Klein en informele besighede speel ’n belangrike rol in die Suid-Afrikaanse ekonomie omdat soveel mense daarop staatmaak om ’n bestaan te maak. Só verduidelik dr. Debbie Human-Van Eck, ’n lektor aan die departement ondernemingsbestuur by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.
In die tweede kwartaal van 2021 was daar in Suid-Afrika ongeveer 2 686 000 mense in die informele sektor werksaam, volgens Statistiek Suid-Afrika se kwartaallikse arbeidsmagpeiling (QLFS). Dit was ’n 17,8% toename op die getal van dieselfde tyd verlede jaar. Binne hierdie groep, was ongeveer 1 105 000 mense werksaam in informele handel.
Die mark vir tweedehandse klere is wêreldwyd besig om op te bloei, maar jonger kopers verkies om in die palm van hul hand hul inkopies te doen. Talle klein tweedehandse klere winkels word eksklusief oor Instagram bestuur en het geen webtuistes of e-handel-platforms nie. FOTO: Anri Matthee
Alhoewel informele handel ’n oorkoepelende benaming is wat talle besigheidsmodelle insluit, is daar een aspek van informele handel wat veral sedert die uitbreek van die Covid-19-pandemie aansienlike gewildheid verwerf het, naamlik aanlyn handel. Navorsing deur World Wide Worx – ’n onafhanklike tegnologie-marknavorsingsorganisasie – toon dat terwyl algehele handel in Suid-Afrika verlede jaar met 4,2% gedaal het, het aanlyn handel in die land met 66% gegroei tot ’n waarde van R30,2 miljard – ’n bedrag wat sedert 2018 meer as verdubbel het.
Dit word verwag dat aanlyn verkope teen die einde van 2021 ’n totale waarde van R42 miljard sal hê, volgens die nie-winsgewende organisasie Heavy Chef se Ecommerce Performance Index vir 2021.
Instagram as handelspos
Aanlyn winkels lyk egter lankal nie meer soos ’n webtuiste met ’n virtuele inkopiemandjie nie; jong entrepreneurs met sosiale media tot hul beskikking is besig om hierdie bestaande platforms vir besigheid in te span. Volgens die Ecommerce Performance Index vir 2021 het 52% van die besighede wat aan die navorsing deelgeneem het, hul produkte of dienste direk binne ’n sosiale media platform verkoop.
“Veral op Instagram dink ek dat daar beslis ’n tendens op ’n nasionale vlak is in terme van hierdie tipe klein besigheid,” sê Fred Roed, stigter en uitvoerende hoof van Heavy Chef.
Vir Chane Cilliers – wat in September 2020 saam met Mel Fuller die tweedehandse klerewinkel Daisy Thrift begin het – is Instagram die beste platform om ’n besigheid te bedryf.
“Ons het ’n webtuiste oorweeg, maar nadat ons ’n peiling oor ons Instagram stories gedoen het, het ons gou besef dat mense nie die moeite wil doen om ’n webtuiste te gebruik nie. Dit is baie voordelig om die items een vir een te kan oplaai en dit op ons ondersteuners se feeds te laat opwip,” sê Cilliers. Tydens Daisy Thrift se bestaan, het die winkel reeds 8 458 volgelinge gekry.
Daisy Thrift en Thrift Culture is twee plaaslike Instagram-gebaseerde besighede wat slegs oor sosiale media handel dryf. FOTO: Instagram/@daisythriftt & @thrift_culture
Instagram is die mees direke manier om ’n jonger teikenmark te bereik, meen Amber Rossouw, wat Thrift Culture in 2018 op Instagram begin het. Dié tweedehandse klerewinkel was aanvanklik ’n tweede inkomstebron vir Rossouw terwyl sy studeer het.
“Dis geriefliker en makliker om op ’n app wat jy reeds elke dag gebruik inkopies te doen, as om ’n spesifieke webtuiste te besoek,” sê Rossouw. Sedert die uitbreek van die pandemie beskou sy die winkel – met 10 400 volgelinge – haar voltydse werk. Thrift Culture se maandelikse verkope hang egter af van watter kledingstukke beskikbaar is en winsmarges wissel ook afhangende van die toestand van die voorraad, wat beteken dat Rossouw se omset elke maand wissel.
Hierdie Instagram-winkels plaas foto’s van hul voorraad op hul blad en kopers kan dan kommentaar lewer of ’n direkte boodskap stuur om ’n bepaalde stuk te bespreek. Die betaling en aflewering word dan met elke individuele koper afgespreek.
Die keuse om nie ’n webtuiste as aanlyn winkel te gebruik nie, het egter ook uitdagings.
