Die trane het Woensdagaand gerol by Leatitia Solomons-Manuel se nuwe produksie Die Begrafnis.
Solomons-Manuel, wat verlede jaar Woordfees-gehore vermaak het met haar eenvroustuk Vol Klagtes en Gedagtes, het vanjaar teruggekeer na die Woordfees met ’n uitverkoopte produksie wat sy self geskryf het.
Die Begrafnis is ’n eenvroustuk en muskiekblyspel met Mathilda as die hoofkarakter.
Volgens Solomons-Manuel raak Mathilda se stories nie op nie. Die Begrafnis is net die volgende storie wat Mathilda het om te vertel. Die produksie het ontstaan ná ’n familiebegrafnis wat Solomons-Manuel bygewoon het. Haar neef is verlede jaar in ’n tragiese voorval oorlede.
Al klink die naam so ernstig is dit geskryf in Solomons-Manuel se kenmerkende komiese styl.
Solomons-Manuel het self stories om te vertel. Sy beskryf haarself “as ’n boorling van Vlottenburg”. Sy het op skool drama gedoen, maar sy het eers op 28, na haar ouma se dood, besef dat sy haar passie moet volg.
“Toe was ek heeltemal rebels,” vertel Solomons-Manuel, “ek wou nog altyd drama studeer het.”
Sy het toe by die Breughel-teater in Cloetesville aangesluit. Daar het sy haar plek gevind en iets belangrik geleer oor haarself.
“Ek het nooit gedink ek is snaaks nie, altans mense dink ek is snaaks. Ek is ernstig, dan lag hulle. Soms laat ek mense huil, maar ek laat hulle meer lag.”
Solomons-Manuel was ’n student van Benoni Dehaeck, ’n bekende akteur, dramaturg en dramadosent aan die Universiteit van Stellenbosch wat in 2017 oorlede is. Sy sê sy het alles wat sy kon by hom geleer.
“Hy het die beste in my uitgebring,” sê Solomons-Manuel.
Al het sy eers later in haar lewe begin met drama, is Solomons-Manuel nie spyt daaroor nie.
“Omdat ek geweet het wat ek wou doen, het ek dit ernstig opgeneem,” vertel sy.
Vanjaar is dit tien jaar sedert Solomons-Manuel besluit het om drama te gaan studeer.
Die karakter Mathilda is baie na aan Solomons-Manuel se hart. Sy is geïnspireer deur al die sterk vroue in haar eie lewe na wie sy opkyk. Alles wat sy geleer het by hierdie vroue, wat sy beskryf as “sterk en biddende vrouens”, word vasgevang in Mathilda.
“Ek voel almal moet ’n Mathilda-produksie kyk, want dit is goed vir enige persoon,”
Solomons-Manuel vertel oor die ondervinding tydens die begrafnis, “So hartseer soos wat sy dood was, was die drama oor briyani en ’n koeksister nóg meer dramaties!”
Nadat sy vir mense begin vertel het oor die drama wat by die begrafnis plaasgevind het, het sy begin hoor van soortgelyke stories. Van die stories het Solomons-Manuel gehoor terwyl sy as ’n taxi-bestuurder in Vlottenburg gewerk het. In haar familie bestuur almal taxi’s.
Solomons-Manuel verduidelik dat haar produksies gaan oor familieverhoudings, die liefde wat tussen mense in die gemeenskap moet wees en tevrede wees met die eenvoudige dinge in die lewe.
“Mathilda hammer baie dat dit die eenvoudige dinge in die lewe is wat saak maak,” vertel Solomons-Manuel.
Woensdagaand was die tweede (en laaste) vertoning van Die Begrafnis by die Woordfees. Die gehoor het geskaterlag van die oomblik wat Mathilda op die verhoog gestap het tot die oomblik wat sy afgestap het.
Die span betrokke by die produksie bestaan uit Timothy Swarts, wat die klavier gespeel het, asook Heinrich Isaacs wat die saksofoon gespeel het.
’n Lid van die gehoor, Adeline Jantjies, was nog besig om ná die vertoning te lag.
“Ek het nog nooit so gelag by ’n begrafnis nie,” sê Jantjies terwyl sy breed glimlag.
Rhea Myburgh, ook ’n gehoorlid, het al ’n paar produksies by die Woordfees gekyk, maar sy het Die Begrafnis sover die meeste geniet.
“Dit was vir my ’n hoogtepunt,” vertel Myburgh na die vertoning.