Honderde neem deel aan kleur-pretloop vir kankerbewusmaking

’n Plaaslike welsynstigting het onlangs hul eerste kleur-pretloop ten bate van kankerbewusmaking gehou. Sowat 300 deelnemers het opgedaag om die organisasie, Pink Trees for Pauline, te ondersteun. Die geleentheid is by Blaauwklippen-wynlandgoed buite Stellenbosch aangebied. 

Dit is volgens die organisasie se besturende direkteur, Adri Jansen van Nieuwenhuizen. 

Die geleentheid was grootliks op kankerbewusmaking gerig, het Jansen van Nieuwenhuizen, wie in die verlede self borskanker geklop het, gesê.

Pink Trees for Pauline se besturende direkteur, Adri Jansen van Nieuwenhuizen, het deelnemers by die kleur-pretloop verwelkom. VIDEO: Lienke Norval

Terwyl die aantal deelnemers met publikasie nog nie bekend was nie, het Jansen van Nieuwenhuizen gesê dat hulle wel ’n klein wins gemaak het. Hierdie wins sal aan kankerpasiënte en hul families geskenk word, het sy gesê.

Die pretloop was vyf kilometer lank en het deur Blaauwklippen se wingerde gekronkel. Deelnemers is op sekere punte met helderkleurige poeier gegooi.

Deelnemers aan die onlangse Pink Trees for Pauline-pretloop kon mekaar met bekers gekleurde poeier gooi. FOTO: Lienke Norval

Twee deelnemers, Lauren Anthony en Laetitia Makan, het gesê dat hulle albei in radiologie werk en dus op ’n daaglikse basis met kankerpasiënte werk. Beide van hulle het self familielede wat tans kanker het en wat al in die verlede kanker gehad het. Hulle het besluit om die geleentheid by te woon omdat dit ’n lekker manier is om kankerpasiënte verder te ondersteun.

Pink Trees for Pauline bring hoop vir kankerpasiënte

Gidi Caetano, Pink Trees for Pauline se vryskut bemarkingskonsultant, het gesê dat die kleur-pretloop ’n uitbreiding op die organisasie se gewone fondsinsamelingsprojek is, wat die toedraai van boomstompe in pienk lap behels. 

Jansen van Nieuwenhuizen het gesê dat hulle met al Pink Trees for Pauline se projekte beoog om bewustheid te skep en fondse in te samel vir pasiënte wat met enige soort kanker sukkel.

“Die lap word aangekoop deur Pink Trees en dan word dit herverkoop teen ’n klein nominale wins aan mense wat wil deelneem aan die projek. Daardie klein insameling van fondse gaan dan direk na die ondersteuning van die projek toe,” het Caetano gesê.

’n Paar bome by die Blaauwklippen-wynlandgoed is in pienk lap toegedraai tydens die organisasie Pink Trees for Pauline se onlangse kleur-pretloop. FOTO: Lienke Norval

Volgens Jansen van Nieuwenhuizen is Pink Trees for Pauline na die stigter, Carol-Anne van Jaarsveld, se ma en ouma vernoem, wie albei hul lewens aan kanker verloor het en die naam “Pauline” gedeel het.

Jansen van Nieuwenhuizen het gesê dat die organisasie se slagspreuk, “Wrapped in colour, united in hope”, ’n opsomming is van die atmosfeer wat by die kleur-pretloop ervaar is. 

“Kanker het baie fasette. Kanker kan ’n hartseer mens wees, of ’n kind wat nie kos het nie. […] Die vreugde om in hierdie poeier toegegooi te word, was so sigbaar. Die vreugde wat almal beleef het, het ’n bietjie hoop gebring. Vir wat ook al jou ‘kanker’ is,” het Jansen van Nieuwenhuizen gesê. 

Adri Jansen van Nieuwenhuizen (links), besturende direkteur van Pink Trees for Pauline, en Gidi Caetano (regs), die bemarkingskonsultant, staan voor die organisasie se logo by die onlangse kleur-pretloop. FOTO: Lienke Norval