’n Stellenbosse student is aangewys as die wenner van hierdie jaar se IdeasForChange-innovasieuitdaging. Die wenner, Tumelo Mokoena studeer elektroniese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch.
Mokoena het op 27 November met ’n eersteplek en R20 000 uit die kompetisie weggestap om sy idee, Safeguard Stellies, verder te ontwikkel. Hy was een van drie finaliste van hierdie jaar se IdeasForChange-innovasieuitdaging.
Hierdie uitdaging is deur Stellenbosch Network aangebied. Volgens Stellenbosch Network se webtuiste is hierdie organisasie ’n interdissiplinêre lidmaatskaporganisasie wat mense uit die industrie, regering, gemeenskap en akademie byeenbring.
Die Universiteit Stellenbosch se Launchlab, in samewerking met Stellenbosch Netwerk, bied jaarliks die “IdeasForChange”-innovasieuitdaging aan. Deelnemers het hierdie jaar praktiese oplossings vir gemeenskapskwessies soos misdaad, veiligheid en infrastruktuur vir dié uitdaging ingeskryf. FOTO: Maliza Adendorff
Die finaliste, Luke van Wyk, Tumelo Mokoena en Chiedza Vushe, is reeds in Oktober op Stellenbosch Netwerk se Facebookblad bekendgemaak. Vushe en Mokoena studeer ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch, terwyl Van Wyk reeds as ingenieur werk, volgens Mokoena.
Deelnemers wat hierdie jaar idees ingeskryf het, moes praktiese oplossings skep vir misdaad, veiligheid en infrastruktuur in Stellenbosch.
Volgens Jeraldene Menon, woordvoerder van Stellenbosch Netwerk, is die uitdaging ’n jaarlikse kompetisie. In e-pos korrespondensie het Menon aangevoer dat die uitdaging se doelwitte nie net is om kwessies op te los nie, maar ook werkskepping en om positiewe sosiale impak te maak. Sy het ook aangevoer dat die finaliste in ’n aanlyn stemproses deur die publiek gekies is.
Misdaad en veiligheid
“[Die tema] is regtig relevant, veral na aanleiding van wat nou in Stellenbosch aangaan,” het Mokoena gesê. Volgens Mokoena is van sy vriende al in Stellenbosch beroof.
Mokoena se idee was om persoonlike veiligheid verbeter met “Safeguard Stellies”, ’n noodhulparmband wat owerhede met behulp van GPS-koördinate, hommeltuie en videomateriaal van misdaadinsidente kan inlig.
“Ek het ’n opmerking [op sosiale media] gesien dat mense bang was dat hul fone, tablette en rekenaars gesteel kan word. Nou is mense bang om hul lewens te verloor,” het Mokoena gesê.
’n Student aan die US, Jesse Mitchell is vroeër vandeesmaand in Stellenbosch beroof en vermoor. “[Misdaad] is voortdurend in Stellenbosch, sê Tumelo Mokoena, ’n finalis aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Launchlab “IdeasForChange”-uitdaging. “Maar dit het eers onlangs geweldadig begin word.” FOTO: Maliza Adendorff
Infrastrukuur
Luke van Wyk, ’n siviele ingeneur, is “diep passievol” oor die verbetering van stedelike mobiliteit.
“[Minibus taxi’s] speel ’n deurslaggewende rol en is broodnodig, maar daar is ’n gaping in die inligting wat vir passassiers beskikbaar is,” het Van Wyk gesê. “Dis baie moeilik om taxi’s te gebruik as jy nie weet hoe die sisteem bedryf word nie.”
Van Wyk se idee was om ’n sisteem te skep wat inligting oor die roetes vir taxi-bestuurders en passassiers kon oordra om die gebruik van taxi’s meer toeganklik te maak.
Op die spel
Buiten die prysgeld was daar baie meer wat aan die wenner van die uitdaging belowe was, het Van Wyk gesê.
“Ons kry mentorskap […] om ’n besigheidsidee aan te bied, maar ook ondersteun deur Ranyaka of Launchlab om [die idee] verder te ontwikkel […] ook in terme van finansiële ondersteuning en netwerk-geleenthede,” het Van Wyk gesê.
Ranyaka is volgens hulle webtuiste, ’n nie-winsgewende stedelike beplanningskonsultasiediens. Launchlab is deel van die US se Innovasie- en Kommersialisasie afdeling. Die beoordelaars van die innovasie-uitdaging is deel van verskeie organisasies en of belanghebbendes binne Stellenbosch wat beide begrip het vir die gemeenskapskwessies wat Stellenbosch in die gesig staar, maar ook oor entrepreneurskap.
Volgende stappe
Mokoena het gesê dat die prysgeld wat hy gewen het, die besigheid op koers gesit het om die eerste fases van SafeGuard Stellies te ontwikkel.
Tumelo Mokoena studeer ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US). Hy het hierdie jaar ingeskryf vir die #IdeasForChange-innovasie-uitdaging. Hommeltuie wat met GPS-koördinate werk en videomateriaal van insidente neem is ’n integrale deel van sy idee “SafeguardStellies” wat op persoonlike veiligheid fokus. FOTO: Maliza Adendorff
“Om die innovasie-uitdaging te wen was ’n groot mylpaal vir die besigheid,” het Mokoena gesê.
“Dit het die projek momentum gegee.” Volgens hom, kan die besigheid nou begin om sleutelkomponente soos die selfoontoepassing en die noodhulparmband te ontwikkel. “Die ondersteuning van Stellenbosch Network was ongelooflik aanmoedigend.”
Die #IdeasForChange-innovasie-uitdaging word jaarliks deur Stellenbosch Netwerk aangebied. Volgens Stellenbosch Network se webtuiste is hierdie organisasie ’n interdissiplinêre lidmaatskaporganisasie wat mense uit die industrie, regering, gemeenskap en akademie byeenbring. Hierdie jaar se deelnemers moes met idees voorendag kom wat kwessies soos gemeenskapsveiligheid, infrastruktuur en misdaad aan roer.