Treine is vir baie mense ’n nostalgiese herinnering uit ’n vorige era. Vir Andries Keyser, eienaar en ontwerper van die Cape Winelands Light Railways, is dit egter sy brood en botter.
Andries Keyser, eienaar van die Cape Winelands Light Railways, sê dit was nie aanvanklik sy plan om met die treinparke te begin nie. Maar toe dit eers “gebeur” kon hulle dit nie stop nie. FOTO: Carla Visagie
Die silhoeët van ’n stoomlokomotief, kompleet met stoomketel, fluitjie en blaaspyp, hang blinkwit in die son sowat 10km buite Stellenbosch op die R304.
Die pynlike noukeurigheid waarmee dié naambordjie die roete na die miniatuur stoomlokomotiewe aandui, is ook sigbaar in elke aspek van die Cape Winelands Light Railways. Alles in dié miniatuur treinpark, selfs die skroefies van die treinspore en die klippies tussen die treinspore, is ontwerp sodat dit ’n derde van die oorspronklike grootte van ’n regte trein en treinspoor is.
Sy hande is al vaal gewerk aan die miniatuur-stoomtreintjies, maar Andries Keyser (34), eienaar en bouer van dié park, se oë glinster terwyl hy vertel van sy obsessie met treine.
“Dis Walt Disney se soort drome. Hy het eintlik begin met treintjies in sy erf voor hy [Disneyland] gebou het. ’n Disneyland vir Suid-Afrika is waarmee ek besig is.”
Daar is net een foto van die Keyser-egpaar in hulle huis, en dit is voor ’n trein geneem, volgens Andries se vrou, Gisela.
“Daar is net treingoedjies in ons huis. Dis treinboeke, treinhoedjies, treintjies… As hy treinbeddegoed kon kry, sou hy seker die gelukkigste seuntjie ooit wees,” sê Gisela.
Dié paartjie het in die Inchanga Choo Choo-trein getrou, en Andries het in haar ring laat graveer “I choo-choo-choose you”.
‘Treintjies, treintjies, treintjies’
Dié treinfanatikus is as 13-jarige deur die “treinparasiet” gebyt. Terwyl ander kinders rugby gespeel het, was dit vir Andries net “treintjies, treintjies, treintjies”. Tót sy ma se resepteboeke is versier met treintekeninge.
“As 13-jarige laaitie kon ek nie regtig Engels praat nie. Toe moes ek myself inwurg daar by die klomp Engelse ooms [by die Pietermaritzburg Model Engineering-vereniging] om hulle te oorreed dat ek hulle treintjies kan ry. Ná ’n baie lang gesukkel en baie nice wees, het hulle my toe begin leer,” vertel Andries.
Andries het aanvanklik meganiese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer, maar hy het ná 10 dae “verveeld geraak”. Op 19 het hy aan sy eerste stoomtrein begin bou.
Dié 34-jarige het die miniatuur-stoomlokomotief, wat hy Doreen gedoop het, binne vyf jaar klaar gebou. Dít terwyl soortgelyke stoomlokomotiewe tot 20 jaar of langer kan vat om te voltooi.
Andries bestuur die Doreen-stoomlokomotief. Hy het dié stoomlokomotief op 24 voltooi. FOTO: Carla Visagie
Volgens Andries het hy uit alle rigtings werksaanbiedinge gekry ná hy dié stoomlokomotief op 24 voltooi het, maar hy kon aanvanklik nie werk in die treinbedryf kry nie.
“Ek het vir ’n rukkie in die motorbedryf gewerk [en] werk gekry in plekke waar masjinerie gebou word. My vaardighede was hoog in aanvraag omdat ek die lokomotief gebou het. Dié 540kg[-lokomotief] was my CV, maar ek kon dit nie pos of faks iewers heen nie.”
Keyser kon uiteindelik sy treinpassie in rand en sent omsit, toe hy in Desember 2014 ’n aanbod gekry het om ’n permanente treinspoor te bou by Piggly Wiggly, ’n koffiewinkel naby Howick in Kwazulu-Natal.
