Huis Horison, ’n tehuis vir persone met intellektuele gestremdhede, bied al vir die afgelope 47 jaar lank ’n veilige hawe vir persone met gestremdhede. Inwoners van dié tehuis meen dat dit soos een groot huishouding voel.
Huis Horison, ’n tehuis vir mense met intellektuele gestremdhede, het tans ongeveer ’n 100 inwoners. FOTO: Carla Visagie
Mag hierdie huis jou lewe beskerm. Mag al die laste van die wêreld van jou skouers af val as jy hier instap. Dít is die woorde waardeur inwoners van Huis Horison, ’n tehuis en werksentrum vir persone met intellektuele gestremdhede, begroet word as hulle die voorportaal van dié sentrum instap.
Huis Horison het in 1974 sy deure geopen nadat Mimmie Verster – ’n onderwyser wat klasgegee het vir leerders met intellektuele gestremdhede – al in 1957 ’n vereniging gestig het wat persone met intellektuele gestremdhede ondersteun, volgens Elzabi van Wyk, bemarkingshoof van Huis Horison. Dit volg ná Verster ’n nood geïdentifiseer het vir ondersteuning aan verstandelik gestremde mense nadat hulle skool verlaat.
“Wat tipies gebeur het, is dat hulle in die skool gehelp word, maar as hulle volwasse raak, kan hulle nie na hulself kyk nie,” het Van Wyk aan MatieMedia gesê. “Daar is ’n behoefte vir ’n plek waar hulle geborge kan wees, waar hulle veilig kan wees en opgepas kan word. Hulle het nie altyd die vermoë om agter te kom dat hulle ingedoen word nie.”
Daar is sowat 100 inwoners in Huis Horison, en 20 van die inwoners het geen ander heenkome nie, volgens Van Wyk.
“Daar is so 20 mense by ons wat nie ander heenkome het nie, ons weet nie wie is hulle families nie. Daar is ’n hele paar mense wat nie ’n ondersteuningsnetwerk het nie, en daarvoor doen ons dan baie fondsinsamelings soos markdae, gholfdae en kermisse wat dan help dan die tekort,” volgens Van Wyk.
Een van haar gunstelingdele van die tehuis is dat sy altyd tussen ’n klomp vriende kan wees, volgens Hessie Mostert (65), die inwoner wat al die langste deel is van Huis Horison.
“Ek kan nie iets uitsonder waarom ek van Huis Horison hou nie, seker die rustigheid en die huislikheid hier,” het Mostert, wat al vir 47 jaar lank in Huis Horison woon, gesê.
Die inwoners van Huis Horison pak dikwels kunstige projekte saam aan, waarna dit opgehang of verkoop word by markte en fondsinsamelings, volgens Elzabi van Wyk, bemarkingshoof van Huis Horison. FOTO: Carla Visagie
Lewe in Huis Horison
Die tehuis het verskillende werksareas, en alle inwoners, uitsluitend bejaarde inwoners, klok daagliks om 9:00 vir werk in, volgens Van Wyk.
“Elke mens word soos ’n individu behandel. Hulle word geëvalueer volgens hul eie belangstelling en vermoëns ingedeel in ’n groep,” volgens Van Wyk.
Huis Horison, ’n tehuis vir mense met intellektuele gestremdhede, het ook ’n groentetuin wat deur inwoners van die tehuis onderhou word, en dié groente gebreuik die kombuis weer vir maaltye, sê Elzabi van Wyk, bemarkingshoof van Huis Horison. FOTO: Carla Visagie
Die verskillende areas waar inwoners betrokke is, sluit onder meer die wassery, kombuis, tuin, bakkery en die houtwerk- en handwerkareas in. Groepwerk waar al inwoners saam kommunikasievaardighede leer is ook soms deel van die skedule.
“Ons het ook twee herwinningsareas, een doen herwinning, bottels, karton en papier, en die anderkant doen net papier. Alles wat hier gedoen word, word op ’n terapeutiese manier gesien,” verduidelik Van Wyk.
Juanita Bester (70), is een van die bejaarde inwoners wat dit geniet om handwerk te doen, en volgens Bester hou sy veral daarvan om mussies te brei. “Ek brei mussies vir kleinkinders en mense wat nie het nie. Ek gee dit verniet, mense het klaar twee bestel hierso.”
