’n Groep wat na hulself as die Grabouw Khoisan Raad [sic] verwys, maak aanspraak op grond in die Grabouw-distrik wat hulle tans beset en beweer histories aan Khoisan-afstammelinge behoort.
Die groep is volgens Chrisjan Gertse, adjunkvoorsitter van dié raad, al vir ses maande op die grond.
Die Theewaterskloof Munisipaliteit, onder wie se administrasie Grabouw val, is bewus van die gebeure by die stuk grond, wat bekend staan as Knoflokskraal. Dit is deur Hugo Geldenhuys, waarnemende adjunkdirekteur en woordvoerder by dié munisipaliteit, per e-pos aan MatieMedia bevestig.
Die munisipaliteit het egter geen jurisdiksie oor die aanwending van die grond nie, omdat dit oënskynlik aan die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur behoort, het Geldenhuys gesê.
Geldenhuys het verder die situasie by Knoflokskraal as sensitief beskryf en het gesê dat die munisipaliteit tans geen verdere kommentaar oor die situasie kan lewer nie.
“Die munisipaliteit kan hom nie uitlaat oor die beweerde betrokkenheid van ’n Khoisan-raad by Knoflokskraal nie,” het hy gesê.
Die munisipaliteit sal wel volgens Geldenhuys beskikbaar wees om aan interregeringsgesprekke oor die situasie deel te neem.
Terugwinning, nie grondbesetting
Die teenwoordigheid van dié raad op Knoflokskraal is volgens Gertse “’n terugwinning en nie ’n grondbesetting soos wat die regering dit noem op grond van hulle Grondwet nie”.
“Die [Grabouw] Khoisan Raad […] vat terug wat aan ons behoort […] en gee vir ons mense wat hulle toekom,” het hy gesê.
Die groep het laat in April op Knoflokskraal vergader, waartydens Mark Mathews, voorsitter van die Grabouw Khoisan Raad, die inhoud van ’n agenda met belanghebbendes gedeel het.
Daarvolgens sal dié raad elke persoon wat grond op Knoflokskraal by die raad geëis het en ingeneem het, se plot laat skoonmaak en ’n huis van drie meter by drie meter daarop oprig.
Die Grabouw Khoisan Raad in vergadering met belanghebbendes. FOTO: Candice Jantjies
Mathews het egter bygevoeg dat hierdie ontwikkeling teen ’n koste van R1 500 per persoon sal geskied om die skoonmaak van plotte te fasiliteer, boumateriaal aan te koop en om mense te kontrakteer om hierdie take uit te voer.
Dié geld sal volgens Mathews nie fisies deur lede van die Grabouw Khoisan Raad beheer word nie, maar moet direk in die raad se besigheidsrekening gedeponeer word. Dit is, volgens Mathews, sodat belanghebbendes bewyse kan hê van betaling en om te kan “weet hoe geld spandeer word”.
Mense het in groot getalle vergader om sekerheid te kry oor hul grondeise. FOTO: Candice Jantjies
Die Grabouw Khoisan Raad het volgens Gertse ten doel om die grond onder die bruin bevolking van die land te herverdeel. “Solank jy bruin is, vorm jy deel uit van dié gemeenskap, en ons gee vir jou ’n lappie grond,” het Gertse gesê.
’n Anonieme persoon wat die vergadering bygewoon het, het beweer dat dié raad se teenwoordigheid op die grond onwettig is. Mathews het dit erken.
“Dit ís onwettig, maar as [ander groepe] ’n onwettige ding wettig kan kry, dan kan ons ook,” het Mathews gesê.
Mathews het verder beweer dat dié raad die steun van die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur het.
MatieMedia het in verbinding getree met Patricia de Lille, minister van dié department, maar is nog wagtend op kommentaar vanaf haar kantoor.
Sommige mense het alreeds plotte ingeneem met boustrukture. FOTO: Candice Jantjies
Chrisjan Gertse, adjunkvoorsitter van die Grabouw Khoisan Raad, plaas die eis op Knoflokskraal binne geskiedkundige konteks.