Verhoor uiteindelik afgehandel
Na ’n verhoor wat 68 dae geduur het, is Henri van Breda Maandag skuldig bevind aan die moord van sy ouers en ouer broer, poging tot moord van sy jonger suster en regsverydeling.
Regter Siraj Desai het Maandag in sy uitspraak gesê omstandigheidsgetuienis dui aan dat niemand anders as Henri van Breda (23) verantwoordelik kon wees vir die bylmoorde op die Van Breda-gesin op De Zalze golflandgoed in Stellenbosch op 27 Januarie 2015 nie.
“Daar is geen bewyse gevind van ’n onwettige inbraak of oortreeder nie; vier van die vyf gesinslede is noodlottig gewond en vir die dood gelaat, maar die wonde van die oorlewene is merkbaar verskillend in intensiteit en omvang; en byna al die bewyse toon dat die beskuldigde se wonde self toegedien is,” lui Desai se gevolgtrekkings.
Desai het ook gesê dat Van Breda genoeg tyd sou gehad het om die moordtoneel te manipuleer om homself soos die slagoffer te laat lyk. “Die enigste logiese gevolgtrekking is dat hy die polisie wou mislei deur aan te voer dat hy en die res van sy gesin deur ’n inbreker aangeval is.”
“Die beskuldigde het opsetlik die polisieondersoek probeer verhinder deur vals inligting weer te gee, waarop die polisie reageer het deur ’n inbreker te probeer naspoor,” het Desai gesê.
Regter Desai het ook gesê dat Van Breda se oproep aan nooddienste ’n “gebrek aan dringendheid” gehad het. “Die gedrag van die beskuldigde tydens ’n onnodige lang gesprek met nooddienste kom hoogs ongewoon voor vir ’n getraumatiseerde slagoffer,” het Desai gesê.
TimesLIVE berig dat Henri, op moontlik die belangrikste dag van sy lewe, sukkel om wakker te bly.
Van Breda se huidige vriendin, Danielle Janse van Rensburg, was ook by die hof teenwoordig en het emosioneel gereageer toe die uitspraak gelewer is. Toe Van Breda geboei is en na selle gelei word het hy ’n soen in Janse van Rensburg se rigting geblaas.
Na onderhandelings tussen Van Breda se verdediging, Adv. Pieter Botha, en die staat se Adv. Susan Galloway, het regter Desai besluit om die vonnisoplegging op 5 Junie af te handel.
Intussen is Van Breda in aanhouding. Botha het Desai versoek om Van Breda in die hospitaaleenheid van Pollsmoor gevangenisdiens te laat opneem omdat hy tans chroniese medikasie vir epilepsie gebruik. Desai het die versoek toegestaan.
Marli van Breda se vorige kêrel, Stefan van der Westhuizen, was een van dié wat Maandag in die hof gehuil het toe Van Breda skuldig bevind is. Van der Westhuizen het gesê hy is bly oor die uitspraak, hoewel hy en Henri op ’n stadium goeie vriende was.
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, het buite die hof gesê hulle is tevrede met die werk van polisielede, en verwelkom die beslissing. Hy het ook bevestig Van Breda word in Pollsmoor se hospitaaleenheid opgeneem tot hy ’n mediese sertifikaat kan oorhandig.