Juanita Bester (70) een van die inwoners wat al vir 45 jaar in Huis Horison woon, sê sy gee die mussies wat sy brei verniet weg vir “mense wat nie het nie”. FOTO: Carla Visagie
Hessie Mostert en Juanita Bester, inwoners van Huis Horison wat al vir jare lank vriendinne is. FOTO: Verskaf
Bester is al vir 45 jaar lank vriende met Mostert en hulle voel al amper soos susters, vertel Mostert.
“Ek en Pottie [Bester] is al 46 jaar vriendinne. Sy voel maar soos ’n ouer suster. Ons kom uitstekend oor die weg. As jy haar nie die oggend sien nie, wil jy weet waar sy is,” meen Mostert.
Hoewel mens nooit kan afskakel as jy by Huis Horison werk nie, verryk die inwoners haar lewe, sê Dr. Magdie van Heerden, residensiële hoof van Huis Horison. “Jy kan hóé moeg wees, hulle maak altyd jou dag.”
Die Covid-19-pandemie was ’n moeilike tyd vir die tehuis omdat inwoners meestal nie in die werksareas kon werk nie, asook omdat inwoners wat by die huis gaan kuier het vasgevang was daar, volgens Van Wyk.
“Dit was ’n uitdaging, want roetine is baie belangrik vir ons mense, en as jy daai roetine breek, dan raak mense onrustig. Party mense kan nie uitdruk wat hulle presies voel nie, maar die karma word gebreek as die roetine te veel gebreek word,” meen Van Wyk.
Van Wyk het bygevoeg dat dit soms uitdagend was om gesondheidsmaatreëls toe te pas in die tehuis tydens die tehuis.
“Tydens [die] Covid[-19-pandemie] moes hulle regtig geleer word hoe om ’n masker te dra, wat dit beteken, hoe om hande te was, hoe om vir jouself te sorg. Dis basiese lewensvaardighede wat ons as normaal beskou, maar wat vir hulle oor ’n lang tydperk nog aanhou leer moet word,” sê Van Wyk.
Die handwerkarea in Huis Horison, waar inwoners ongeveer 700 maskers en beskermende toerusting gemaak het tydens die pandemie, volgens Horison Nuus, Huis Horison se tweejaarlikse nuusbrief. FOTO: Carla Visagie
Die houtwerkarea van Huis Horison, waar inwoners houtmeubels en -speelgoed maak asook rottang- en riempiesmeubels herstel. FOTO: Carla Visagie
Wanopvattings oor intellektuele gestremdheid
Hoewel almal in die tehuis soos familie voel, meen Van Wyk dat daar tóg van die inwoners is wat moontlik kan voel dat hulle verwerp word deur die samelewing. “Wat die plek spesiaal maak is dat hulle nie hier geoordeel word nie, hulle word aanvaar vir wie hulle is en word ingeskakel op die mooiste moontlike manier.”
Mense het dikwels ’n vrees om met persone wat intellektueel gestremd is te gesels as gevolg van “onsekerheid oor wat om te verwag”, volgens Van Wyk.
“Maar dit vat amper net een gesprek om oor daai ongemaklikheid te kom en daar is soveel liefde,” verduidelik Van Wyk.
Dis belangrik om te besef dat persone met intellektuele gestremdhede ook drome en stories het, en hulle wil ook weet dat daar ’n toekoms vir hulle is, volgens Van Wyk.
Een van Van Wyk se mees besonderse herinneringe by Huis Horison was dat sy een van die inwoners kon help reël om sy droom waar te maak, toe Huis Horison vir hom fondse ingesamel het vir die Kaapstad-fietstoer en hom ingeskryf het daarvoor.
“Dit was vreeslik lekker om te reël dat hy die Kaapstad-fietstoer kan gaan ry, want dit was nogals ’n groot onderneming,” sê Van Wyk, wat saam met Mulder aan die fietstoer deelgeneem het.
Nicolaas Mulder, een van Huis Horison se inwoners, wat in 2020 aan die Kaapstad-fietstoer deelgeneem het nadat ’n weldoener ’n fiets vir hom geskenk het. FOTO: Huis Horison-webwerf
Personeellede wat by Huis Horison het ’n “ongelooflike geduldigheid” omdat hulle altyd tyd maak om na inwoners se stories te luister.
“Die stories is vir my die lekkerste en jou hart sit saam met die mense. Die gebou is koud, maar binnekant is daar hierdie ongelooflike liefdevolheid, warmte en opregtheid.”