Grafskendings wek kommer onder Kylemore-gemeenskapslede 

Inwoners van Kylemore het onlangs hulle stemme dik gemaak op sosiale media nadat gemeenskapslede foto’s van die geskende grafte van geliefdes onder mekaar gedeel het.  Hierdie voorvalle van grafskendings op die dorp was baie ontstellend vir gemeenskaplede, volgens Dephne Mlambo, wie se ma se graf onlangs onder vandalisme deurgeloop het. 

“Toe ek daar kom en die graf sien, was ek so geskok dat ek net vir my suster gevra het dat ons moet terugkeer huis toe. Ek verstaan nie hoe mens dit aan iemand anders se geliefdes kan doen nie,” het Mlambo, wie se ma in die Kylemorebegrafplaas begrawe is, aan MatieMedia vertel. 

 “My hart is stukkend. Dit is hoe ons gister my ma se graf gekry het,” het Dephne Mlambo onlangs in ’n Facebook-plasing gesê. “Kylemore het nou in iets verander waar daar nie eers meer rus en vrede is vir die wie op hul laaste rusplek lê nie.’’ FOTO: Verskaf/Dephne Mlambo

“Ons is nie bewus van hierdie probleem of insidente nie. Daar het geen klagtes ingekom nie, maar ons is besig om dit te monitor,” het ‘n polisiebeampte van  die Groot Drakenstein Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aan MatieMedia gesê.

Kylemore se begrafplase word nie deur die munisipaliteit besit nie, en is dus nie die plaaslike munisipaliteit se verantwoordelikheid nie, het Stuart Grobbelaar, kommunikasiebestuurder by Stellenbosch Munisipaliteit, gesê. “Die grafte daar is op grond wat nie aan die munisipaliteit behoort nie.  Dit is private eiendom,” het Grobbelaar gesê.

Die Anglikaanse Kerk op Kylemore geniet nie voldoende finansiële ondersteuning om die begraafplaas op die dorp te beveilig nie, het Abraham Lackay, opsigter by dié kerk, aan MatieMedia gesê. FOTO: Sebastian Paulus

Sekuriteitsuitdagings

Volgens Abraham Lackay, kerkopsigter by die Anglikaanse Kerk, aan wie die Kylemore begrafplaas behoort, het hulle ’n geweldige uitdaging wat sekuriteit betref.

“Ons ervaar geweldige uitdagings aangaande sekuriteit en veiligheid. Die oop begrafplaas maak dit vir ons moeilik om dit instand te hou. Finansies ontbreek en ons word nie deur die munisipaliteit gefinansier nie, omdat dit private eiendom is,” het Lackay gesê.

Die tekort aan finansies beteken dat ons nie die begrafplaas instand kan hou nie,’’ het Abraham Lackay, kerkopsigter by die Anglikaanse Kerk, aan MatieMedia gesê. FOTO: Sebastian Paulus

‘Misdaad bekamp’

Die plaaslike gemeenskapsbeurtwag neem ook nie verantwoordelikheid vir die veiligheid van die begrafplaas nie, het Louise Messias, die sekretaresse van die Kylemore-gemeenskapswag, aan MatieMedia gesê.

“Die beurtwag in Kylemore is daar om misdaad te bekamp,” het Messias gesê. Volgens haar het baie ’n wanpersepsie oor die beurtwag se rol binne die gemeenskap. 

“Ons as beurtwag kan niks rondom die grafskendings doen nie, omdat ons nie in die nag beskikbaar is vir patrolie nie,” het sy gesê.

 Aangesien die Kylemore-begrafplaas aan die Anglikaanse Kerk op die dorp behoort, is die plaaslike munisipaliteit nie verantwoordelik vir die perseel nie. FOTO: Sebastian Paulus

, , , , , ,