Häzz met ’n hart

’n Plaaslike liefdadigheidsorganisasie help Stellenbossers om van potte en panne tot matte en meubels by behoeftiges in die gemeenskap uit te bring. 

M&K Open Hearts is verlede jaar deur Kasifha Koopman en Maryke Plaatjies begin nadat twee kinders voor Koopman se deur gelos is. 

“Dit was ʼn seuntjie (2) en ʼn dogtertjie (1) en hulle het baie neglected gelyk,” het Koopman vertel. Koopman het die seun en Plaatjies het die dogter aangeneem. Maar dit het hulle ook geïnspireer om daarna M&K Open Hearts te stig.

Kasifha Koopman, die bestuurder van Häzz, die koffiewinkel in Ryneveldstraat, en mede-stigter van die liefdadigheidsorganisasie, M&K Open Hearts. FOTO: Carl Thomas.

Kasifha Koopman, die bestuurder van Häzz, die koffiewinkel in Ryneveldstraat, en mede-stigter van die liefdadigheidsorganisasie, M&K Open Hearts. FOTO: Carl Thomas.

“ ’n Mens hoor altyd van [aaklige] goed wat gebeur, totdat dit met jou gebeur. [Dán eers] sien en ervaar jy waaroor dit regtig gaan,” het Koopman, ook die bestuurder van Häzz-koffiewinkel in Ryneveldstraat gesê.

Die organisasie maak staat op donasies van die publiek en hou ook fondsinsamelingsfunksies. Koopman en Plaatjies dra ook baie uit hul eie sak by.

Studente, sowel as lede van die breër publiek, skenk dikwels klere, potte, panne en skoene, en selfs matte en meubels. “Alles wat nog mooi lyk, verkoop ons vir fondse en bruikbare goed gee ons aan behoeftiges,” het Koopman gesê.

Foto3_Hazz_Carl

Studente skenk gereeld items aan M&K Open Hearts. Hierdie items word óf verkoop om geld in te samel vir die organisasie, óf aan behoeftiges uitgedeel. FOTO: Carl Thomas.

Fondse word gebruik om skryfbehoeftes en skoolklere vir behoeftige kinders aan te skaf. Die organisie ondersteun ook minderbevoorregte gesinne wat nie elektrisiteit kan bekostig nie.

“Om kos aan skoolkinders te verskaf is ook een van ons grootste doelwitte,” het Koopman gesê.

Robin Mtshweni, ʼn barista by Häzz, wys sy’s baas in die kuns van koffie maak. FOTO: Carl Thomas.

Robin Mtshweni, ʼn barista by Häzz, wys sy’s baas in die kuns van koffie maak. FOTO: Carl Thomas.

Robin Mtshweni, ʼn barista by Häzz, het aan MatieMedia gesê dat Koopman altyd “effort maak” met mense. Marna Booyens, nog ʼn barista, het gesê dat Koopman  ʼn goeie hart het. “Sy gee graag sonder om [enigiets] terug te verwag.”

“Vandag is dit jy, môre kan dit ek wees,”  het Koopman gesê.

,