Madonsela: “Sosiale geregtigheid behels nie net gelykheid nie”

“Ons moet almal saamwerk om te verseker dat ons sosiale geregtigheid in ons samelewing kan verseker,” was die boodskap van Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer en dosent by die Universiteit van Stellenbosch (US), aan studente en ander belanghebbendes op Wêrelddag vir sosiale geregtigheid.

Sedert 2009 word Wêrelddag vir Sosiale Geregtigheid op 20 Februarie gevier. Die tema vir 2019 was “As jy vrede en ontwikkeling wil hê, werk vir sosiale geregtigheid“.

Hierdie dag is op Stellenbosch gevier met ʼn Social Justice Café, aangebied deur Madonsela en verskeie regsstudente wat as sosiale geregtigheidsambassadeurs dien.

Madonsela beklee tans die leerstoel vir Sosiale Geregtigheid aan die US. Die geleentheid, wat by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS), was die eerste van sy soort by die US.

Foto 1

Prof. Thuli Madonsela, Thembalethu Seyisi en Heidi Lee Ruschenbaun. FOTO: Khanyo Mngxekeza

Madonsela het in haar openingsboodskap benadruk dat sosiale geregtigheid nie net daaroor gaan dat almal in vrede saamleef nie.

‘‘Sosiale geregtigheid neem ook in ag dat sekere groepe histories benadeel was. Mense met gestremdhede is een van hierdie groepe. Sosiale geregtigheid beteken nie dat ons die deure reg kan maak en dan het almal toegang nie. Dit verg ook dat ons ruimtes skep waar mense tot die beste van hul vermoë kan funksioneer,‘‘ het Madonsela gesê.

Die paneel het verder bestaan uit dr. Theo Broodryk, die direkteur van die US se regskliniek, asook Hlonelwa Lutuli, Thembalethu Seyisi en Heidi Lee Ruschenbaun, almal regsstudente, wat as sosiale geregtigheidsambassadeurs optree.

Foto 4

Madonsela en studente wat as sosiale geregtigheidsambassadeurs dien. FOTO: Khanyo Mngxekeza

Seyisi, ʼn tweedejaar LLB-student, het gesê dat sy passie vir sosiale geregtigheid op regstellende geregtigheid gebaseer is. Hy wil dus seker maak dat die voorheen benadeeldes dieselfde geleenthede geniet as diegene wat histories bevoorreg was.

Alhoewel die paneelbespreking daarop gemik was om sosiale geregtigheid te vier en om mense bloot te stel aan hoe hulle deel kan word van gesprekke en aktiwiteite in hierdie aspek, was daar ook pertinente vrae uit die gehoor rakende kwessies op Stellenbosch wat onder die vaandel van sosiale geregtigheid val.

Hierdie kwessies sluit die rol in wat leierskap vervul aangaande sosiale geregtigheid, asook Madonsela se rol in die debat aangaande die US se koshuisbeleid.

As antwoord op vrae van verskeie lede van die gehoor oor watter rol die leierskap op Stellenbosch vertolk om inisiatiewe soos hierdie te bevorder, asook wat die rol van die jeug is, het Lutuli gesê dat sosiale geregtigheid nie ʼn eenmalige gebeurtenis is nie, maar eerder ʼn deurlopende proses.

‘‘Ek dink dat dit in hierdie stadium belangrik is dat die mense wat aan dieselfde kant is, die mense wat hier is, wat dieselfde doel het, seker maak dat hul visie ooreenstem, alvorens die boodskap uitgedra kan word na ander wat dit moet hoor. As ons met een stem praat sal die impak dalk groter wees,“ het Lutuli gesê.

Foto 2

Paneellede Hlonelwa Lutuli en dr. Theo Broodryk. FOTO: Khanyo Mngxekeza

Anthony Martin Andrews, ʼn LLB-student en voormalige speaker van die US Studente Parlement, het Madonsela geloof vir die inisiatief wat deur haar en haar span geneem is.

‘‘Die aanstelling van prof. Madonsela as die regsfakulteit-navorsingstoel vir geregtigheid het vir my nuwe hoop gegee om regte te studeer,“ het Andrews gesê.

Madonsela en haar medeorganiseerders beoog om voortaan hierdie gesprekke ʼn maandelikse instelling te maak. Sy het ook haar hoop uitgespreek dat die interaksies wat alreeds by die eerste aangeleentheid plaasgevind het in die toekoms verder uitgebrei kan word.