Hy het kort daarna sy eerste elektriese trein vir die die park gebou. Daar is op ’n elektriese trein besluit omdat die bou van stoomlokomotiewe “arbeidsintensief is”.
“Jy operate [die elektriese treine] soos ’n speelgoedtreintjie, met go en stop. Dis dit. Nothing fancy,” sê Andries.
Rekord op rekord
Kort ná hulle troue, het Andries sy vrou se motor verkoop om nóg ’n elektriese trein te bou.
“Sy het toe met my kar gery en ek het maar geloop of bicycle gery.”
Terwyl stoomtreine vrouename kry, word elektriese- en dieseltreine nie benaam nie, “want hulle het nie ’n siel nie,” meen Andries.
Die steenkool wat Andries Keyser vir die stoomtreine gebruik. Een trein kan tot 30kg steenkool per dag gebruik. FOTO: Carla Visagie
Die Doreen-stoomlokomotief se vuurkas word gestook. Dit vat ongeveer ’n uur voor dié stoomlokomotiewe reg is vir aksie. FOTO: Carla Visagie
Behalwe vir die stoomtrein wat hy in ’n rekordtyd gebou het, het Andries en ’n span van 10 ander ook die Guinness-wêreldrekord vir die langste rit met ’n miniatuur-stoomtrein gebreek by die Pietermaritzburgse stoomtreinklub.
“Ek het gedink dit sal moeilik wees om drywers te kry, maar onthou in die toekoms as jy jou vriende bel en sê ‘wil jy my enjin in sy m**r in kom ry’, dan gaan almal ja sê.”
Die Doreen-lokomotief, wat gebruik is om die wêreldrekord op te stel vir die die langste treinrit op ’n miniatuur-stoomtrein, word geolie. FOTO: Carla Visagie
Toe hulle ná 24 uur die rekordafstand van 330km afgelê het, “kon jy net oë en tande sien”. Die rekord, wat hulle met 60km verbeter het, is “amper onbreekbaar”, sê Andries. “Ons was pikswart. Ons het elke uur die drywer omgeruil, want jy kon nie meer asemhaal nie.”
Andries het die spore by die treinpark buite Stellenbosch “lank en reguit gebou”, met die oog daarop om die rekordafstand iewers in die toekoms weer te kan breek. “Maar iemand anders moet dit eers breek; ek wil nie my eie rekord breek nie.”
Andries meen sy obsessie gaan nie nét oor die treine nie, maar ook oor die “moontlikheid om enigiets wat jy sien, te kan maak”.
“As jy kyk na hierdie bankie… iemand, iemand het dit gemaak,” sê Andries. Hy verwys na die belangrikheid van mense wat deeglik kan ontwerp; in die geval van ’n bankie, byvoorbeeld, sodat dit bruikbaar is en nie sal omval nie. “Iemand het die skroewe ingesit, iemand het die plankies gesny. As jy eers agterkom dat alles rondom jou gemaak is deur íémand, respekteer jy dit meer.”
En toe kom Covid
Benewens die treinpark buite Stellenbosch, het die Keysers ook ’n miniatuur-treinpark in Ballito gebou, en een by Piggly Wiggly. Die park in Stellenbosch is egter die jongste en grootste.
In die beginstadium van die park se konstruksie, het die Keysers sowat 40 000km in ses maande gery om die lokomotiewe en treintoerusting van Pietermaritzburg af Stellenbosch toe te vervoer.
“Ons het al die treine met ’n bakkie en m**rse sleepwa vervoer hiernatoe,” vertel Andries.
Dié paartjie het in Maart 2019 van Pietermaritzburg af Stellenbosch verhuis. Binne nege maande vandat hulle Stellenbossers geword het, is bouwerk aan die park voltooi. Die Keysers het meeste van die werk self gedoen.
“My vrou het die kompakteerder gery [om die grond gelyk te maak vir die treinpark], for goodness sakes, hierso in die son,” het Andries gesê.
Die bouwerk vir die treinpark is op 13 Desember 2019 voltooi, en die volgende dag is die park oopgestel vir die publiek.
