Suid-Afrika is steeds die land met die hoogste aantal gedokumenteerde Fetale Alkohol Spektrum Sindroom (FASD)-lyers in die wêreld, en die enigste oplossing hiervoor is bewusmaking van die sindroom.
Dít is hoekom Suid-Afrika Internasionale FASD Bewusmakingsdag jaarliks op 9 September vier.
FASD is ‘n sambreelterm vir ’n groep toestande wat in ‘n kind veroorsaak word wanneer die ma alkohol drink tydens haar swangerskap. Die sindroom veroorsaak groeivertraging, orgaanskade, verstandelike gestremdheid en gedragsprobleme.
FASD is ‘n onomkeerbare en permanente toestand. Dit is egter 100% voorkombaar – wanneer ‘n vrou nie alkohol drink nie, sal sy níé ‘n FASD-babatjie kry nie.
Die eerste FASD-dag in geskiedenis is gevier op die negende van die negende maand, 1999, om vrouens te herinner aan die gevare van alkoholinname tydens die nege maande van swangerskap.
Hierdie jaar was geen uitsondering nie en bewustheid is nou meer nodig as ooit tevore.
Volgens ’n onlangse 2017 studie, ly ‘n totaal van 196 tot 276 uit ‘n duisend kinders in sommige Suid-Afrika gemeenskappe aan FASD. Dit beteken dat sowat 20 tot 28% van die kinders in sulke gemeenskappe hieronder ly.
‘n Beraamde 3 miljoen mense is in 2017 in Suid-Afrika deur die sindroom geaffekteer. Volgens ’n studie gepubliseer in die Lancet plaas hierdie syfers Suid-Afrika bo aan ‘n lys van 187 lande.
FASD is ‘n relatiewe nuwe sindroom wat eers sowat 20 jaar gelede in Suid-Afrika gediagnoseer is. Voor daar gedink kan word aan oplossings vir die probleem, is dit noodsaaklik dat meer en meer bewustheid geskep word op grondvlak. Op hierdie stadium van die geveg is die onkunde steeds kommerwekkend.
Volgens Tanya Lochner, onderwyser by Ligstraal-skool vir verstandelik gestremde kinders in die Paarl, is die teikengroep waaronder bewustheid gekweek moet word tienerdogters. Hierdie jong vroue begin eksperimenteer met drank en dit word volgens haar vinnig ‘n leefstyl.
Ina Viljoen, sekretaresse van die FAITH Fund, ‘n fonds gestig deur die wynmaker Beyers Truter vir die bewusmaking van FASD, stem saam oor die onkunde in gemeenskappe.
“Somtyds huil die ma’s as die kinders gediagnoseer word. Dan sê hulle: ‘hoekom het niemand vir my gesê nie?’” vertel Viljoen. “Die persepsie is dat mens baie moet drink of dronk moet raak [om ‘n FASD kind te kry], maar mens kan op die verkeerde tyd een glas wyn drink en dan is dit problematies.”
Van waar moet die bewusmaking kom? Dit is die verantwoordelikheid van alle Suid-Afrikaners, maar die grootste verantwoordelikheid lê by die staat.
Volgens Ronelle Barnard, ‘n verpleegster wat vir 10 jaar hoof was van ‘n FASD-navorsingstudie in Wellington, is dit die regering en die Departement van Gesondheid se verantwoordelikheid om hierdie kwessie aan te spreek en die boodskap oor te dra.
“Dit werk nou maar so dat as jou politici ‘n boodskap verkondig daar bo, dit ‘n groot impak op die massas het,” sê Barnard. “So, in die eerste plek moet ons politici begin standpunt inneem rondom alkohol.”
Dit is nie net ‘n tekort aan bewustheid wat lei tot onkunde nie, maar ook die uitdaging om die boodskap op grondvlak te laat insink. By wie kom die bewustheid uit? Kom dit uit daar waar dit nodig is?
“Die gemeenskap by wie die bewustheid juis moet uitkom, het nie toegang daartoe nie. Dit gaan verby hulle koppe,” sê Mareli Huysamer, ‘n arbeidsterapeut by Ligstraal-skool. “As ek dit nie hier in my woonbuurt sien, hoor hoe almal daaroor praat, en sien wat gaan gebeur as ek dit doen nie, dan gaan dit my verby.”
Dit is juis hoekom bewusmakende organisasies soos die FAITH Fund, FASFacts en FARR só belangrik is – om op grondvlak inligtingsessies te hou en die boodskap oor te dra.
– Grethe Bestbier