Landkuns in Pniël, Raithby vestig aandag op gentrifikasie

Twee landkunsuitstallings buite Stellenbosch, in Pniël en Raithby, het ten doel om bewusmaking rondom gentrifikasie, oftewel buurtopknapping, in historiese gebiede buite Stellenbosch te kweek. Dit is volgens prof Ronnie Donaldson, die projekleier van die veldtog en ’n stedelike geograaf by die Universiteit Stellenbosch se departement geografie en omgewingstudie.

gentrifikasie

“Die visuele impak [van die installerings] is wat die belangrikste is. Mense het die vlae gesien en dan vra hulle dadelik vrae [wat] ’n gesprek [ontlok aan] die gemeenskap,” het Strijdom van der Merwe, die internasionaal erkende landkunstenaar, gesê. FOTO: Jean-Marie Uys

Buurtopknapping benodig riglyne

Die uitstallings vorm deel van die internasionaal erkende landkunstenaar, Strijdom van der Merwe, se Artwashing juxtaposed-reeks. Dié reeks is verbonde aan die “Artwashing: A multidisciplinary approach”-navorsingsprojek, wat deur Donaldson gelei word.

“Wat Van der Merwe en [ek] in die Pniël- en Raithby-projekte uitbeeld, is ’n jukstaposisie van hoe kuns nie noodwendig die dryfkrag hoef te wees agter regenerasie en gentrifikasie van ’n gebied nie, maar dat kuns deur middel van bewusmaking eerder iets positief daaruit kan skep,” het Donaldson per e-pos gesê. 

Vier internasionale kode vlae, waarvan elkeen binne twee meter-hoë rooi verkeerskele geplaas is, is opgerig in Pniël, volgens prof Ronnie Donaldson, projekleier van “Artwashing: A multidisciplinary approach”-navorsingsprojek,en ’n stedelike geograaf by die Universiteit Stellenbosch se departement geografie en omgewingstudie. “Die vier kode vlae simboliseer ‘nee’, ‘ek verander my rigting’, ‘hou op om jou intensies uit te voer’ en ‘jy moet stop’,” het Donaldson gesê. FOTO: Jean-Marie Uys

Die projek is verlede jaar in Oktober langs die R44 in Jamestown van stapel gestuur en is vanjaar op 20 April in Pniël en 21 April in Raithby hervat. Die twee nuwe kunswerke sal tot einde Mei te siene wees, volgens Van der Merwe. 

“Ons gedagte is om ’n gentrifikasie overlay zone [aan die Stellenbosch Munisipaliteit] voor te stel met spesifieke riglyne wat van toepassing sal wees [in] Pniël, Raithby [en] Jamestown,” het Donaldson gesê. Die riglyne sal betrekking hê op hoe ontwikkeling in daardie gebiede mag plaasvind, het hy gesê.

Van der Merwe meen die projek is nie teen ontwikkeling nie, maar dat hulle wil hê dat ontwikkeling “op die regte manier gedoen [moet] word”.

gentrifikasie

Die wit huisies wat voorheen deel gevorm het van die kunsinstallering in Jamestown is weer ingespan om die aparte gemeenskappe van nuut-ontwikkelde sekuriteitskomplekse in Raithby voor te stel, volgens landkunstenaar Strijdom van der Merwe. Die huisies wat in ’n sirkel gerangskik is en waaraan rooi slotte hang, verwys na die afgeslotenheid van nuwe gemeenskappe, het Van der Merwe verduidelik. FOTO: Verskaf/Prof Ronnie Donaldson

Gebrek aan bestuur van buurtopknapping

“Huise word teen markverwante pryse verkoop en mense bou nou hierdie grand huise. Die gevolg gaan wees dat almal se belasting en munisipale kostes opgestoot [gaan word],” het Janine Myburgh, trustee en voorsitter van die Pniël Museum, gesê.

“Daar is tans geen munisipaliteit in Suid-Afrika wat beleidsriglyne het [oor] hoe om gentrifikasie sensitief te bestuur nie,” het Donaldson beweer. 

Stuart Grobbelaar, woordvoerder van Stellenbosch Munisipaliteit, het per e-pos gesê dat die munisipaliteit bewus is van die “uiters belangrike balans” tussen ontwikkeling en bewaring van hulle dorpe. Volgens Grobbelaar tree die munisipaliteit in belang van die gemeenskappe op. 

“Daarom word alle ontwikkelings gedoen in lyn met wetgewing en is dit op verskeie stadiums onderhewig aan openbare deelname wat inwoners die geleentheid gee om griewe te lig of hul ondersteuning te gee aan enige beplande projek of ontwikkeling,” het Grobbelaar gesê. 

’n Gemeenskapsvergadering sal op 10 Mei in Pniël plaasvind waar Donaldson en Van der Merwe meer inligting rondom die projek en buurtopknapping sal deel. 

“Ware goeie kuns is kuns wat emosies in jou wakker maak en emosies lei tot optrede of besluite wat [geneem word],” het landkunstenaar Strijdom van der Merwe gesê. “Dis die rede hoekom ons die vlae en die huisies opsit – dit moet emosies wakker maak.” Hy het gesê dat inwoners van Pniël hul ongelukkigheid teenoor hom geopper het tydens die oprigting van die vlae-installasie. Dit het gelei tot gesprekke rondom buurtopknapping. Van der Merwe hoop dat dit verdere debatte tot gevolg sal hê. FOTO: Jean-Marie Uys

, , , , ,