Inez du Toit: Modeontwerp en besigheid gaan oor impak

Inez du Toit, die direkteur van Elizabeth Galloway Academy of Fashion Design, gesels oor haar lewensingesteldheid en hoe sy ’n impak wil maak op die samelewing deur opleiding en ontwikkeling.

Inez du Toit sit om ’n tafel in ’n werkswinkel saam met vier van haar kollegas. “Die derdejaars is besig met mock-interviews in my kantoor,” verduidelik sy. Inez is sedert 2011 die direkteur van Elizabeth Galloway Academy of Fashion Design, die skool vir mode en ontwerp wat in 1996 deur haar ma, Elizabeth Galloway, gestig is. 

Inez du Toit, direkteur van Elizabeth Galloway Academy of Fashion Design, is besig om in ’n werkswinkel te werk omdat haar studente haar kantoor gebruik vir onderhoud-oefenings. FOTO: Rachel Jonker

“Hier breek ons nou stereotipes oor die mode-bedryf: Dat mense in die mode-bedryf nie eet nie,” skerts Inez terwyl sy springmielies in haar mond sit. Sy dra ook nie grimering nie. “Ek het gaan grimering koop vir daai dag,” bieg sy oor haar verskyning op Xpresso om die Elizabeth Galloway x RSG matriekafskeidsprojek te bemark. 

Gekenmerk deur leergierigheid 

Inez wou haar voorgraadse studies benut om die breedste moontlike blootstelling te kry. Sy het begin met Maatskaplike werk by die Universiteit Kaapstad. Sy was mal oor die keusemodules: isiXhosa, Afrikaanse Media Studies, dramaklasse en veral die regsvakke. 

“Dit het my goed voorberei vir my honeurs, want my honeurs was redelik algemeen,” sê Inez. Sy beskryf haar honeurs in Organisatoriese Veranderingsbestuur as ’n produk van sy tyd. Dit was kort na die finansiële krisis van 2008, so alles was oor hoe om die stukke op te tel en hoe om departemente en verskillende spanne te versoen na die verwoesting wat die finansiële krisis gesaai het. ’n Deeglike regskennis het haar ook goed te pas gekom en “om te werk met die human element van besigheid” was vir haar lekker. 

Inez sê sy moes aan haar ma bewys dat sy nie by Elizabeth Galloway werk as ’n maklike uitweg nie. As sy werklik daar wou bly, moes sy ’n voorlegging doen van wat sy by Elizabeth Galloway wil doen en wat sy wil verdien. 

Inez du Toit, direkteur van Elizabeth Galloway Academy of Fashion Design, staan voor ’n temabord in die werkswinkel. FOTO: Rachel Jonker

“Toe skryf ek vir haar ’n proposal… ek weet nou nog nie of sy dit gelees het nie. Ek dink sy het dit net so gevoel, toe’s sy soos, ‘oukei hier is genoeg werk.’” 

Inez het tussen 2009 en 2011 Elizabeth Galloway se programme laat akkrediteer by die departement hoër onderwys. Daarmee saam moes sy byna al die personeel stuur vir verdere opleiding. “[Ek het] ses mense gaan inskryf vir kursusse en hulle almal deurgesleep of gestoot of ge- … ek weet nie wat nie.” 

“[Inez] glo werklik dat mode mense se lewens kan verander,” sê Thabiso Musi, besigheidstudiesdosent by Elizabeth Galloway. Hy vertel hy het haar oor iets onbenulligs gevra, waarna die gesprek gedraai het na hoe die mode-bedryf die samelewing kan verander. 

Inez en Elizabeth 

In die hoek van die werkswinkel is daar klomp klere op reëlings. Inez haal van die klere af ─ twee gebreide rokkies. Dit was haar ma en haar tannie se kerkrokkies, vertel sy. “Hulle het in die Noord-Kaap gewoon, so die winters was baie koud. Soos hulle gegroei het, het my ma se ouma net nog ’n randjie by gebrei.” 

Inez du Toit, direkteur van Elizabeth Galloway Academy of Fashion Design, haal die rok wat haar oumagrootjie vir haar ma, Elizabeth Galloway, gemaak het, van die argiefrak af. FOTO: Rachel Jonker

Haar ma is in 2021 gediagnoseer met aggressiewe Melanoma. Sy is in September 2023 oorlede. “Dit was erg om te sien hoe ’n vrou wat al hierdie soort van single-handedly begin het, net vergaan,” sê Inez. “Maar ek dink ook die feit dat sy Elizabeth Galloway begin het, is… hier staan dit nog. Sy is nog hier. Ek dink nie baie mense het so ’n tipe nalatenskap nie.” 

