isiXhosa maak sy verskyning by Woordfees vanjaar

In die week van 4 tot 8 Maart het 14 derdejaar-onderwysstudente hul klastyd opgeoffer om feesgangers isiXhosa te leer.

Jana Nel, ’n deeltydse dosent by die fakulteit Opvoedkunde het die #Amagama-projek by verlede jaar se Woordfees geloods.

“Die uiteindelike doel van die projek is om isiXhosa te bemark. Die Universiteit van Stellenbosch (US) spreek van ’n meertalige beginsel en dit wil ek net verder vat. Ek wil seker maak ons leef ons meertaligheidsbeginsel uit en om isiXhosa net meer te bemark,” sê Nel.

groep 2.jpg

Mckaleigh Willemse, Julia Thornton en Lisolekhata Mqeba verduidelik die #Amagamaprojek. FOTO: Anke van der Merwe

Nel meen dat dit ’n groot verskil maak as mens iemand in hul huistaal kan groet en in hul eie taal kan dankie sê, om in hul eie huistaal te kan vra: “hoe gaan dit met jou”.

“Met hierdie projek wil mens ook kultuur- en taalgrense oorskry.”

Ek voel ook baie sterk, soos oudpresident Nelson Mandela gesê het: ‘As jy met ’n man praat in ’n taal wat hy verstaan, gaan dit na sy kop toe, maar as jy met hom praat in sy taal, dan gaan dit na sy hart toe.’

Dr. Michele van der Merwe, ’n dosent by fakulteit Opvoedkunde, sê dat die projek uitstekend aansluit by die US se beleid van meertaligheid, veral met betrekking tot die ontwikkeling van isiXhosa.

Studente het die geleentheid om verskillende tale by die US aan te leer – spesifiek in fakulteit Opvoedkunde.

“In die B.Ed-program van die fakulteit Opvoedkunde word voornemende onderwysers [vir] ons land se veeltalige klaskamers voorberei deur die neem van Afrikaans, Engels en isiXhosa op verskillende taalvlakke. Tydens die #Amagama-projek kry B.Ed-studente dus geleentheid om hul verworwe taalvaardighede in isiXhosa te gebruik en op ’n positiewe wyse as brugbouers tussen taalgroepe op te tree tydens die Woordfees,” sê Van der Merwe.

Daar is drie studente per groep ingedeel. Mckaleigh Willemse, Julia Thornton en Lisolekhata Mqeba was saam in ’n groep. Mqeba is ’n isiXhosa-moedertaalspreker.

“Ek kan dit praat, maar dit is nie my huistaal nie,” sê Willemse. “Ek wil nou nie maak asof ek meer weet as [Mqeba] nie. Hy het grootgeword met die taal. Wanneer daar meer ingewikkelde vrae was, het hy gehelp.”

individu.jpg

Lisolekhata Mqeba, moedertaalspreker van isiXhosa, verduidelik sekere woorde. FOTO: Anke van der Merwe

“Ons is nou goeie vriende ná hierdie week,” voeg Willemse by. “Ons het almal baie by mekaar geleer.”

Die groepe se staanplek het gewissel, maar die samestelling het dieselfde gebly. “By die Adam Small teater was dit nogal besig, maar die besigste was definitief by die ATKV Boeketent,” sê Willemse.

“[Mqeba] moes een dag met twee Engelse ouens werk. Hulle is rondom 20 jaar oud en baie Engels. Hulle wou so graag leer. Die ouens het uitsprake geoefen en was baie gefokus. Baie mense het ook gesê dat hulle van ander provinsies is en daar praat die mense meer Zoeloe as isiXhosa. Hulle wou toe geweet het of sekere woorde dieselfde of anders gesê word,” sê Willemse.

Nel het die woorde en sinne saamgestel. “[Woordfees] het vanjaar gevra dat daar spesifiek telwoorde moet op wees. Dinsdag [5 Maart] het die studente gefokus om die mense te leer tel vanaf een tot 20. My kollegas het my gehelp net om seker te maak dat ek alles korrek vertaal. Verlede jaar het mev. Phumla Kese my gehelp en vanjaar het mnr. Simthembile Xeketwana my gehelp. Hulle het dit net oorgegaan,” vertel Nel.

Van der Merwe voeg positief by: “Die entoesiasme van die studente is aansteeklik en wie sal dan nie ’n nuwe taal wil aanleer nie? Dit kan soveel beteken vir ons veeltalige kommunikasie in Suid-Afrika en ek voorsien dat die projek verder uitgebrei gaan word.”

Tans is dit slegs gemik op Woordfees, maar Nel het planne om dit nog verder te vat.

lys.jpg

Donderdag, 7 Maart se lys van woorde wat in die feesboekie verskyn wat feesgangers ontvang het.