Letterkunde kan Afrikaans help ‘ontklont’ – Antjie Krog by kongres

Uitdagings rondom Afrikaans as onderrigtaal in gevestigde ruimtes was ’n belangrike onderwerp op vanjaar se Ontlaering-kongres, wat virtueel op 29 April en 30 April plaasgevind het.

Dít was volgens Dr Janien Linde, ’n dosent in Afrikaans en Nederlands aan die Noord-Wes Universiteit (NWU) en lid van die Ontlaering-komitee wat vanjaar se kongres gereël het.

“Die doel is om opnuut te dink oor hoe Afrikaanse letterkunde en taalkunde onderrig word, en om saam te dink oor die uitdagings en moontlikhede wat daarrondom bestaan,” het Linde gesê.

Vanjaar se Ontlaering-komitee was daarop toegespits om gevestigde benaderings tot Afrikaanse onderrig in ruimtes soos skole en universiteite, uit te daag. FOTO: Unsplash/Ivan Aleksic
Vanjaar se Ontlaering-komitee was daarop toegespits om gevestigde benaderings tot Afrikaanse onderrig in ruimtes soos skole en universiteite, uit te daag. FOTO: Unsplash/Ivan Aleksic

Die bekroonde skrywer, Antjie Krog, het in haar hoofrede van die program gesê dat Afrikaanse letterkunde ’n groot rol kan speel in die “ontklonting” van die Afrikaanse taal, omdat mense só taalgrense kan oorsteek. 

“Dit gaan daaroor om jouself in die skoene van jou medemens voor te stel,” het Krog tydens die kongres gesê. 

Negatiewe houdings teenoor Afrikaans

Nog ’n belangrike besprekingspunt was die implikasies wat negatiewe ideologiese houdings teenoor Afrikaanse in die algemeen, moontlik vir Afrikaanse onderrig kan inhou.

Negatiewe houdings skep buitestaanderskap vir leerders in die klaskamer, want “die Afrikaans wat hulle hoor [Standaardafrikaans], is nie die Afrikaans waarmee hulle grootword nie”. 

Dít was volgens Earl Basson, dosent in Afrikaans eerste addisionele taal en Afrikaanse metodiek aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (CPUT). Basson was op 30 April die voorsitter van die Ontlaering-program.

Hy het bygevoeg dat bestaande negatiewe houdings jeens Afrikaans te verstane was, gegewe die taal se ideologiese bande van die verlede. Dit is egter belangrik om die Afrikaans wat vandág gepraat word, van dié verlede te skei, meen Basson. 

As dié onderskeid nie gemaak word nie, “dink [mense] nie aan Afrikaans as ’n taal wat ’n groter groep mense praat nie – hulle dink net aan Afrikaners”, het hy verduidelik. 

Antjie Krog het tydens die Ontlaering-kongres voorgestel dat Afrikaanse letterkunde ’n groot rol kan speel in die oorsteek van taalgrense, omdat mense daarmee hulself in die skoene van hul medemens kan voorstel. FOTO: Unsplash/Patrick Tomasso

Dr Conrad Eksteen, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad, het voorgestel dat daar afstand geneem moet word van ’n nasionalistiese siening van Afrikaans, deur “maniere te vind om [die] diverse taalerfenis en die kulturele, sosiale en ekonomiese waarde van die taal te vier”.

Vir die diversiteit en volhoubaarheid van Afrikaans om te kan “seëvier”, het Basson voorgestel dat die sosiale status van ander variëteite van Afrikaans opgehef moet word, en dat Afrikaans ruimer gemaak moet word “mét die variëteite waarmee dit eintlik begin het”. 

“Mense weet byvoorbeeld nie dat die Khoi-mense die eerstes was wat eintlik Afrikaans gepraat het nie,” het hy gesê.

Hoe dink ons oor die uitdagings wat ’n vurk in die pad steek vir Afrikaans as onderrigtaal? Vanjaar se Ontlaering-kongres het hierdie kwessie aangepak deur Afrikaanse onderrig in gevestigde ruimtes uit te daag. ILLUSTRASIE: Nicola Spingies
Hoe dink ons oor die uitdagings wat ’n vurk in die pad steek vir Afrikaans as onderrigtaal? Vanjaar se Ontlaering-kongres het hierdie kwessie aangepak deur Afrikaanse onderrig in gevestigde ruimtes uit te daag. ILLUSTRASIE: Nicola Spingies
,