Hoërskool Stellenbosch gaan groen met sonpanele

Hoërskool Stellenbosch (HSS) het onlangs die installasie van sonpanele op die dakke van die skoolgebou en die skool se koshuis, Huis du Preez, voltooi. 

Die projek is op 23 Maart vanjaar begin en is teen 1 April voltooi.

Dié hoërskool is een van slegs twee skole in Stellenbosch wat tans sonpanele gebruik, het Theo Pellissier, skoolhoof van HSS, gesê.

Die nuwe kragstelsel lewer 25 kWh aan die skoolgebou en 25 kWh aan die koshuis, wat genoeg krag is om die twee geboue bedags funksioneel te hou, het Pellissier gesê.

Benergy Power Systems het die sonpanele oor ʼn tydperk van twee weke op die dakke van Hoërskool Stellenbosch se skoolgebou en koshuis geïnstalleer. FOTO: Verskaf/Ben Forrer  

Kostebesparing

Die dryfveer vir die installasie van sonkrag by die skool was hoofsaaklik kostebesparing. Dit is volgens Pieter Venter, voorsitter van HSS se beheerliggaam. 

Die sonpanele het ʼn dramatiese verskil tot gevolg gehad en die skool se elektrisiteitsrekening met sowat 30% per maand verminder, het Venter gesê.

Hoewel dit ʼn duur projek was, beskou die skool die installasie van die sonpanele as ʼn belegging wat oor die langtermyn meer kostedoeltreffend sal wees.

“Die bestuur van HSS [het] die geleentheid gesien om hierin te belê, want die finansiële model betaal homself terug in drie tot vier jaar teen huidige elektriese koste,” het Sam Pellissier, ʼn argitek wat as projekadviseur vir HSS opgetree het, gesê.

“Grid-tied”-stelsel

Die skool maak gebruik van ʼn “grid-tied-stelsel wat uit twee sleutelkomponente bestaan – sonpanele en ʼn omskakelaar, het Pellissier gesê. Die elektriese krag wat deur sonpanele opgewek word, word deur ʼn hoofsinchroniese omskakelaar direk in ’n verspreidingsbord gevoer en maak op vir die krag wat normaalweg van Eskom verbruik sou word. Dit is volgens die elektriese sonkrag-spesialiste AllSolar

Die proses van ʼn “grid-tied”-stelsel. GRAFIKA: Marianne Stewart. BRON: AllSolar.

“Die skool het twee installasies, elk met ʼn 20 kWh-uitset,” het Ben Forrer, elektriese ingenieur by Benergy Power Systems, gesê.

Die plasing van die sonpanele het ook ʼn belangrike rol in die doeltreffenheid van die projek gespeel. Daarom is “die sonpanele op skadulose dak-areas … geïnstalleer,” het Forrer verduidelik. 

“Die stelsel wek ongeveer 240 kWh per dag op, [waarna die] surplus in die munisipale netwerk teruggevoer word,” het Forrer gesê.

Die sonpanele wat op Hoërskool Stellenbosch se dak gemonteer is. FOTO: Verskaf/Ben Forrer

Beide stelsels by HSS is teen 1 April vanjaar met Stellenbosch Munisipaliteit se 400 V drie-fase-wisselstroom gekoppel en gesinchroniseer. Volgens Forrer is die omskakelaars by HSS aan die bestaande munisipale kragnetwerk gekoppel.

“Indien die skool nie die energie gebruik nie, word dit in die munisipale netwerk teruggeplaas,” het Forrer gesê.

Sonpanele is ook by die skool se koshuis, Huis du Preez, geïnstalleer om verdere kostes te bespaar. FOTO: Marianne Stewart

, ,