Inskrywings stroom in vir vanjaar se  Woordfeeskortverhaalkompetisie

Inskrywings van regoor die wêreld is reeds ontvang vir vanjaar se Stellenbosch Woordfeeskortverhaalkompetisie, het Candice Jantjies, publisiteitsbestuurder van die fees, gesê. 

“Die kompetisie gaan jaarliks van krag tot krag met 368 inskrywings wat laasjaar ontvang is. Hierdie jaar sal die 25ste Woordfees wees en die tiende Woordfeeskortverhaalkompetisie, so dis baie spesiaal,” het Jantjies gesê. 

Vanjaar is heelparty interessante inskrywings ontvang, onder meer van Suid-Afrikaners wat in Nederland en Australië woon, asook ‘n inskrywing deur ʼn persoon bo 80, het Jantjies gesê. 

In  ʼn ander geval het drie generasies uit dieselfde gesin kortverhale ingeskryf:  ʼn 11-jarige, ʼn pa, en ʼn oupa, het Jantjies gesê. 

Candice Jantjies, die publisiteitsbestuurder van die Woordfees, agter haar lessenaar in die Erfurthuis in Ryneveldstraat, waar die Toyota Stellenbosch Woordfees-kantoor is. FOTO: Rentia Weber 

Volgens Toyota Stellenbosch Woordfees se webwerf, het die kortverhaalkompetisie “ ʼn literêre instelling” geword.

Vanjaar se tema eersdaags bekend

Die tema vir hierdie jaar se fees sal na verwagting in Maart aangekondig word, het Leoné Germishuys, bemarkingsbestuurder van die Woordfees, gesê. 

Suzette Myburgh, sameroeper van die keurpaneel, het egter gesê dat dit nie ’n vereiste is vir inskrywings om die tema te volg nie en dat dit nie voorskriftelik geïnterpreteer hoef te word nie.

Die Erfurthuis in Stellenbosch waar die Woordfees-kantoor is. FOTO: Rentia Weber 

Die wenner van 2024 se kortverhaalkompetisie, met die tema ‘speel’, was Emile Joubert met sy storie Die berghaan het sy seer laat val. Joubert weet nie of hy vanjaar weer gaan inskryf nie. 

 “Sulke besluite neem ek gewoonlik ʼn week voor die deadline” het Joubert gesê. Hy skryf dit dan gewoonlik in “one-shot”. 

Vanjaar beloop die hoofprys, geborg deur EasyEquities, R30 000, het Myburgh gesê. 

Die sluitingsdatum vir die kortverhaalkompetisie is 1 April 2025, het Jantjies gesê.

Die Woordfeeskortverhaalkompetisie word vanjaar vir die tiende keer aangebied. Wenverhale word jaarliks opgeneem in ʼn kortverhaalbundel.  FOTO: Rentia Weber