Inez sê hoe daar honderde mense haar ma se gedenkdiens bygewoon het by die Akademie. “Sy is een van die gelukkiges. Sy is nie oorlede en net vergeet nie. Mens weet nie eens wie almal daagliks sterf nie, maar baie mense het geweet toe sy oorlede is. Dit het ’n impak gehad.” 

Mentor en rolmodel 

“Die eerste ding wat jy van Inez moet weet, is dat sy wil hê dat haar professionele beroep iets vir die samelewing moet beteken,” sê Musi. Hy verduidelik dat haar fokus allereers is om ’n impak te hê, dan om wins te maak. “Nie om te sê dat daar by haar ’n naïwiteit bestaan oor winsbejag nie. Nooit nie.” 

“Sy is opgeruimd, baie eerlik en bewonderingswaardig. Sy durf soveel aan dat mens nie kan raai hoeveel sy doen nie, en tog is sy net altyd nog ’n positiewe invloed op jou lewe,” is hoe Gaby McDonald, ’n vierdejaarstudent, Inez beskryf. 

Springmielies is al wat sy sugarcoat 

Alicia Landsman, ’n dosent by Elizabeth Galloway, sê Inez en haar ma het dieselfde dryfveer: Om mense meer vaardighede aan te leer. Hul grootste gedeelde waarde hul eerlikheid is. Die enigste ding wat sy “sugarcoat”, is haar springmielies, volgens Landsman. Dit doen sy letterlik… 

I sugarcoat my popcorn,” skerts Inez du Toit, direkteur van Elizabeth Galloway Academy of Fashion Design. FOTO: Rachel Jonker

Inez sal nie doekies omdraai om vir jou uit te wys waar jy kan verbeter nie, volgens Landsman. Sy sal dit uitwys selfs al wou jy net bevestiging of troos hê. Landsman sê dat Inez jou sal terugstuur met die opdrag om nog meer bronne te gaan raadpleeg of een of ander potgooi daaroor te gaan luister. 

“Sy het die uiterste selfvertroue,” sê Musi. Hy verduidelik dat Inez glo in haar idees, want sy baseer dit op akademiese studies en op navorsing, en sy dink vreeslik baie daaroor. 

Nadat Inez haar eerste klas gegee het, het sy besef: “Hierdie is wat ek wil doen. Ek wil nie daardie kantoorwerk doen nie.” Sy sê sy kon intussen mense aanstel wat haar kan help daarmee. “As jy die regte mense aanstel, hoekom stel jy hulle aan as jy nie vir hulle gaan luister nie?” 

“Potensiaal,” beweer Inez, is al manier waarop sy die Suid-Afrikaanse mode-bedryf en mark kan beskryf. “Daar is nie veel behalwe potensiaal nie, die mark is geensins vol nie.” 

Meer hoër grade en meer akkreditasie is nie die pad vorentoe is vir Elizabeth Galloway nie, volgens Inez. Sy probeer haar vinger op die pols van die modebedryf in Suid-Afrika hou en uitvind hoe sy die Elizabeth Galloway studente verder kan ondersteun wanneer hulle die wye wêreld ingaan. 

“Stiksters,” sê Inez. As Elizabeth Galloway stiksters kan oplei, wat die studente kan subkontrakteur om hul ontwerpe te maak, kan ’n groot gaping moontlik aangespreek word. 

“Maar dit is moeilik, want om lap te kry is moeilik, om vervaardiging te kry is moeilik, om mense wat vir jou kan stik te kry, is moeilik. So ja, daar’s space in die mark, maar daar is so baie limitations in die industrie dat dit moeilik is om die mark te diens.” 

Die uitdagings van gebrekkige vertroue 

“Fashion is nog baie nuut in Suid-Afrika,” sê Inez. “En mense vertrou dit nie as ’n beroep nie.” 

Sy vertel hoe ouers steeds na hulle ope dae toe kom en vra waar hul kinders eendag gaan werk. “Hulle sal ’n werk kry by ’n groot maatskappy, óf werk kry by ’n klein onafhanklike persoon, óf hulle eie besigheid stig, soos enige prokureer of rekenmeester.” 

“Die industrie in Suid-Afrika is so honger om jongmense te support om die industrie verder te vat in die toekoms in, hulle sal met jou sit en hulle sal daai lap met jou uit-figure en vir jou daardie agt meter maak,” vertel Inez. 

“Sy is opgeruimd, baie eerlik en bewonderingswaardig,” is hoe Gaby McDonald, ’n vierdejaarstudent, Inez du Toit, direkteur van Elizabeth Galloway Academy of Fashion Design, beskryf.

,