Stellenbosch se Garden Town vind vanjaar vir die vierde keer plaas en daar is drie nuwe, unieke gebeurtenisse waarna besoekers kan uitsien. Só het Heleen Oostuizen, projekadminastrateur van Garden Town, aan SMF News gesê.
Die nuwe gebeure
“Wat ons hierdie jaar vir die eerste keer doen: Ons gaan ’n klassieke konsert hê voor die stadsaal, Saterdag, 2 November,” het Oostuizen gesê. Garden Town hoop dat 600 mense die konsert bywoon, het sy gesê.
Daar is ook vanjaar vanaf 29 Oktober tot 2 November ’n tuinskou en -mark in die stadsaal waar ’n klomp vertoontuine besigtig kan word, het Oosthuizen gesê. Daar sal ook mark-items wees.
Die derde nuwe gebeurtenis om voor uit te kyk is die straat-soiree. Stellenbosch Street Soiree het met Garden Town saamgespan om hulle soiree-seisoen af te skop met ’n Garden Town straat-soiree, het Oosthuizen gesê.
Stellenbosch Munisipaliteit doen verder baie moeite rondom Garden Town deur al die [dorp se] blombeddings op te knap, het Elmarie Rabe, bemarkingsbestuurder van Visit Stellenbosch, gesê. FOTO: Duné van Jaarsveld
Die land se voorste tuinbou-uitstalling
“Garden Town Stellenbosch het homself oor die afgelope paar jaar as ’n hoogtepunt op die dorp se kalender en die voorste tuinbou-uitstalling in Suid-Afrika gevestig,” het Stuart Grobbelaar, Stellenbosch Munisipaliteit se kommunikasiebestuurder, gesê.
“Die konsep is die eerste keer deur France Beyers van Stellenbosch Visio voorgestel nadat sy by Girona in Spanje was tydens hul jaarlikse blommefees,” het Elmarie Rabe, bemarkingsbestuurder van Visit Stellenbosch, gesê.
Garden Town word vanjaar oor tien dae aangebied, met tuine en eksklusiewe privaat huistuine wat aan die publiek oopgestel word, het Oosthuizen gesê. Daar is ook baie werkswinkels, gesprekke, toere en funksies wat besoekers kan bywoon, het sy gesê.
“Ons het ook die jaarlikse blomparade – ’n lekker vrolike flottielje deur die dorp. Dit eindig by die stadsaal waar die Burgemeester die wenners van haar jaarlikse Burgemeesters Tuinekompetisie aankondig,” het Rabe gesê. “Die burgemeesterskompetisie vind hierdie jaar vir die derde jaar plaas.”al ’n belangrike rol speel in die indiensneming van baie van ons inwoners,” het Grobbelaar gesê.
Garden Town se tuin skou en mark sal in Stellenbosch se stadsaal van 29 Oktober tot 3 November plaasvind, het Heleen Oostuizen, projekadminastrateur van Garden Town, gesê. FOTO: Duné van Jaarsveld
’n Hele dorp werk saam
Regoor Stellenbosch stel party inwoners hulle tuine oop vir die publiek om dit te kan besoek, het Oosthuizen gesê.
“Die Stellenbosch Munisipaliteit speel ’n groot rol ter ondersteuning; hulle voorsien die grootse gedeelte van die befondsing as deel van die toerisme mandaat,” het Rabe gesê.
“Daar is verskeie ander borge soos produkte, Visit Stellenbosch, Stellenbosse Wynroetes, Stellenbosch Publisiteits- en Bemarkings agentskap en die Kaapse Wynland Distriksraad,” het Rabe gesê.
Garden Town se bydra tot Stellenbosch
Die sukses van Garden Town beklemtoon volgens Grobbelaar Stellenbosch se ryk tuinbou-erfenis en verhoog die dorp se status as ’n gewilde bestemming vir natuur- en tuinliefhebbers.
“Hierdie lewendige geleentheid lok jaarliks duisende besoekers en bied ’n beduidende hupstoot aan ons plaaslike ekonomie. Dit ondersteun ’n wye verskeidenheid besighede, van plaaslike winkels en kafees tot restaurante en wynplase, wat almal ’n belangrike rol speel in die indiensneming van baie van ons inwoners,” het Grobbelaar gesê.
Garden Town Stellenbosch is vanjaar groener en groter. Garden Town spog hierdie jaar met drie nuwe gebeurtenisse, het Heleen Oostuizen, projekadminastrateur van Garden Town, gesê. VIDEO: Duné van Jaarsveld