Indaba wil transformasie meebring

Die studenteraad van Fakulteit Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) se jaarlikse transformasie-indaba het vanjaar ’n platform vir studente geskep om die verskeie bekommernisse en uitdagings wat hulle ervaar, te bespreek. 

Dié indaba het weens die Covid-19-regulasies op 8 Augustus aanlyn plaasgevind. 

Tydens die indaba is onder meer onderwerpe soos die heraansoek-proses, jaarlikse assesserings, die rol van klasverteenwoordigers, taal en inklusiwiteit, aanlyn onderrig, vrouebemagtiging, geestesgesondheid, ondersteuning aan eerstejaarstudente en aanvullende studies, bespreek. 

Die bemarkingsfoto wat op sosiale media geplaas is om studente aan te moedig om aanlyn te registreer en aan dié indaba deel te neem. FOTO: Instagram/@stellenbosch_engineering_sc

Die bemarkingsfoto wat op sosiale media geplaas is om studente aan te moedig om aanlyn te registreer en aan dié indaba deel te neem. FOTO: Instagram/@stellenbosch_engineering_sc

Volgens Priyanka Govender, hoof van die portefeulje vir vrouebemagtiging en transformasie vir die Fakulteit Ingenieurswese se studenteraad, poog hulle om deur dié besprekings studente se ervarings te verander en te verbeter. 

“Deur ’n oop kanaal van kommunikasie te handhaaf kan ons verseker dat nie één van ons studente uitgesluit word nie,” het Govender aan MatieMedia gesê. 

Transformasie kan nie dadelik plaasvind nie, maar die indaba is alreeds ’n stap in die regte rigting, het Govender gesê. 

“Die volgende stap is om nou ’n verslag – wat die belangrikste inligting [van die indaba] bevat –  aan die bestuur van die fakulteit te oorhandig, met die hoop dat dit ’n invloed op toekomstige besluitneming binne die fakulteit sal hê,” het Govender gesê. 

Volgens Jarryd Luyt, voorsitter vir die Fakulteit Ingenieurswese se studenteraad, is dié inligting baie nuttig. 

“Die fakulteit verwelkom enige inligting wat tot positiewe transformasie kan bydra omdat dit ’n manier is om kommunikasie tussen studente en die fakulteitsbestuur te vergemaklik,” het Luyt  gesê. 

’n Skermgreep van die besprekings wat rondom geestesgesondheid tydens die transformasie-indaba op die aanlynplatform, Microsoft Teams, plaasgevind het. SKERMGREEP: Heidi-Jane de Wee

’n Skermgreep van die besprekings wat rondom geestesgesondheid tydens die transformasie-indaba op die aanlynplatform, Microsoft Teams, plaasgevind het. SKERMGREEP: Heidi-Jane de Wee

Die indaba is ’n geleentheid om na ander se opinies te luister, veral oor onderwerpe waaroor daar nie gereeld gepraat word nie, het Chad Chandrapaul, ’n tweedejaar bedryfsingenieurswese student aan die US, gesê. 

“Die indaba was vir my ’n geleentheid om my mening te lig sonder enige oordeel,” het Chandrapaul, gesê. 

Die Fakulteit Ingenieurswese was teen die tyd van publikasie nie beskikbaar om MatieMedia se vrae met betrekking tot die transformasie-indaba te beantwoord nie. 

, , ,