Grafte sink weer na rekord reënval

Nuwer grafte van Stellenbosch se plaaslike begrafplase is oënskynlik beskadig deur onlangse swaar reënval, het ’n werker van Stellenbosch Munisipaliteit, wat vandeesmaand per opdrag grafte in die Devon Park-begraafplaas hervul het, gesê.

Dit volg nadat die begraafplaas in Jamestown vanjaar tydelik gesluit was vir begrafnisse na rekord-reënval.

SMF News het die Devon Park-begraafplaas besoek, en die skade na afloop van die onlangse reëns was duidelik sigbaar.

Baie grafte by die Devon Park-begraafplaas is beskadig deur onlangse swaar reënval, volgens ’n werker van Stellenbosch Munisipaliteit wat die versonke grafte moes hervul. FOTO: Antoinette Steyn

Stuart Grobbelaar, woordvoerder vir Stellenbosch Munisipaliteit, het bevestig dat munisipale amptenare besig is om die skade aan grafte te herstel.

“Ons grawe grond hier langs die grafte, en gebruik dit om weer [die grafte] vol te maak,” het die munisipale werker beweer.

’n Ou probleem

Ná ’n rekord-reënval in Julie, was Jamestown se begraafplaas tydelik gesluit vir begrafnisse, het Grobbelaar gesê. Dit volg nadat die begraafplaas verlede September ook vir ’n paar weke gesluit was as gevolg van reënskade.

Volgens professor Ailsa Hardie-Pieters, medeprofessor van grondkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US), is die rede vir die sinkende grafte waarskynlik die verskil in digtheid tussen die hervulde grond in die graf en die omliggende grond.

“Die versteurde, losgemaakte grond bo-op die kis […] konsolideer en sink wanneer dit nat raak, en verlaag dus die [grondvlak],” het Hardie-Pieters gesê.

Ontbinding van die grafkiste word versnel as die grond nat is, het Hardie-Pieters gesê. “Die kiste stort ineen, en dit kan ook deels verklaar waarom die grafte sink.”

Swaar reënval kan lei tot versnelde erosie van grond bo grafkiste, wat daartoe kan lei dat grafte “sink”, het professor Ailsa Hardie-Pieters, medeprofessor van grondkunde aan die Universiteit Stellenbosch verduidelik. FOTO: Antoinette Steyn

Wat kan gedoen word?

Een moontlike oplossing, voorgestel deur dr. Lawrence Munjonji, grondfisikus by US, is om die grond bo-op die kiste te kompakteer. 

“’n Geperforeerde, voorafvervaardigde betonblad kan net bo-op die kis gelê word om die verdigting van die grond baie makliker te maak.”

Volgens Grobbelaar is daar nie veel meer wat gedoen kan word om te verhoed dat grafte inmekaar sink nie, buiten vir die skoonmaak van stormwaterstelsels en die gebruik van sandsakke.

Intussen is die munisipaliteit ook reeds besig met planne vir ’n nuwe begraafplaas naby Kraaifontein, genaamd Calcutta, het Grobbelaar gesê. “Terreinhaalbaarheid en omgewingstudies vir hierdie projek is aan die gang.”

Werkers van Stellenbosch Munisipaliteit was vroeër in Augustus besig om beskadigde grafte met grond op te vul. FOTO: Antoinette Steyn

, , ,