Fietsdiefstal is ’n kwessie wat in elke fietseienaar se agterkop bly en in Stellenbosch is dit veral ’n belangrike kwessie om in ag te neem, siende dat dié dorp se fietsdiefstalkoers so hoog is.
Leonardo van Onselen, eienaar van Flandria Fietse in Stellenbosch, meen dat fietsdiefstal “baie erg” is. Hy skat dat daar sowat vier tot vyf kliënte per maand kwotasies aanvra vir nuwe fietse weens diefstal. Hy sê dat hy die kwessie veral onder studente teëkom.
Kapt. Natalie Martin, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se Stellenbosch-woordvoerder, verduidelik dat die mees algemene fout wat mense met fietsdiefstal maak is dat hulle dink hulle fietse op enige plek veilig is.
“[Mense dink dan] hulle hoef nie slotte te gebruik om te voorkom dat hulle fietse gesteel word nie,” sê Martin.
Dit is wat Rosco Reeves, ’n derdejaar-BRek-student, oorgekom het. Sy fiets is vroeër vanjaar vanaf sy balkon, wat op die eerste verdieping van ’n woonstelblok onder aan Merriman geleë is, gesteel.
“Ek het nie gedink dit is nodig om my fiets vas te maak nie, aangesien dit onmoontlik gelyk het dat enigiemand my fiets van die eerste verdieping af sal kan steel,” sê Reeves.
Hy verduidelik verder dat dit ’n ongewone verskynsel in sy area is, aangesien hy met die woonstelblokbestuur asook met menigte van sy bure gesels het en gevind het dat dit nog geen ander mense oorgekom het nie.
Reeves raai ander studente sterk aan om van die fietshokke op kampus gebruik te maak aangesien hulle “uitersveilig” en boonop gratis is.
“Baie mense op kampus maak ook net een van hul wiele met ’n slot vas. Ek sal mense egter aanraai om beide hul wiele vas te maak, anders steel hulle jou fiets en los net die wiel. Mens sien dikwels op kampus die losstaande wiele,” verduidelik hy.
Koos Uys, ’n derdejaar-bedryfsingenieurswese-student, se fiets is Sondagaand 26 Mei by die Universiteit Stellenbosch biblioteek gesteel. Dit is ’n area wat Uys as veilig beskou het, aangesien kampussekuriteit deurgaans in die omtrek is.
Hy het beide die polisie asook kampussekuriteit in kennis gestel en ’n saak van fietsdiefstal by die polisie oopgemaak. Hy verduidelik egter dat in beide gevalle is daar vir hom gesê dat fietsdiefstal ’n algemene probleem in Stellenbosch is en dat die terugbesorging van sy fiets onwaarskynlik is.
Martin verduidelik dat baie fietse wel deur die SAPD gevind word, maar dat die eienaars die nie by die SAPD-kantore kom afhaal nie. Sy maan verder dat fietseienaars hul fietse met ’n nommer moet merk wat op die fiets uitgekap word en dat eienaars hul fietse moet sluit wanneer hulle dit alleen los.
Van Onselen sê dat daar ’n verskeidenheid fietsslot-opsies beskikbaar is, maar dat mens meer as een slot benodig om te verseker dat jou fiets nie gesteel word nie.
“Die U-lock-slot, ’n groot en sterk staal slot, kan amper glad nie breek nie. Dit beskerm jou fiets as geheel. Mens het egter ook ’n kabelslot nodig om jou wiele te beveilig. Hoe meer slotte daar is hoe moeiliker is dit om ’n fiets te steel,” sê hy.
Verder raai hy fietseienaars ook aan om nie hul fietse te parkeer waar min mense beweeg nie, aangesien dit die dief meer tyd gee om die fiets te steel sonder dat iemand hulle sien.