Pinotage is enig in sy soort, en die enigste eg Suid-Afrikaanse rooi tafelwyn wat hom as ‘n kommersiële sukses bewys het. Maar het jy geweet dit is in Stellenbosch gebore?
Prof. Diko van Zyl, voormalige professor aan die Universiteit Stellenbosch (US), wynkenner en skrywer, vertel dat dié suksesvolle variëteit deur ‘n US professor gekweek is.
“Pinotage, as tafelwyn-druifvariëteit, is deur prof. Abraham Perold, ‘n briljante wingerdbou- en wynkundige aan die US, ontwikkel,” vertel Van Zyl. “Hy het twee Europese druifvariëteite wat aan die Kaap onder die wingerdboere welbekend was, naamlik Pinot Noir en Cinsaut (voorheen Hermitage) in 1925 gekruis. Die naam ‘Pinotage’ is dus ‘n samestelling van die name Pinot Noir en Hermitage.”
Die webwerf van die Stellenbosse wynplaas Beyerskloof vertel die verhaal van hoe Pinotage byna per toeval gekweek is. Volgens die webtuiste se geskiedenisblad het Perold ‘n manlike Hermitage (Cinsaut) blom fisies teen ‘n Pinot Noir-stuifmeelskenker geborsel. Dit het hy in 1925 in die tuin van sy amptelike koshuis op Welgevallen se eksperimentele plaas gedoen.
Die eksperiment het vier sade geskep wat hy in dieselfde tuin geplant het, eerder as in die universiteit se kwekery. Wat minder duidelik is, is waarom Perold ‘n skynbaare onpaar gekruis het. Hy het ook geen aantekenings gelaat oor die eksperiment nie, daarom is dit steeds ’n raaisel.
Ná die eksperiment het Perold daarvan vergeet. Hy het twee jaar later die universiteit verlaat om ‘n posisie by KWV in die Paarl te aanvaar. Sy Welgevallen-koshuis het leeggestaan en die tuin het oorgroei. Die universiteit het toe ‘n span gestuur om die terrein op te ruim.
Dit kon die einde van die eksperiment beteken. Maar ‘n jong dosent, Dr Charlie Niehaus, wat van die vier saailinge geweet het, het verby Perold se voormalige koshuis geloop net toe die skoonmaakspan in die tuin ingekom het.
Niehaus was net betyds om die saailinge te red. Niehaus het die saailinge oorgeplant in die kwekery van Elsenburg Landboukollege, waar hulle blykbaar die volgende sewe jaar gegroei het. In 1935 het CJ Theron, Perold se opvolger, materiaal van die saailinge op nuutgestigte Richter 99 en Richter 57 onderstam by Welgevallen ingeënt.
Perold het gereeld besoek aan sy ou stampgronde gemaak, en dit was op een van dié besoeke wat Theron die vier ingeëntes aan Perold gewys het. Perold se entoesiasme van 10 jaar tevore het hervat, en hy het voorgestel dat die nuwe verskeidenheid onmiddellik voortplant.
Beyerskloof se webtuiste sê verder dat dit tydens die besoek aan die wingerde van Welgevallen was dat die naam vir Pinotage gebore is.
Van Zyl sê Prof. Perlold kan dus beskou word as die “vader” van Pinotage in Suid-Afrika.
Pinotage het nie voor die tagtigerjare, gedurende die rooiwynrewolusie, betekenisvolle opgang gemaak nie, meen Van Zyl.
“Die persoon wat die grootste erkenning moet kry vir die ontwikkeling van Pinotagewyn tot een van die hoogste gehalte rooiwyne, is Beyers Truter,” sê Van Zyl.
Truter was gedurende die tagtigerjare die bevoegte wynmaker op die plaas Kanonkop teen die Simonsberge. Vandag is hy die eienaar van die plaas Beyerskloof buitekant Stellenbosch, naby Kayamandi. Hy het tot dusver tientalle erkennings vir sy wyne ontvang, insluitend die KWV Internasionale Perold Trofee vir Beste Pinotage in 2000 en 2001, en in 2003 die Dave Hughes Trofee vir Beste Suid-Afrikaanse Produseerder.
Truter, wat ook die stigter en voorsitter is van die Pinotage-vereniging in Suid-Afrika, kan volgens Van Zyl as die “koning” van Pinotage beskou word.
Sam Lambson, voorsitter van die Stellenbosch Wyn en Kultuurvereniging (USWCS) en derdejaar wynkundestudent, meen Pinotage is ‘n gewilde wyn onder studente vanweë die diversiteit.
“Dit kan in ’n wye verskeidenheid style geproduseer word, van baie lig met ‘n vrugtegeur tot een wat swaarder is en beter verouder.”
“Ons maak seker ons lede ken die geskiedenis van die wyn wanneer hulle die wyn proe en ons drink deesdae gereeld wyne geproduseer van die ouers, Cinsaut en Pinot Noir. Ons sal sekerlik hierdie jaar ook Pinotage dag vier.”
Om by die USWCS aan te sluit kos R500 en kan aanlyn gedoen word. Hulle bied ten minste twee wynproe-geleenthede per week aan, op kampus of by wynplase in die omgewing. Die koste hiervan is by die ledegeld ingesluit.