“Daardie hele stasie het ons gebou in 30 dae. Ek het dit hier onder ’n boom gebou. Ons het hom hier bo geswys en hom afgedra soontoe – stuk vir stuk,” sê Andries.
Skaars drie maande ná die treinpark volstoom aan die gang was, is die Keysers se planne gekelder deur die Covid-19-pandemie en die grendelstaat wat sedertdien in plek was. Dit was uitdagend, maar hulle het vasgebyt, volgens Andries.
“Ons spandeer nog steeds niks geld nie, want ons weet nie waarheen ons op pad is nie. Daar is geen besigheidskool of handleiding wat vir jou kan leer om te prepare vir ’n pandemie nie. Gelukkig het ons reserwes opgebou vir die winter, want gelukkig het ek geweet dit reën hier in die winter.”
Soos die ware Jakob
Danita Gibson, kaartjieverkoper by die park, meen die lekkerste deel van die park is om te sien hoe kinders die Keysers se handewerk geniet.
“Jy sien die klein Andriese in die kinders,” sê Danita Gibson, wat ook een van die Keyser’s se jarelange vriende is, oor die park. “Dis baie lekker om te sien wat hulle vermag het in die kort rukkie. Vandat hulle getrek het [van Pietermaritzburg af] totdat die park staan… [dit was] nie eens ’n volle jaar nie. Dit wys vir jou die toewyding. Hopelik sal [jonger generasies] dit in stand hou as ons nie meer die dag daar is nie.”
Die park is tans net oor naweke oop. Gedurende die week, doen Andries herstelwerk en instandhouding aan die treine.
“My gunstelingtrein is een wat nie breek nie… een wat nie vandag gebreek is nie. Ek hou net daarvan om te sien dat die goed werk,” sê Andries.
Die “nice ding” van die parke, is dat hy geweldig genot daaruit put om dit self te bou, maar dan ook kan sien hoe ander mense dit geniet, sê hy.
Die kinders geniét die treine, maar die ouers waardeer die sorgvuldigheid wat in die konstruksie daarvan gegaan het, meen Andries.
“Die brûe is gespan sodat, as jy oor hom ry, klink dit soos die regte brug. As ek hom net normaalweg doen, klink dit nie soos die regte ding nie.”
Andries besig om oor die miniatuur Golden Gate-brug, wat hy self geswys, het te ry. FOTO: Carla Visagie
Selfs die tonnel waardeur die spoorweë loop is só ontwerp dat dit lank genoeg is om ’n eggo te hê as die trein volstoom daardeur ry. “Dit moet letterlik in jou bors stamp as jy met ’n stoomenjin daardeur ry, want dit is hoe die regte [treintonnels] klink,” verduidelik Andries.
“Jy sal sien die stasie het nie vensters in nie, maar dit het staalwerk in wat dit laat lyk asof hy vensters in die dak het. As die skaduwees daardeur val en daar is bietjie rook, dan lyk dit soos ’n ou stasie, dáái tipe nonsens. Net ek sien dit, maar dit maak my gelukkig.”
Andries se liefde vir dáái tipe nonsens treine het ook al vir baie manewales gesorg. Soos die keer toe hy besluit het om een van sy treine saam te neem op vakansie. Dié treinliefhebber het in 2018 in Knysna gaan vakansie hou, en die Doreen-stoomlokomotief aangepas om die hooflyn tussen Brenton-on-Lake en die Knysna-treinstasie met haar aan te pak.
“Transnet wou my toesluit. Hulle is nog steeds kwaad vir my,” volgens Andries.
Andries sê hy wil mense laat besef dat dit nie net die Sheldon Cooper’s (die hiperintelligente en sosiaal vreemde hoofkarakter van The Big Bang Theory-faam) van die lewe is wat versot is op treine nie.
“Dis nie ’n skande om van treintjies te hou nie. Almal sê ek is soos Sheldon. Ek is nie soos Sheldon nie. Daar is ander semi-normale mense soos ons wat ook daarvan hou,” sê Andries.