Gloria Bosman prys US-Jazzorkes vir optrede tydens Vrouedagkonsert

Die Universiteit Stellenbosch (US) Jazzorkes het Woensdagaand hul langverwagte Vrouedagkonsert by die Endlersaal gehou wat opgedra is aan Nontsikelelo Albertina Sisulu.

Dié politieke aktivis en verpleegster word beskryf as een van die belangrikste leiers van die apartheidweerstand in Suid-Afrika en sou vanjaar 100 jaar oud wees.

Die Fiësta-bekroonde orkes, onder leiding van hul dirigent, Felicia Lesch, het die verhoog gedeel met die Suid-Afrikaanse jazz-ikoon Gloria Bosman en opkomende kunstenaars, Babalwa Mentjies en Zinzi Carolissen.

FOTO 1.JPG

Oud en jonk in afwagting vir die konsert om te begin.             FOTO: Jody-Lynn Taylor

Babalwa Mentjies (37), tree gereeld op met die Jazzorkes terwyl Zinzi Carolissen (20), deel was van die sertifikaatprogram wat aangebied word deur die Musiek Departement aan die US.

Die kunstenaars het die gehoor op hul  voete gehad met treffers soos “Paradise Road” en “A Cry, A Smile, A Dance.”

FOTO 2

Zinzi Carolissen, vermaak die gehoor met Judith Sephuma se “A Cry, A Smile, A Dance.”                                                  Foto: Jody-Lynn Taylor

Bosman het oud en jonk ook vermaak met haar eie liedjies soos “Play me those Love Songs” en “Lovers’ Dance.”

Die drie vroue en die Jazzorkes het die aand afgesluit met Miriam Makeba se bekende “Pata Pata.”

“Ek het vanaand baie geniet, dis die tweede keer wat ek by die US-Jazzorkes se Vrouedagkonsert optree,” sê Mentjies.

DSC_0320

Babalwa Mentjies, is al ’n bekende gesig onder lede in die gehoor.       Foto: Jody-Lynn Taylor

Gloria Bosman het op haar beurt die Jazzorkes geprys vir hul uitstekende optrede.

“Die orkes is briljant en dis altyd ’n groot plesier om met hulle op te tree. Ek het hulle ontmoet toe die orkes nog baie jonk was en hulle groei nog elke jaar. Hulle toekoms lyk belowend omdat hulle enige soort musiek kan aanpak en selfs my oorspronklike liedjies met soveel gemak kan doen,” sê Bosman.

DSC_0303

Die jazz-ikoon, Gloria Bosman.                                                  Foto: Jody-Lynn Taylor

Phillip Vermeulen (42), administratiewe beampte by die Musiek Departement en lid van die orkes, sê die aand was ’n sukses en het die belangrikheid van Vrouedag beklemtoon.

“Vroue speel ’n baie belangrike rol in die samelewing en moet waardeer en respekteer word. Dit is ook altyd ’n eer om met Babalwa, Zinzi en veral Gloria op te tree wat ’n groot rolmodel is in die musiekbedryf.”

FOTO 5

Die Jazzorkes word begelei deur Felicia Lesch.                 Foto: Jody-Lynn Taylor

Die konsert was Donderdagmiddag herhaal as ’n liefdadigheidskonsert ter ondersteuning van die Stellenbosch Werksentrum vir Volwasse Persone met Gestremdhede.