Jonkershoek steeds gesluit vir herstelwerk

Fietsryers kon sedert 25 Julie weer toegang kry tot die Jonkershoek natuurreservaat, maar die stappaadjies is steeds ontoeganklik. Dit is volgens Kyle Gifford, die Ekotoerisme bestuurder van Jonkershoek Natuurreservaat.

Jonkershoek Natuurreservaat se hekke is al van 7 Julie gesluit vir besoekers as gevolg van reënskade aan stap-en-fietsrypaaie in dié reservaat. Dit is volgens Kyle Gifford, die Ekotoerisme bestuurder van Jonkershoek Natuurreservaat. FOTO: Duné van Jaarsveld

Die natuurreservaat is al van 7 Julie vir besoekers gesluit, as gevolg van swaar reën wat stap- en fietsrypaadjies in die reservaat ernstig beskadig het. Dit is volgens Lyvona Abrahams, een van die reservaat se Ekotoerisme toegangsbeheerders. 

“Op die oomblik sal die natuurreservaat gesluit wees tot Donderdag 1 Augustus,” het Petro van Rhyn, algemene bestuurder van CapeNature gesê.

Jonkershoek Natuurreservaat is ’n CapeNature reservaat, maar vorm ook deel van die MTO (Mountains to Ocean) Trails-groep. 

Volgens Abrahams, herstel beide instellings al vir twee weke die voetslaan- en fietsrypaadjies, wat met die swaar reën in Stellenbosch die afgelope maand, gedeeltelik weggespoel het.

“Dit is baie moeilik om die presiese skade te bepaal met die wisselvallige reën wat weer [die week van 28 Julie] verwag word,” het Van Rhyn gesê.

Die omvang van die herstelwerk wat benodig word om Jonkershoek Natuurreservaat se  beskadigde paaie te herstel, sal eers duidelik wees sodra die nodige assessering gedoen is. Dit is volgens Petro van Rhyn, algemene bestuurder van CapeNature. FOTO: Duné van Jaarsveld

Volgens Van Rhyn, het die oormatige reënval en daaropvolgendeoorstromings die sluiting van die natuurreservaat genoodsaak om besoekers se veiligheid te verseker.

“[Jonkershoek] het opmerklike hoë reënval, maar die weer was vanjaar veral erg,” het Van Rhyn gesê.

Volgens Climate data se webtuiste het dit in Julie maand 127 mm in Stellenbosch gereën.

Hierdie maand se reënval het erge skade aan die grondpaaie en stappaadjies hoër op in die berg aangerig, het Gifford gesê.

Mense wat gereeld die paadjies gebruik vra daagliks wanneer die reservaat weer oop gaan wees.

Vorige jare het die natuurreservaat tydelik toegemaak omdat die sirkelroete verspoel het. Dit is volgens Johan van der Merwe, sekretaris van die dekade oue Stellenbosch Voetslaanklub en gereelde stapper.

“Ek moet elke dag dieselfde storie sê. Ek het al gevoel ek gaan ’n tape-recorder neersit en dan as iemand nader kom dan druk ek net play,” het Abrahams gesê.

Vanjaar se reënval was erger as laasjaar s’n en het besonders baie skade aan verskillende dele van Jonkershoek Natuurreservaat veroorsaak, het Kyle Gifford, die Ekotoerisme bestuurder van die reservaat, gesê. FOTO: Duné van Jaarsveld