“Op ’n webtuiste is die betalingsproses geoutomatiseer. Jy pak goed in jou mandjie en betaal direk daarna. Op Instagram moet ek elke kliënt dm [direct message], vra watter afleweringsopsie hulle verkies, bankbesonderhede stuur en boekhou van die verkope,” verduidelik Rossouw.
’n Nuwe era
Klein besighede wat slegs oor sosiale media handel dryf is ’n relatief jong verskynsel wat tans ’n klein deel van die aanlyn handelsmark beslaan. “Dit is baie moeilik om data of navorsing hieroor in die hande te kry,” meen Roed. “Ons [Heavy Chef] is eintlik tans besig om data hieroor te probeer skep.”
Nietemin hou hierdie nuwe besigheidsmodel talle voordele in, meen Human-Van Eck. “Ek dink die grootste voordeel is dat [Instagram] omvattende beheer toelaat sonder ekstreme kostes. Veral as jou mark redelik jonk is, bied sosiale media-besighede street cred.”
GRAFIKA: Anri Matthee
Garnett Thorne, ’n besturende vennoot by WOWW digitale agentskap in Kaapstad, beaam hierdie idee. “Die koste daaraan verbonde om slegs op sosiale media te verkoop is aansienlik laer as om ’n e-handel-webtuiste te bou, aangesien daar minder begingelde is,” verduidelik hy.
Die moontlike kliëntebasis vir dié tipe besighede is ook voortdurend besig om te vergroot. Volgens Statista, was daar teen Julie vanjaar ongeveer 6,03 miljoen Instagram-verbruikers in Suid-Afrika. Sedert Januarie verlede jaar het hierdie getal met 2 miljoen gestyg.
Hoe om dié mark te betree
“As jy ’n besigheid alleenlik op sosiale media bedryf is dit van uiterse belang dat jy die regte inhoud in presies die regte plek kry – daar is geen ander opsie nie,” meen Human-Van Eck.
Die handelsruimte op sosiale media is tans “baie, baie kompeterend” omdat besighede nie net met ander handelsmerke moet meeding nie, maar ook met ander tipes inhoud vir moontlike kliënte se aandag, verduidelik Roed. “Dis maklik om aanlyn te kom en te begin verkoop maar dis baie moeilik om te kompeteer,” sê hy. “Jy moet regtig dink oor dít wat jou uniek maak.”
Fred Roed, stigter en uitvoerende hoof van Heavy Chef, verduidelik die risiko’s wat met sosiale media-besighede gepaard gaan. BRON: WhatsApp/Fred Roed
Thorne beaam dat die vestiging van ’n persoonlike handelsmerk die sleutel tot sukses is in ’n “baie versadigde” mark. Dis ook belangrik om logistieke beplanning te doen voordat ’n besigheid geloods word.
Human-Van Eck beklemtoon ook die belangrikheid van basiese besigheidsbeginsels. “Alhoewel die platform anders is as brick-and-mortar, bly die basiese dinge relevant – kliënte-ervaring, kliëntediens, spoedige aflewering, goeie kommunikasie, goeie finansiële bestuur, ensovoorts.”
Dis ook belangrik om te “diversifiseer” sodat onverwagse struikelblokke – soos die wêreldwye Instagram-onderbreking op 4 Oktober 2021 – nie die besigheid kniehalter nie, volgens Thorne.
Hoekom juis tweedehandse klere?
Vergeleke met tradisionele klerehandel, is die tweedehandse kleremark wêreldwyd besig om vinnig op te bloei. Die Amerikaanse tweedehandse klere-platform, thredUP, voorspel dat die sogenaamde “herverkoop”-bedryf 11 keer vinniger as die klerekleinhandelbedryf sal groei teen 2025.
GRAFIKA: Anri Matthee
’n 2019-navorsingsartikel, Thrift shopping for clothes: To treat self or others?, skryf hierdie tendens toe aan die feit dat die koop van tweedehandse klere in alle ekonomiese toestande kan floreer. In gemeenskappe met laer inkomstevlakke, bied ’n tweedehandse kleremark ’n meer bekostigbare opsie om klere te koop. Maar in gemeenskappe met meer besteebare inkomste bied hierdie mark ’n nisinkopie-ervaring en ’n geleentheid om duursame ontwerpersitems te koop wat nie noodwendig in hoofstroomwinkels beskikbaar is nie. Verder verduidelik die artikel ook dat ’n toenemende bewustheid van die etiese en omgewingsimpak van klere- en tekstielvervaardiging ook veroorsaak dat sommige kopers verkies om tweedehands te koop vanweë ’n sin van sosiale verantwoordelikheid. Die mark vir vintage klere het ook veroorsaak dat jonger kopers veral belangstel in die tweedehandse kleremark, omdat daar onder jonger kopers ’n neiging na modes uit die 1980’s en 1990’s is.