is een van 11 merkwaardige Suid-Afrikaanse vroue wat in die brons kunsinstallasie op die Rooiplein verteenwoordig word, volgens die Universiteit Stellenbosch se webtuiste. FOTO: Candice Jantjies
Vir Byron Ruiters, ’n honneursstudent aan die US se Fakulteit Teologie, is die hernoeming van die gebou na Krotoa ’n “goeie besluit”.
“Dis ’n manier om mense te herinner aan wie Krotoa is en wat sy as vrou moes deurmaak en opoffer in ’n baie moeilike tyd,” het Ruiters gesê.
Die San-taal is op een van die banke op die Rooiplein aangebring as deel van die Universiteit Stellenbosch se doel om erkenning te gee aan die Eerste Nasie van Suider-Afrika en die Wes-Kaap. FOTO: Candice Jantjies