Mandela en Marais diep in gesprek op die Rooiplein

 

hoof foto.JPG

Nuwe kuns is op pad. Klein beeldjies kan gesien word skuins voor die standbeeld van Jan Marais op die Rooiplein. FOTO: Anke van der Merwe

Winnie Mandela gaan binnekort haar eie standbeeld kry in Stellenbosch. Jan Marais se standbeeld wat tans op die Rooiplein van die Universiteit Stellenbosch (US) staan, gaan binnekort 11 nuwe geselskappe kry.

Winnie Mandela, Antjie Krog en Thuli Madonsela is drie van die vroue wat voor die Peroldgebou uitgebeeld gaan word . Dié standbeelde gaan deur Jacques Buys uit metaal geskep word .

Die idee is dat die vroue direk met Marais praat, lui prof. Elmarie Constandius van die Departement Visuele Kunste. “Dit gaan daaroor dat gesprekke rondom [geskiedenis] moet begin, meer as om dit weg te vat en daarvan te vergeet,” het Constandius gesê.

Die 11 vroue wat gekies is, is belangrike figure in die hedendaagse tyd, asook binne geskiedkundige gebeure. Vrouens is een van die gemarginaliseerde groepe in die samelewing, en dit is die rede dat hulle gekies is. Al hierdie vroue is sterk figure en het al verskille gemaak in die samelewing.

Vraelyste is gebruik om te bepaal watter 11 vroue gekies gaan word. “Caster Semenya en Miriam Makeba se mense het egter nee gesê,” het Constandius bygevoeg. “Die vrou wat die meeste stemme gekry het, is Winnie Mandela.”

FinaalPeroldgebou.jpg

Hierdie is die hoek vanaf die Marais-standbeeld se rigting. Die sirkel is net groot genoeg vir 11 figure. Dit gaan op die gras verskyn, aangesien dit te swaar gaan wees om op die biblioteek se dak te staan. FOTO: Anke van der Merwe

Die standbeelde vorm deel van ’n groot projek, genaamd Visual Redress. Die fakulteite Visuele Kunste, Regte, Medies en Teologie is net ’n paar wat tans deel vorm daarvan.

Nog visuele elemente wat bygevoeg gaan word op kampus, is kaarte teen die mure by US se biblioteek, ’n staproete deur die dorp wat handel oor die vlakte, asook die inligtingsborde van die universiteit wat in drie tale aangebied gaan word.

Nog verdere kleiner projekte is ook op pad. Bankies met skrif in verskillende tale daarop is een van die kleiner projekte wat onlangs voltooi is. Die bankies staan rondom die Neelsie.

Mark Krige.JPG

Ongeveer 30 bankies op die Rooiplein is versier deur Mark Krige. Op die bankies verskyn verskillende tale, wat onder andere braille en Kaaps insluit. FOTO: Anke van der Merwe

Ronel Retief, die voorsitter van die Universiteit se komitee vir die benoeming van geboue, lokale en persele, hoop dat die Visual Redress-projek kampus meer inklusief sal maak.

“Dit is ’n wonderlike geleentheid om voorheen gemarginaliseerde tale, kulture, groeperinge en individue gestalte te gee op ons kampus,” het Retief gesê. “Dit gaan vir my nie net om erkenning te gee waar daar nie voorheen erkenning was nie, maar ook om simbole, geboue en name te hê waarby die verskeidenheid mense wat daagliks op ons kampus rondbeweeg, op verskillende maniere kan aanklank vind.”

Dit was egter nie ’n eenvoudige roete om te stap nie. Retief noem dat die grootste uitdaging was “soveel hoofde, soveel sinne”. Retief voeg by dat “om uiteindelik ’n goed gekonsulteerde, deursigtige besluit te neem, en dan tevrede te wees dat ’n mens ten spyte daarvan, steeds nie almal gaan tevrede stel nie” nog ’n uitdaging was.

Kathryn van den Berg (21), ’n Visuele Studies honneurs-student, sê dat kuns nodig is om die volle spektrum van kennis wat ’n kampus kan bied, te verteenwoordig. “In ’n wêreld wat so gedomineer word deur visuele elemente, soos sosiale media, is dit kuns se werk op kampus om studente se bekommernisse te wys,” het van den Berg gesê.

Kuns beeld sekere boodskappe en uitdrukkings uit. Sy voeg by: “Kuns wys die atmosfeer op kampus op ’n visuele en fisiese manier.”

Studente word uitgenooi om deel te wees van hierdie projek, wat tans al vyf jaar lank aan die gang is. ’n Datum rakende die bekendstelling sal later aangekondig word.