“Wat nog altyd soos SciFi was, het nou ’n werklikheid geword.”
Só meen Prof. Louise Warnich, dekaan van Wetenskap en genetikus aan die Universiteit Stellenbosch, wat deelgeneem het aan die US Woordfees se Science Café-gesprek oor die genetiese manipulering van menslike embrios.
Dié bespreking is gefasiliteer deur die omgewingskundige en aanbieder van die KykNET natuurprogram Groen, Dave Pepler. Ook op die paneel was uitgelese professor in Filosofie, Prof. Anton van Niekerk.
Volgens Warnich is genetiese manipulasie die “bekendstelling van ’n stuk DNA of ’n geen in ’n sel om ’n genetiese siekte te behandel”.
Dié Science Café se sitplekke was volgepak met ’n gehoor geïnteresseerd in die kontroversiële onderwerp.
“Die wetenskap word gegooi in die drukpot van menswees,” het Pepler gesê.
Hy het verduidelik dit is nie die vraag van hoe lewe ontstaan wat die kwessie is nie, maar eerder presies wanneer die selle lewe word.
Groot deurbrake in die veld is deur Prof. Warnich uitgewys. Daar is byvoorbeeld in 2012 geen-redigerende tegnologie CRISPR-Cas9 geskep. Hierdie tegnologie gebruik die ensiem Cas9 om foutiewe stukkies DNA uit die mens se selle te sny.
CRISPR-Cas9 is verlede jaar in China gebruik om lewensvatbare menslike embrios geneties te manipuleer om die siekte Hemofilie A te genees. Daarby is geen-manipulering al gebruik om sekere MIV-reseptore te blokkeer en só die infeksie te beperk.
Van Niekerk het gesê dat genetiese manipulering ’n ingryping op die mens se evolusie is en hy sien dit as ’n baie opwindende ontwikkeling.
Die samelewing se begeerte om langer te lewe is ook deur Van Niekerk beklemtoon. Volgens Van Niekerk is dit te danke aan genetiese manipulering dat die eerste mens wat 1000 jaar oud kan word moontlik reeds gebore is.
Hy het die gehoor gevra: “Stel u belang om ’n 1000 jaar oud te word?”
Oor moontlike gevare wat agter die tegnologie kan wegkruip, het Van Niekerk gesê: “Rig ons nie méér skade aan deur níé hierdie tegnologie beskikbaar te stel nie? Gegewe die potensiaal van hierdie nuwe tegnologie, sal dit net so skadelik wees om dit nie te gebruik nie.”
Kommentaar uit die gehoor het egter kommer uitgespreek oor die moontlikheid dat genetiese manipulering ’n “rykmanspeletjie” kan word. ’n Lid van die gehoor het gevra of daar dalk in die toekoms gediskrimineer kan word teen mense wat nie genetiese manipulering kan bekostig nie? Van Niekerk het daarop gereageer dat genetiese manipulering wel ook in arm lande kan help om groot siektes te beveg.