Historiese boom word monument by Moedergemeente

Die oorblywende boomstomp van die 160 jaar oue Europese eikeboom sal nou ‘n monument word en as aandenking dien. Dit volg na groot skade by die NG Moedergemeente Kerk in Stellenbosch toe een van die boom se eerste tak op 27 Januarie weens kernvrot deur die wind afgewaai is. Só het Leana McLean, sekretaresse by die kerkkantoor, gesê.

’n Historiese Europese eikeboom in die tuin van die NG Moedergemeente op Stellenbosch, het in Januarie weens kernvrot gesneuwel, het Leana McLean gesê. Foto: Marise Schoonraad

Die boom by die Moedergemeente se stam was deurtrek met verrotting. Dit het uiteindelik die boom meer kwesbaar gemaak vir natuurlike elemente, het McLean gesê.

’n Monument sal van die oorblywende stam gemaak word om as herdenking te dien daar waar die boom gestaan het, volgens McLean. Die opgesaagde hout sal verwerk word om tafels te maak wat dan later verkoop sal word, het sy gesê.

“Die boom en bankies was ’n groot aantrekking vir toeriste,” het Anna du Toit, toergids by die kerkmuseum, gesê. Die nuwe aandenking sal egter ook betekenisvol wees, het Du Toit gesê. 

’n Historiese eikeboom in die tuin van die NG Moedergemeente wat weens kernvrot verwyder moes word, is opgesaag en gesonde stukke sal gebruik word om tafels te maak. Die oorblywende boomstomp sal as aandenking dien, het McLean gesê. Foto: Marise Schoonraad

Kernvrot is ’n boomsiekte wat veroorsaak dat hout in verskillende dele van ’n boom afsterf. Dit kan nie behandel word nie en is algemeen in ouer eikebome, het Leon Visser van Trees Unlimited op Stellenbosch, gesê. 

“Die vrot in die boom was op só ‘n plek waar die boom sterkte nodig gehad het,” het Visser gesê.

Die eerste skade aan die boom was tydens sterk wind op 27 Januarie, toe een van die takke die aand opgewaai en die kerk se dak beskadig het, het McLean gesê. ’n Tweede tak het die oggend afgebreek en historiese mure rondom die kerk beskadig. 

Die kerkraad het dieselfde oggend besluit om ‘n verdere tak te laat afsaag, aangesien die boom nie meer stabiel was nie en dit gevaarlik was, het McLean gesê. Die boomstomp is uiteindelik al wat oorgebly het.

’n Historiese boom in die NG Moedergemeente se tuin moes in Januarie verwyder word, nadat takke tydens stormsterkwinde afgeval en kernvrot in die boom geïdentifiseer is, het McLean gesê. Foto: Marise Schoonraad

Die finansiële skade aan die terrein is nog nie bekend nie. “Die emosionele skade is baie erger as die finansiële skade,” het Johan Krige, historiese kenner en lid van die kerkraad gesê. 

Die boom is in 1865 geplant toe die oorspronklike klokstoel afgebreek is en die Gruhl-klokke in die nuwe kerktoring opgerig is, volgens Krige. “Die boom se val merk waarlik die einde van ’n era,” het Krige gesê.

, ,