Liefdadigheidsorganisasie kry nie koue voete tydens inperking nie

 

Foto 2

Samaritan’s Feet South Africa sal weens die gevare van Covid-19 nie nóú voete kan was nie, maar sal skoene kan uitdeel en fokus op die boodskap van hoop. FOTO: Instagram/@samaritansfeetsa 

’n Plaaslike nie-winsgewende organisasie het verlede maand saamgespan met die Suid-Afrikaanse Blitsbok-rugbyspan om fondse in te samel ten bate van ’n liefdadigheidsprojek wat ten doel het om behoeftige kinders van skoene te voorsien.

Samaritan’s Feet South Africa (SFSA) het op 29 Mei ’n aanlyn-fondsinsamelingsinisiatief, Rolling with the punches, aangebied waartydens die voormalige Springbok en SFSA-raadslid, Breyten Paulse, met Impi Visser, Siviwe Soyizwapi (Shakes), Werner Kok, Neil Powell en Phillip Snyman gesels het oor hoop en die uitdagings in hulle eie lewens.

Dié inisiatief is van stapel gestuur met die doel om fondse in te samel vir skoene vir die BecomingKids-projek, saam met die plaaslike organisasie, Stellemthombo, het Elanie Fourie, uitvoerende hoof van SFSA, gesê.

Foto 4

Van die Suid-Afrikaanse Blitsbokke en SFSA-ambassadeurs het hulle stories gedeel via ’n aanlyn-fondsinsamelingsinisiatief om fondse in te samel vir Samaritan’s Feet South Africa en Stellemthombo se nuutste projek, BecomingKids. FOTO: Instagram/@samaritansfeetsa 

“As gevolg van die aard van ons ‘diens’ mag ons nie kinders se voete was óf skoene vir hulle aantrek nie. Op vlak vier mag ons ook nie gewerk het nie. Nou, op vlak drie, is daar meer ruimte – maar steeds met beperkinge,” het Fourie aan MatieMedia gesê. 

Volgens Fourie sal hulle dus steeds nié voete was nie, maar skoene uitdeel en fokus op die boodskap van hoop.

Die skoenprojek

Dié skoenprojek sal fokus op laerskoolkinders in die BecomingKids-program, het Arina Scheepers, onderwyskoördineerder van Stellemthombo, aan MatieMedia gesê. 

“Dit gaan beteken dat ons ouers se las kan verlig – veral dié wat hul werk verloor het – en kan sorg dat kinders warm is in die winter,” het Scheepers gesê. 

Aan baie families beteken dit een ding minder om hul oor te bekommer, het Scheepers gesê. Boonop kan ouer kinders se skoene weer na jonger familielede oorgedra word wanneer die skoene te klein word, het Scheepers gesê.

“Kinders in menige areas kan nie skool toe gaan sonder skoene nie,” het Fourie gesê. 

Die uitdeel van skoene tydens dié projek sal dus as ’n dryfveer gebruik word om te luister na die kinders se stories, drome en vrese – om met hulle én hul harte konneksies te vorm, het Fourie gesê.

 

Skoene

Dit kos slegs R100 om ’n paar Samaritan’s Feet skoene aan ’n kind se voete te kry, het Elanie Fourie, uitvoerende hoof van SFSA, gesê. FOTO: Instagram/@samaritansfeetsa

“Ek kan nie myself indink hoe dit moet voel om nie eers ’n paar skoene te besit nie. Só ’n paar skoene kan letterlik ’n kind se lewe verander,” het Impi Visser, Suid-Afrikaanse Blitsbok en SFSA-ambassadeur, gesê.   

Sommige van die kinders se hele persoonlikheid verander nadat jy vir hulle ’n paar skoene aangetrek het, het Visser gesê. 

Volgens Fourie moet hulle nóú hul bes doen om soveel as moontlik voete skoene te gee sodat kinders gesond kan bly en skool toe kan gaan. 

“Die lewe deel punches uit en jy het ’n keuse hoe jy gaan reageer. Ons kan nie beheer wat gebeur nie, máár ons kan kies hoe ons reageer. Dié boodskap is een van hoop,” het Fourie gesê.

Die internasionale liefdadigheidsorganisasie, Samaritan’s Feet, bring aan miljoene kinders regoor die wêreld skoene en hoop. VIDEO: Samaritan’s Feet South Africa webtuiste

 

 

 

, ,